Valke en Lammergeiers in eindstryd van VKB-week
REITZ. – Die Valke en Noord-Natal sal mekaar Vrydag in die eindstryd van die 17de VKB-week hier op Piet Geyer-park pak.
Die Valke het nog ’n kragtige vertoning Dinsdag gelewer deur Suid-Natal met 35-10 te verslaan. Die span se kantman, Marco Roets het ’n driekuns aan drieë behaal.
Die vaskopstut, Broche Re, het egter die meeste met sy lopies beïndruk as hy die bal onder die arm vasgeknyp het.
Die Valke is die verdedigende kampioen, terwyl Noord-Natal se Lammergeiers in 1999 en 2009 die titel verower het.
Die Vrystaatse Kiewiete het nie ’n antwoord op die fisieke spel van die Lammergeiers gehad nie. Veral die buitesenter Andile Ndlovu, flank JD Earle en Francois de Klerk het met hulle spel sleutelrolle in die span van Noord-Natal se sege van 38-17 gespeel.
Die Kiewiete se senter, Vlam Groenewald, het twee puik drieë vir sy span gedruk.
Die eerste van ’n steekskoppie deur homself kort na Earle weens ’n laatvat deur die skeidsregter, AJ Jacobs, koelkas toe gestuur is. Die Kiewiete se flank, Fanie Griessel het ook moedig probeer.
Die tweede dag was ’n dag vir die losskakels. WJ Crous (Sandveld), Stefan Nel (Suid-Vrystaat) Jeandré Nel (Valke) en Conrad Engelbrecht (Lynx-Suid) het almal blink vertonings vir hulle onderskeie spanne gelewer.
Crous en Nel het die meeste beïndruk. Crous het vir die tweede agtereenvolgende dag met die toekenning as Speler van die Wedstryd weggestap.
Hy was weer in die kol met sy skopskoen en het 17 punte tot sy span se oorwinning van 40-28 oor die Dubai Exiles bygedra. Hy het ook een van sy span se drieë gedruk na ’n skitterende breekslag.
Nel het glo reeds aanbiedinge tydens die week gekry om sy loopbaan volgende jaar by die Universiteit van die Vrystaat of die Sharks se akademie met ’n volle beurs voort te sit.
Hy en sy skakelmaat, Ruan Goosen, was uitmuntend in die gelykop-uitslag van 19-elk tussen Suid-Vrystaat en die Luiperds.
Laasgenoemde se voorrymanne, Radi Burger en Ockie Ackerman, is albei ysters. Engelbrecht se skopstewel het met sy drie strafdoele en doelskop ’n waardevolle rol in Lynx-Suid se oorwinning van 21-17 oor die Rooikatte vertolk.
Die skopskoen van Oos-Vrystaat se skrumskakel, Keagan Christiaans, was die verskil tussen die twee spanne in sy span se sege van 14-5 oor die Cobras. Hy het met drie strafdoele geslaag.





