SuperSport Schools Plus

Tuis bes, behalwe op die Oos-Rand

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-07-27 Tags: , , , , , , , , , , ,

FOTO: Hoërskool Secunda op Facebook.

Tuisspanne het die eerste naweek, na die vakansie, die botoon gevoer in die SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling, met slegs Hoërskool Die Anker van Brakpan wat ‘n wegsege in Springs kon behaal.

Herleef al die SDC Noordvaal Skild-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

In Secunda het Hoërskool Secunda vir die gevaarlike Hoërskool Montana met 34-19 die loef afgesteek, met losskakel, Alonzo Blackenberg, wat 14 van sy span se 34 punte aangeteken het met vier doelskoppe en twee strafdoele.

Blackenberg het oor die algemeen spel agterlangs uitstekend dikteer, wat sy blitsige agterlyn in staat gestel het om drie van Secunda se vier drieë aan te teken.  Die vierde is gedruk deur loskopstut, Nathan Erasmus, wat voorlangs beïndruk het met sy gewoeker.

Die Monties was duideik nie op hul gevaarlike beste nie, maar heelagter, Marq de Villiers, kon nietemin steeds daarin slaag om uit te blink vir die Pretorianers met ‘n tweekuns aan drieë.

Hoërskool Die Anker het sy toets in die plaaslike derby met Hoërskool Hugenote, in Springs, met vlieënde vaandels geslaag om met 36-21 koning te kraai. Dit het van hom ook die enigste span gemaak wat ‘n sege op die pad kon inpalm, hoewel net sowat 12 km vanaf sy tuisveld in Brakpan.

Linkervleuel, Johnaathan Jordaan, en buitesenter, Arno Krugel, het die die tuisspan laat les opsê met ‘n tweekuns elk, danksy die voorvoetbal wat Die Anker se groot pak bewerkstellig het. Losskakel, Danie Smit, het die besoekers se vyfde drie gedruk, wat beteken dat al vyf drieë deur die agterlyn aangeteken is.

Vir die Hugies het haker, Luan Pretorius, uitgestaan met sy onophoudelike gewoel in die vastelos  en sy harde werk is ook met twee drieë beloon.

Hoërskool Pietersburg het dit twee uit twee vanjaar teen Heidelberg Volskool gemaak, nadat hy die Volkies in Polokwane met 50-22 kafgedraf het. Die Pieties se binnesenter, Siya Mahlangu, en kantman, Juan Jansen van Rensburg, was albei in ‘n vernietigende bui met twee drieë elk. Dit is duidelik hoekom hulle die Limpopo Blou Bulle by die Cravenweek verteenwoordig het.

Tiaan Booysen kon sy 50ste wedstryd vir Hoërskool Lichtenburg behoorlik vier met ‘n sege van 35-24 oor Hoërskool Ben Vorster. Haker, Juan van Rhyn, het die kollig egter by twee geleenthede gesteel om ‘n waardevolle tweekuns vir sy span te behaal. Oopkantflank, MC Shanahan, het ook uithalerspel gelewer wat aan hom die Speler van die Wedstryd-toekenning besorg het.

Puntemakers: 

Hoërskool Secunda 34 (24) – Drieë: Nathan Erasmus, Armand Underhay, Ryan Lottering, Dillon Grundling. Doelskoppe: Alonzo Blackenberg (4). Strafdoele: Blackenberg (2). Montana 19 (12) – Drieë: Marq de Villiers (2), Meindert Meindertsma. Doelskoppe: Rubel Bester (2).

Die Anker 36 (19) – Drieë: Johnathan Jordaan (2), Arno Krugel (2), Danie Smit. Doelskoppe: Edrick Pienaar (3). Hugenote (Springs) 21 (14) – Drieë: Luan Pretorius (2), Christiaan Basson. Doelskoppe: Dylan Nel (2), George Loucas.

Hoërskool Pietersburg 50 (24) – Drieë: Siya Mahlangu (2), Juan Jansen van Vuuren (2), FC Smith, Celliers van der Merwe, Zuhan Labuschagne, Ryno Mienie. Doelskoppe: Mienie (5). Heidelberg Volkskool 22 (12) – Drieë: Henru Coetzer, Klaas Venter, JV Badella, Theuns van der Merwe. Doelskop: Marco Botha.

Hoërskool Lichtenburg 35 – Drieë: Juan van Rhyn (2), Luan Snyman, Kuzi Mupudzi. Doelskoppe: Snyman (3). Strafdoele: Snyman (3)  Ben Vorster 24. 

Ander spanne: 

o.16: Montana 24, Secunda 17; Die Anker 26, Hugenote (Springs) 18; Pietersburg 43, Heidelberg Volkskool 10.

o.15: Montana 36, Secunda 7; Die Anker 41, Hugenote (Springs) 31; Pietersburg 38, Heidelberg Volkskool 0.

o.14: Secunda 22, Montana 21; Die Anker 15, Hugenote (Springs) 10; Heidelberg Volkskool 5, Pietersburg 0.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.