Van der Walt, Groenewald verseker dat Klofies en Affies onoorwonne bly

Hoërskool Waterkloof se Rico van der Walt en Ruben Groenewald van Afrikaanse Hoër Seunskool het die opwinding vir die komende stryd tussen dié twee tradisionele aartsvyande met ‘n paar vlakke laat styg, met puik individuele vertonings die afgelope naweek in die Titans Platinum Liga.
Lees en herleef al die Titans Platinum Liga-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Klofies en Affies se onderskeie seges beteken nie alleen dat hulle die enigste onoorwonne spanne onder die “groot vier” is nie, maar ook die enigste spanne is wat nog nie in vanjaar se liga verloor het nie.
Van der Walt se kolf was weer witwarm. Die Klofies se paaltjiewagter het sy tweede honderdtal vir die jaar aangeteken om as speler van die wedstryd in sy span se sege met 199 lopies oor Hoërskool Garsfontein aangewys te word.
Van der Walt het uit die staanspoor blitsig gekolf. Die 82 aflewerings wat hy trotseer het, het 10 sesse en sewe viere opgelewer voordat hy uiteindelik vir 132 lopies terug pawiljoen toe gestuur is. Dit was egter nie die einde van ‘n moeilike 50 beurte vir die Ysbere nie. Jaydon Blom het ook sy pond vleis tafel toe gebring. Blom wat oor die laaste jaar of wat in ‘n uitstekende veelsydige speler ontwikkel het, is met 77 lopies, nie uit nie, beloon vir ‘n doeltreffende beurt as die Klofies se sewende kolwer.
Die Garsies se boulers was hoegenaamd nie swak nie, dit was bloot ‘n geval van Waterkloof se uitstaande kolfwerk wat eenvoudig té goed was.
Xander Venter was die Ysbere se beste bouler op die dag. Hy het aan die einde van sy toegelate 10 beurte met syfers van 3/29 gespog, met 42 leë balle op die koop toe. Dit het egter nie vir Waterkloof gestuit om ‘n reuse totaal van 310/7 in die toegelate 50 beurte op te stapel nie.
Die Ysbere se kolfwerk het hulle egter wel in die steek gelaat. AJ de Villiers het dié keer sy kolf vir die bal verruil en die meeste skade aangerig. Sy 4/19, tesame met die linkerhandse draaier, Rivan Booysen, se 3/20, het die Garsies geknou. Die ineenstorting van sewe paaaltjies vir slegs 39 lopies het beteken dat hulle uiteindelik vir ‘n teleurstellende 111 uitgeboender is.
Elders in Pretoria, het Ruben Groenewald Sondag vir Die Hoërskool Menlopark laat les opsê. Dit was sy knaende en akkurate swaaiboulwerk wat die Parkies aanvanklik onsenu het. Soos gewoontlik het Groenwald die bal in die middelste gedeelte van die beurt geneem, en dit laat tel. Hy het in slegs vyf beurte vier paaltjies vir net 25 lopies laat kantel.
Groenwald is deur Nico Loggenberg (2/33) bygestaan om die besoekers tot 199 te beperk. Dié telling was grotendeels te danke aan Jan-Willem Pienaar wat die 50 merk verbygesteek het. Hys is uiteindelik vir 51 lopies deur Vihan Pretorius uitgehardloop.
Daarna het Groenwald die wilgerlat ook laat gesels. In die jaagtog van presies 200 lopies het hy slegs 50 balle trotseer, maar steeds 77 lopies gemoker.
Die veelsydige middelordekolwer het meestal in sesse te werk gegaan en sewe daarvan oor die grens laat seil, terwyl hy ook vyf viere gemoker het. Boonop was hy teen die tyd dat wenlopies behaal is, steeds nie uit nie. Pretorius het goed gelyk vir sy 42 lopies, terwyl jongeling Cristian Linde 30 lopies tot Affies se vyf-paaltjie sege bygedra het.
Beknopte telkaarte:
Waterkloof 310/7 (Rico van der Walt 132, Jaydon Blom 77*, AJ de Villiers 29, Franco Schmidt 23; Xander Venter 3/39, Wikus du Preez 2/37); Garsfontein 111 (Reuben van Zyl 20, Wikus du Preez 20; AJ de Villiers 4/19, Rivan Booysen 3/20, Ricardo Crous 2/20). Waterkloof wen met 199 lopies.
Menlopark 199 (Jan-Willem Pienaar 51, Juan Lombard 37, Dian van Zyl 37; Ruben Groenewald 4/25, Nico Loggenberg 2/33); Affies 203/5 (Ruben Groenewald 77*, Vihan Pretorius 42, Christian Linde 30; Jordan van Exk 3/54). Affies wen met vyf paaltjies.
- St David’s topples Grey High in super over finish - 2025-10-19
- Waterkloof exceptional in regaining Wildeklawer T20 title - 2025-10-19
- As tight as it gets, but Northwood perseveres over Parkies - 2025-10-17