SuperSport Schools Plus

Van Eck-driekuns breek 24-jaar derby-droogte teen Monnas

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-05-24 Tags: , , , , , , ,

ARMAND VAN ECK, agsteman van Hoërskool Noordheuwel, rank hoog om die bal uit die lug te pluk kort voor sy tweede van drie drieë. FOTO: Marius Nortjé.

KRUGERSDORP – Armand van Eck, Hoërskool Noordheuwel se vlieënde agsteman, het drie keer agter die doellyn gaan draai om die Blues tot ‘n sege van 43-27, hul eerste in 24 jaar oor Hoërskool Monument, aan te spoor.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Dit was van meet af aan duidelik dat die Nories, op hul tuisveld, nie van plan was om die besoekende Wit Bulle enigsins kans te gee om in die wedstryd te kom nie. Die tuisspan was van die eerste afskop reeds in hoogste versnelling.

Dit was ook kort daarna dat Van Eck vir die eerste van sy driekuns aan drieë deurgestorm het. Noordheuwel het die voet op die versneller gehou met ‘n drie deur regtervleuel, Aidan Bester, gevolg deur Van Eck se tweede, en straks die drie van die dag.

Die breker-losvoorspeler het die kollig in Krugersdorp gesteel met ‘n uitstekende stukkie opvolgwerk vanaf die afskop om die Monnas-verdediging onkant te betrap en sy span ‘n voorsprong van 21-8 met die omdraaislag te bied.

Die Wit Bulle het egter, soos verwag, nie gaan lê nie, met hul buksie op skrumskakel, Evan Bernhardi, wat uitmuntend was met sy sluipaanvalle vanaf skrums en rondom die afbreekpunte. Dit was juis een só ‘n skitterlopie wat die besoekers in staat gestel het om terug te slaan met ‘n vyfpunter deur oopkantflank, Caleb Sparks. Voorlangs het  vaskopstut, Juandré Marais, voor hy met ‘n ernstige besering van die veld is, ook ‘n barshou gespeel.

Die gevaarligte het egter verwoed begin flikker toe die Blues se haker, Clinton Agu, soos ‘n senter op loop gesit en deur die verdediging gevleg het om die momentum met mening terug te swaai in sy span se guns. Jeandré Uithaler was weer sy gevaarlike self op heelagter en het ook 11 punte met die stewel bygedra.

Loskopstut en kaptein, Skuttie Bezuidenhout, het uiteindelik heel gepas oorgebeur om die uitklophou toe te dien en die feesvieringe op die “Heuwel” in te lui.

In Boksburg het dit Helpmekaar Kollege ‘n rukkie geneem om stoom op te bou, maar hy kon uiteindelik vir Hoërskool Dr EG Jansen met 35-15 verslaan. Dit het soos verwag ‘n fisieke stryd afgegee, met die Jansies wat met tye uitsonderlike rugby opgedis en selfs in ‘n stadium met 15-14 voorgeloop het. Hul agterste driehoek, met die indrukwekkende heelagter, Deshean Pietersen, aan die spits, het aldrie die tuisspan se drieë gedruk.

Dit was egter nie genoeg om ‘n goed afgeronde aanslag deur die besoekers van Johannesburg af te weer nie. Voorlangs was het agsteman Llewelyn Vermaak, en oopkantflank, Zaiden Krige, die pap dik aangemaak, wat vir losskakel, Wian Storm, die geleentheid gebied om die Helpies se agterhoede op die voorvoet te plaas en self ook deur te wals vir ‘n drie.

Puntemakers: 

Noordheuwel 43 (21) – Drieë: Armand van Eck (3), Aiden Bester, Jayden Steyn, Skuttie Bezuidenhout. Doelskoppe: Jeandré Uithaler (4), Pablo Moeketsane. Strafdoel: Uithaler. Monument 27 (8) – Drieë: Loghan Langeveldt (2), Caleb Sparks, 14 Jason Joubert. Doelskoppe: Cameron Kourie (2). Strafdoel: Kourie.

Helpmekaar Kollege 35 (14) – Drieë: Wian Storm, Ty Ax, Llewelyn Vermaak, Zaiden Krige, Diandro Botha. Doelskoppe: Storm (5). EG Jansen 15 (0) – Drieë: Deshean Pietersen, Otlatleng Zulu, Jordan van der Westhuizen.

Ander spanne: 

o.16: Noordheuwel 26; Monument 23; Helpmekaar Kollege 48, EG Jansen 14.

o.15: Noordheuwel 22, Monument 18; Helpmekaar 36, EG Jansen 10.

o.14: Monument 14, Noordheuwel 12; Helpmekaar 31, EG Jansen 10.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.