Tuks-reeks nog kleiner vir 2017
Die Tuks-reeks sal volgende jaar nog kleiner wees met Marais Viljoen van Alberton en Centurion wat hulle aan die reeks onttrek het. Daar sal slegs 13 skole aan volgende jaar se kompetisie deelneem.
Die verdedigende rugbykampioen, Monument van Krugersdorp, sal teen die Hoërskool Pietersburg op 11 Maart in sy eerste wedstryd van die reeks te staan kom. Monnas het in Tjaart van der Walt ‘n nuwe hoof van rugby aangestel in die plek van die legendariese Hans Coetzee. Van der Walt het Garsfontein die afgelope twee seisoene tot kampioen van die Virseker Beeldtrofee gebrei.
Eldoraigne van Pretoria is die ander span wat saam met Monnas en Pietersburg in Groep B ingeloot is. Transvalia, Menlopark en Kemptonpark sal sake in Groep A uitspook. In Groep C is EG Jansen van Boksburg, die Hoërskool Rustenburg en Garsfontein geloot. Die wedstryd tussen Garsies en EG Jansen beloof om een van die hoogtepunte van die groepfase van die kompetisie te wees.
In Groep D is HTS Middelburg, die Hoërskool Nelspruit, Florida en Klerksdorp saam gegooi. Die organiseerders van die reeks sal gewis bekommerd wees oor die getal skole wat die afgelope paar jaar aan die kompetisie onttrek het. Verlede jaar het Ermelo en Vereeniging Gimnasium vir die laaste keer deelgeneem, terwyl Waterkloof ook die vorige jaar sy deelname aan die reeks opgeskort het.
Die kwarteindrondes sal volgende jaar deur die Hoërskool Garsfontein in Pretoria en Hoërskool Nelspruit op 25 Maart aangebied word. Die halfeindstryde word op 22 April in die LC de Villiers-stadion in Pretoria beslis. Die eindstryd sal op dieselfde veld op 6 Mei gespeel word.
Die bepalings is (tuisspanne eerste vermeld):
4 Maart 2017
Transvalia vs. Menlopark
Hoërskool Pietersburg vs. Eldoraigne
Hoërskool Rustenburg vs. EG Jansen
Hoërskool Klerksdorp vs. Florida
7 Maart 2017
Hoërskool Nelspruit vs. HTS Middelburg
11 Maart 2017
Kemptonpark vs. Transvalia
Hoërskool Pietersburg vs. Monument
Hoërskool Rustenburg vs. Garsfontein
Hoërskool Klerksdorp vs. Hoërskool Nelspruit
Florida vs. HTS Middelburg
18 Maart 2017
Menlopark vs. Kemptonpark
Monument vs. Eldoraigne
EG Jansen vs. Garsfontein
HTS Middelburg vs. Hoërskool Klerksdorp
Florida vs. Hoërskool Nelspruit




