SuperSport Schools Plus

Uitslae – Dag 1 – Wildeklawer

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-04-29 Tags: ,

NewsGGlenwoodGrey-kollege het gister sonder veel fieterjasies en truuks vir Boland Landbou op die eerste dag van die Wildeklawer-toernooi in Kimberley met 49-8 slae gegee. 

Die span van Bloemfontein was klinies in sy vertoning en het teen rustyd met 21-8 voorgeloop. Die span se losskakel, Christopher Schreuder, het 24 punte tot sy span se sege bygedra. Die losskakel het ‘n uitmuntende vertoning gelewer en sy agterhoede seepglad weggestuur. 

Grey se fisieke spel by die afbreekpunte asook op verdediging het Boland Landbou op die agtervoet gedwing. 

Paul Roos Gimnasium het die Afrikaanse Hoër Seunskool danksy taktiese skopwerk met 21-14 in die hoofwedstryd van gister se Wildeklawer-toernooi in Kimberley uitoorlê. Die span van die Eikestad het teen lemoentyd ‘n voorsprong van 13-7 geniet.

Dit was veral die heelagter, Colia Louis, asook die losskakel, Juan Mostert, het Affies heeltyd met taktiese skopwerk in hulle helfte vasgedruk. Die wenspan se haker, Jean-Jacques Kotze, het voorlangs ingeklim.

Affies se skrumskakel, Johan Mulder, verdien vermelding vir sy flinke diens agter die oond. Die kragmeting was die 21 wedstryde tussen die twee spanne en dié sege was Paul Roos se tiende oor sy teenstanders vanuit die Jakarandastad.

Boland Landbou se heelagter, Duren Hoffman, het ‘n hele paar belowende lopies ingekry, maar Grey se haastige driekwarte het hom telkemale betyds platgetrek. 

Hoewel dit nooit gelyk het asof Paarl Gimnasium teen Waterkloof die knie sou buig nie, vlei die eindtelling van 26-7 die span van die Paarl. Klofies het deurgans moedig probeer en die hele span verdien ’n klop op die skouer vir hoe rotsvas sy verdediging was. NewsGGiovanSnyman

Gimmies het na 25 minute se spel in die wedstryd die eerste punte aangeteken toe sy agtsteman, Henco Martins, ’n aangee van Klofies wat op die aanval was onderskep het en ongeveer 70 meter vir ’n drie genael het. Dit was Martins se tiende drie dié seisoen. 

Gimmies het in die tweede helfte na ‘n hoër rat oorgeskakel en dit was veral die kaptein en heelagter, Muller du Plessis, wat met sy dartellopies vir Klofies probleme besorg het. Gimmies het wel meeste van sy eerstekeuse spelers gerus en hulle eers speelkans laat in die tweede helfte gegee. Gimmies kom more teen Grey-kollege in sekerlik die wedstryd van vanjaar se toernooi te staan. 

Die haker, Chris Rossouw, seun van die gewese Bok-haker met dieselfde naam is een van die spelers wat eers in die tweede helfte speelkans gekry het. Sy neef, Jean-Jacques Rossouw, het die wedstryd op slot begin. Jean-Jacques is die seun van die voormalige Transvaalse losvoorspeler, Charles Rossouw. 

Die afgelope twee seisoene se voorste skolespan in Suid-Afrika, Hoër Jongenskool Paarl, het sy 43ste agtereenvolgende sege in dié land behaal deur Selborne College van Oos-Londen met 33-16 te verslaan. 

Die span van Oos-Londen het teen die omdraaislag ’n voorsprong van 16-14 geniet, maar in die tweede helfte het Boishaai se kaptein en agtsteman, Francke Horn, twee keer oor die doellyn gestorm om sy span in beheer te plaas. Horn se pa, Francois, het op sy dag vir Boland se seniorspan uitgedraf en hou steeds die record vir die meeste punte in ’n seisoen met die 355 wat hy vir die Wynboere in 1996 aangeteken het. 

Welkom-Gimnasium het in ’n indrukwekkende vertoning HTS Middelburg se Rooi Bulle in osse verander. Die span van Welkom met sy skitterende heelagter, Andrew Kota, aan die spits het die Rooi Bulle met 48-10 afgeslag. 

NewsGKeithvanAswegenKota het vanuit die laaste vesting verwoesting gesaai. Hy het waarskynlik die aanvoorwerk vir die beste drie van die dag gedoen toe hy vanuit sy eie kwartgebied ’n teenaanval geloots het en meer as ’n handvol verdedigers gesystap en met vaart geklop het. Hy het daarna in HTS Middelburg se kwartgebied ’n perfekte voetaangee vir die skrumskakel, Georgen Kiewiet, gegee wat die beweging afgerond het. 

