SuperSport Schools Plus

Van Zyl, Kok se agtsteman-stryd kan bepalend wees in Mbombela

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-04-24 Tags: , , , , ,

Waterkloof vs Menlopark
FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

In 2024 was dit hierdie kragmeting wat Hoërskool Waterkloof se Blou-golf van stapel gestuur en uitgeloop het op ‘n uitmuntende SDC Noordvaal Cup-veldtog, waarin hy tot in die eindstryd onoorwonne was.

Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Eerskomende Saterdag kom die Klofies weer teen ‘n gedugte Hoërskool Nelspruit te staan in hul openingstryd van die reeks. Vanjaar pak hulle egter die tog Laeveld toe aan om die Rhinos in Mbombela die stryd aan te sê. Die Nellies het verlede seisoen gewys dat hulle ‘n harde neut is om te kraak in hul agterplaas.

Vanjaar se kaptein, Vaughn van Zyl, het deel uitgemaak van twee soet seges, oor die verdedigende kampioen, Hoërskool Garsfontein (30-29), en Hoërskool Monument (21-12), in verlede jaar se reeks wat aangedui het hoe gedug die Nellies op Rhino-park kan wees. Van Zyl (agtsteman) het tot dusver vanjaar van voor gelei, vernaam in die onlangse seges oor Welkom Gimnasium (34-31) en Maritzburg College (22-13) by die St John’s College Easter Festival.

Skrumskakel, Liam Pringle, het egter die kollig oor die Paasnaweek met sy stewel gesteel. Pringle se visier is duidelik ingestel op die vooraand van Nelspruit se eerste Noordvaal-kragmeting, en kan waarskynlik ‘n deurslaggewende faktor wees. Boonop beleef sy skakelmaat op losskakel, John Duncan, ‘n uithalerseisoen tot dusver, wat vir ‘n opwindende stryd tussen die twee agterhoedes kan sorg.

Old School

Die Klofies se laaste wedstryd was in die eindstryd van die NWU Sportreeks waar hulle met ‘n gelykopuitslag van 23-23 teen Hoërskool Menlopark tevrede moes wees. Daarna het hulle kans gehad om te herstel, ná onder andere ‘n reeks strawwe kragmetings by die jaarlikse Noord/Suid-toernooi.

Waterkloof-agtsteman, Marko Kok, se terugkeer na die beginspan het die Pretorianers ‘n beduidende hupstoot gegee en sy tweestryd met Van Zyl, op sowel die aanval as verdediging, kan straks die hoogtepunt van die naweek se kragmeting wees.

Agterlangs behoort losskakel en kaptein, Ronan Bastiaanse, weer die kitaar vir die Klofies te slaan. Hy sal egter op Kok en slot, Heinrich Naudé, staatmaak om genoegsame voorvoetbal te verseker, waarmee hy vir die snellers op vleuel, Jaiden Badenhorst en Gustav Mienie, die nodige aanvalsgeleenthede kan skep.

Die spanne: 

Hoërskool Nelspruit t. Waterkloof om 12:30 in Mbombela

Hoërskool Nelspruit: 15 Jean Erasmus, 14 Jordan Pretorius, 13 Ruben Greeff, 12 Rian Botha, 11 Tinyiko Silubane, 10 John Duncan, 9 Liam Pringle, 8 Vaughn van Zyl, 7 Werno Heyns, 6 Prosper Chiloane, 5 André Smit, 4 Ethan Esterhuyzen, 3 Gert Cloete, 2 D’Angelo Roberts, 1 Lindani Ndlela.

Waterkloof (moontlik): 15 Meyer Pretorius, 14 Jaiden Badenhorst, 13 Danré Tustin, 12 Aiden Bester, 11 Gustav Mienie, 10 Ronan Bastiaanse, 9 Zack Jordaan, 8 Marko Kok, 7 Dawid Prinsloo, 6 Divan Botha, 5 Heinrich Naudé, 4 Phillip Mans, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Alexander Elliot.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.