SuperSport Schools Plus

Van Biljon skitter vir Sentraal

By Willem Louw , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2024-02-04 Tags: , , ,

Pieter van Biljon, Sentraal (Foto verskaf)

Pieter van Biljon kon Saterdag vir Sentraal tot ‘n skitterende sege oor Hoërskool Sasolburg aanvoer in Bloemfontein.

Beleef weer al die aksie op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die wedstryd

Die Tralie-kolwers het aanvanklik swaar getrek met Meyer Pretorius (4/20) en Nathan Swanepoel (3/41) aan die spits van die besoekers se boulaanval.

Van Biljon se onoorwonne beurt van 58 lopies, vanaf slegs 36 balle, het egter die tuisspan se totaal op 162 te staan gebring, voordat die laaste paaltjie geval het.

Sasolburg het na 10 beurte gemaklik gelyk op 74/2, maar Van Biljon het weereens die leisels oorgeneem vir die Tralies om van vyf van die besoekers se kolwers ontslae te raak en slegs 32 lopies af te staan.

Die ander vyf Sentraal-boulers het ook elkeen ‘n paaltjie bygedra om seker te maak die besoekers nie hul mikpunt behaal nie.

Volgende naweek pak die Bloemfonteiners vir Welkom Gimnasium, terwyl Sasolburg nog ‘n span uit die Rosestad aandurf waneer hulle vir Jim Fouché ontvang.

Welkom Gimnasium het ook ‘n indrukwekkende sege oor Voortrekker behaal.

Kayden Barrows het 100 lopies gemoker en Donovan Mouton het ses paaltjies tot sy naam gevoeg om aan die Gimmies ‘n gemaklike oorwinning op hul tuisveld te besorg.

Fichardtpark se staatmaker, Stian Kruger (5/34), het Saterdag weer uitgeblink met sy boulwerk teen Hoërskool Trio in Kroonstad.

Hy en Devanté Claasens (4/31) kon gesamentlik van nege van die tuisspan se kolwers ontslae raak om hulle tot 116 te perk, maar die Trio-boulers kon genoeg doen om daardie telling te verdedig.

Bokang Mohasa was aan die voorpunt van die aanval en het vier paaltjies laat kantel om te help om die besoekers se aanslag op 89 af te weer.

Beknopte telkaarte:

Sentraal 162 (Pieter van Biljon 58*, Ekstras 40, JP Jonker 20; Meyer Pretorius 4/20, Nathan Swanepoel 3/41). Hoërskool Sasolburg 145 (Ekstras 29, Wiandré Singleton 26, Meyer Pretorius 24, Liam Singleton 21; Pieter van Biljon 5/32). Sentraal wen met 17 lopies.

Jim Fouché 118 (Ekstras 28, Cobus Wilken 26, Shermi Paulsen 22; Diego de Sousa 6/20, Onalenna Molelale 2/29). St Dominic’s College 33 (Ekstras 21; Lian Theron 4/9, Marco de Lange 2/12). Jim Fouché wen met 85 lopies.

Voortrekker 188 (Juan Theunissen 60, JD van Wyk 25, Ekstras 24, Craig Mann 23; Donovan Mouton 6/29, FJ Labuschagne 2/28). Welkom Gimnasium 191/2 (Kayden Barrows 100, Dean Katzin 56; Juan Theunissen 1/31). Welkom Gimnasium wen met agt paaltjies.

Witteberg 135 (Ekstras 28, Zander Fourie 20; Janco Maass 4/33, GJ Wessels 2/25, Hendro Boardman 2/29). Goudveld 138/5 (Ruben Crous 48*, Munro Heiberg 33; Zander Fourie 3/30). Goudveld wen met vyf paaltjies.

Hoërskool Trio 116 (Danie Fourie 28, Thuto Kekane 21, Miguel Menino 20; Stian Kruger 5/34, Devanté Claasens 4/31). Fichardtpark 89 (Stian Kruger 25; Bokang Mohasa 4/6, Myburg Jacobs 3/29, Gabriel Mochabela 2/18). Hoërskool Trio wen met 27 lopies.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.