Glenwood het vir Garsfontein ‘n rugbyles met 38-12 in die eerste wedstryd op vanjaar se toernooi geleer. Die span se senter Conan le Fleur en vleuel Janus Hendrikz het elk dubbelle driedruk-plesier ervaar. Le Fleur het ’n uitmuntende vertoning gelewer en telke male gapings in Garsies se verdediging gevind.

Stellenberg en EG Jansen van Boksburg het met 24-elk gelykop gespeel in ’n wedstryd wat se uitslag heeltyd in die weegskaap was. Die Jansies se losskakel, Ruben Beytell, het soos gewoontlik die verdediging behoorlik besig gehou en twee keer die doellyn oorgesteek. Dit was egter Jansies se senter, Dylan Schwartz, wat vandag die meeste breebors mag rondloop. Stellenberg se haker, Josh Muller, het behoorlik in die los gewoel. 

Monument van Krugersdorp se losskakel, Jonathan Viljoen, het 20 punte tot sy span se sege van 32-8 oor Oakdale Landbou aangeteken. Hy het twee keer die doellyn oorgesteek asook twee doel en twee strafdoele oorgeklits. 

Outeniqua se Kwaggas is terug op die wenpad danksy die skopskoen van sy losskakel, James Mollentze. Die Kwaggas het Noord-Kaap met 28-21 verslaan. 

Die gasheer, Diamantveld, het sy rieme met 15-36 teen Helpmekaar-kollege van Johannesburg styfgeloop.

Puntemakers: 

Paul Roos Gimnasium 21 (13) – Drieë: Hanro Jacobs, Reagan van der Westhuizen. Doelskop: Colia Louis. Strafdoele: Louis (2), Juan Mostert. Affies 14 (7) – Drieë: Carl Els, Heinrich Bischoff. Doelskoppe: Regardt Roets (2). 

Grey-kollege 49 (21) – Drieë: Richard Kriel, Christopher Schreuder, David Kriel, Ross Braude, Janco van Heyningen, Henk Cilliers. Doelskoppe: Schreuder (5). Strafdoele: Schrteuder (3). Boland Landbou 8 (8) – Drie: Durin Nasson. Strafdoel: Duren Hoffman.

Helpmekaar 36 (29) – Drieë: Tommy van Tonder, Dameon Venter, Jeremy Randell, David Cary, Strafdrie. Doelskoppe: Tristan Oosthuizen (4). Strafdoel: Oosthuizen. Diamantveld 15 (3) – Drieë: Charles Williams, De-an Ackerman. Doelskop: Williams. Strafdoel: Williams.

Paarl Gimnasium 26 (12) – Drieë: Henco Martins, Dederik Glas, Franco Marais, Adriaan Staples. Doelskoppe: Ruben Scholtz (3). Waterkloof 7 (0) – Drie: Giovan Snyman. Doelskop: Ulrich Maritz.

Paarl Boys’ High 33 (14) – Drie: Francke Horn (2), Eric Myburgh, Thaakir Abrahams. Doelskoppe: Sean Mouton (3), Abner van Reenen (2). Strafdoel: Mouton. Selborne College 16 (16) – Drie: Sibabalwe Xamlashe. Doelskop: David Coetzer. Strafdoele: Coetzer (3).

EG Jansen 24 (14) – Drieë: Ruben Beytell (2), Dylan Schwartz, Jonathan O’Neill. Doelskoppe: Schwartz (2). Stellenberg 24 (19) – Drieë: Angelo Davids, AJ Rossouw, Roché Malan, André Hanekom. Doelskoppe: Ryan Brown (2).

Outeniqua 28 (17) – Drieë: Johan Carstens, Braam van Huysteen, Sylvester Hasien. Doelskoppe: James Mollentze (2). Strafdoele: Mollentze (3). Noord-Kaap 21 (0) – Drieë: Conrad van Aswegen, Edrich Brand, Cameron Hufke. Doelskoppe: Hufke (3). 

Monument 32 (13) – Drieë: Jonathan Viljoen (2), Dandre Degenaar, Tumi Mononyane. Doelskoppe: Viljoen (2), Luke Rossouw. Strafdoele: Viljoen (2). Oakdale Landbou 8 (5) – Drie: Marcell Neethling. Strafdoel: Jay-Cee Nel.

Glenwood 38 (26) – Drieë: Conan le Fleur (2), Janus Hendrikz (2), Siyanda Cele, Dylan Pretorius. Doelskoppe: Morné van Rensburg (4). Garsfontein 12 (5) – Drieë: Barry Schoombee, Juandré Buitendag. Doelskop: Barry Schoombee.

Welkom-Gimnasium 48 (20) – Drieë: Keith van Aswegen (2), Dillon Minnaar, Ulrich Stander, Virlyn van Vollenhoven, Georgen Kiewiet, Andrew Kota. Doelskoppe: Kota (5). Strafdoel: Kota. HTS Middelburg 10 (3) – Drie: Henco van Heerden. Doelskop: Morné Sonnekus. Strafdoel: Sonnekus.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.