SuperSport Schools Plus

Van der Westhuizen, Botha laat Jansies jubel in Pretoria

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-06-08 Tags: , , , , , , ,

JORDAN VAN DER WESTHUIZEN, Hoërskool Dr EG Jansen se linkervleuel, bars deur teen Hoërskool Waterkloof, Saterdag in Pretoria. FOTO: Tap Light Edits.

Die “Dokter van Boksburg” het Saterdagmiddag vir ‘n opskudding gesorg deur die bordjies te verhang teen Hoërskool Waterkloof, op sy tuisveld in Pretoria.

Herleef al die Beker aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Jordan van der Westhuizen het die Jansie-jolyt van stapel gestuur toe hy kort voor die eindfluitjie met een van sy talle intimiderende lopies oor die doellyn gebars het om Hoërskool Dr EG Jansen in posisie te plaas om die naelskraapse sege oor die Klofies te behaal.

Losskakel, Dian Botha, het die oorwinning van 22-20 beklink met die doelskop wat hy suiwer tussen die pale deurgejaag het. Dit was die Jansies se eerste sege oor die Blou-tornado sedert 2023 .

Van der Westhuizen was een van die Jansies se groot uitblinkers. Die linkervleuel, ook ‘n kranige 110 m-hekkiesatleet, het by meer as een geleentheid sy vaart en fisiekheid uitgestal om die Klofie-verdedigers te laat bontstaan.

Die Jansies se kaptein en hoofseun, Marco Ventura, het ook gewys hoekom hy volgende maand vir die Valke se Cravenweekspan sal uitdraf. Ventura het weereens gewoeker, was prominent met die bal in hand en is uitstekend bygestaan deuroopkantflank, Craig Lightfoot, wat nogmaals ‘n onvermoeide vertoning van 70 minute gelewer het.

Lightfoot se tweestryd met die Klofies se kantman, Divan Botha, was ongetwyfeld een van die hoogtepunte van die kragmeting. Botha, self ‘n werksesel in die los, het die Jansies deurentyd besig gehou, is met een van sy span se drieë beloon en ywerig bygestaan deur agsteman, Marko Kok.

Ongedwonge foute het die tuisspan egter in die steek gelaat en daarvan weerhou om ritme te vind.

In Rustenburg het die Hoërskool Rustenburg so hittete ook vir ‘n reuse opskudding teen Hoërskool Garsfontein gesorg.

Dit was egter vir die soveelste keer die verdedigende kampioen se “skrumpet-brigade”, Drewyn Baron en Junaide Stuart, wat die kastaiings uit die vuur gekrap het vir die Bere om in die doodsnikke met 33-27 te seëvier. Baron was op sy gevaarlikste en het die Rusties twee keer met sy venynige voetwerk en vaart geklop vir drieë, waarvan een die uitklophou was. Op die ander vleuel het Stuart ook sy dansskoene aangehad en self ‘n keer deurgewals om agter die tuisspan se doellyn te gaan draai.

Benewens Baron, was Rustenburg se skrumskakel, Adriano George, die beste speler op die veld. Hy het uitgetroon met sy flink diens agter ‘n pak wat hard gewerk het en het die Bere telkens aan die raai gehou sy breekslae om die afbreekpunte. Een só ‘n lopie het op ‘n drie tussen die pale uitgeloop.

Cravenweek-heelagter, Ayden Willemse, nog in Graad 11, het sy indrukwekkende spelpeil van die afgelope ruk voortgesit, terwyl hy ook twee van sy span se drie drieë verdoel en met twee strafdoele geslaag het om die Rusties in ‘n stadium met 27-12 te laat voorloop.

Puntemakers: 

EG Jansen 22 (15) – Drieë: Marco Ventura, Deveroax Weideman, Jordan van der Westhuizen. Doelskoppe: Dian Botha (2). Strafdoel: Botha. Waterkloof 20 (12) – Drieë: Ruan Jacobs, Divan Botha, Strafdrie. Strafdoel: Ronan Bastiaanse.

Garsfontein 33 (20) – Drieë: Drewyn Baron (2), Junaide Stuart, JP Pieterse, Justin blom. Doelskoppe: Joshua Gouws (4). Hoërskool Rustenburg 27 (12) – Drieë: Adriano George, Hendré Robinson, Zack Swanepoel. Doelskoppe: Ayden Willemse (3), Swanepoel. Strafdoel: Willemse.

Ander spanne: 

o.16: Waterkloof 41, EG Jansen 29; Rustenburg 28, Garsfontein 22.

o.15: Waterkloof 38, EG Jansen 33; Garsfontein 22, Rustenburg 20.

o.14: Waterkloof 27, EG Jansen 24; Garsfontein 40, Rustenburg 22.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.