Valia vier Beker-toetrede met Kazambo-driekuns


Daniel Kazambo, Hoërskool Transvalia se steelkantflank, was die hoofkarakter in sy span se sprokie wat oor 70 minute op sy tuisveld in Vanderbijlpark afgespeel het, toe Valia vir Hoërskool Dr EG Jansen met 39-24 verslaan het.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Kazambo, in sy tweede seisoen van eerstespan-rugby, en reeds een van Valia se groot uitblinkers as Graad 11 in 2024, het sy gehalte Saterdag uitgestal met ‘n besonderse driekuns aan drieë.
Die kantman moes vir elkeen van sy drie drieë ‘n tikkie briljante individuele spel optower. Vir die tweede, het hy byvoorbeeld tussen die pale oorgebars na ‘n skitterende stukkie opvolgwerk vanaf ‘n afskop.
Kazambo was egter nie ál ‘n uitblinker vir Valia nie. Haker, Wihandré Kruger, het gewoel in die vastelos om die lewe vir die besoekers van Boksburg moeilik te maak, terwyl losskakel, Jay-Dee Maree, agterlangs die toutjies meesterlik getrek het. Hoewel nie sy beste vertoning vanaf die skopkegel nie, was Maree se taktiese skopwerk uit die boonste rakke, en het hy goed versprei om gevaarmanne soos regtervleuel, Dihan Crause, op die aanval te plaas.
Vir die besoekers het niemand beter vertoon as heelagter, Deshean Pietersen, nie. Pietersen, welbekend in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling vir sy dodelike teenaanvalle, het die tuisspan goed besig gehou wanneer hy met die bal op loop gesit het. Voorlangs het haker en kaptein, Marco Ventura, en oopkantflank, Craig Lightfoot, moedig probeer om momentum te herwin, maar dit was oplaas tevergeefs teen Kazambo en Kie.
In Pretoria kon Die Hoërskool Menlopark nie die Waterkloof-vloek van die laaste twee jaar breek nie, toe hulle met 19-27 die knie moes buig teen die Klofies. Dit was egter nie één van die twee spanne se beste vertoning vanjaar nie. Die kragmeting het wel sy oomblikke gehad, vernaam wanneer die Parkies se buitsenter, Leskin Samuels, die bal in die hande gekry het.
Vir die Blou Tornado, het sy pak voorlangs die grondslag gelê. Ál drie sy drieë is deur voorspelers gedruk, met haker, Ruan Jacobs, se wendrie straks die aanskoulikste van die dag. Vaskopstut, Jedri Swart, lyk ook weer soos die Jedri van ouds en het moue opgerol in die loopgraafoorlogvoering voorlangs.
Ethan Lourens, binnesenter van Helpmekaar Kollege, het die voortou geneem in sy span se sege van 22-13 oor Hoërskool Nelspruit in Mbombela. Lourens het, nes ‘n week vantevore teen Hoërskool Noordheuwel, die middeveld telkens aan flarde geruk en is uiteindelik as speler van die wedstryd aangewys.
Die Nellies, as ‘n eenheid, was uiters fisiek op die verdediging. Die besoekers van Johannesburg het vir seker gevoel wanneer hulle geduik word, maar dit was helaas nie genoeg om die Bruin-golf te stuit nie.
Puntemakers:
Transvalia 39 (17) – Drieë: Daniel Kazambo (3), Christiaan Liebenberg, Dihan Crause, Declan Hattingh. Doelskoppe: Jay-Dee Maree (3). Strafdoel: Maree. EG Jansen 24 (7) – Drieë: Ruan Rossouw, Deshean Pietersen, Marco Ventura, Strafdrie. Doelskop: Juan van Aswegen.
Waterkloof 27 (3) – Drieë: Jedri Swart, Dawid Prinsloo, Ruan Jacobs. Doelskoppe: Ronan Bastiaanse (3). Strafdoele: Bastiaanse (2). Menlopark 19 (14) – Drieë: Leskin Samuels (2), Declan Pelser. Doelskoppe: Andru Keun (2).
Helpmekaar Kollege 22 (12) – Drieë: Ethan Lourens, Shaye Lourens, Xander van Niekerk. Doelskoppe: Wian Storm (2). Strafdoel: Storm. Hoërskool Nelspruit 13 (6) – Drie: Tinyiko Silubane. Doelskop: Liam Pringle. Strafdoele: Pringle (2).
Ander spanne:
o.16: EG Jansen 33, Transvalia 21; Menlopark 26, Waterkloof 24; Helpmekaar 35, Nelspruit 7.
o.15: Transvalia 21, EG Jansen 17; Menlopark 35, Waterkloof 22; Nelspruit 14, Helpmekaar 10.
o.14: Transvalia 24, EG Jansen 12; Helpmekaar 59, Nelspruit 7.