Trio ploeg met Trekkers, terwyl JF bordjies in Rosestad verhang

WELKOM. – Die Hoërskool Trio se agttal het met die Trekkers geploeg in die eindstryd van die Griffon-liga in die HT Pelatona-stadion hier.
Trio van Kroonstad het danksy ‘n oorheersende vertonings deur sy pak voorspelers ‘n geskiedkundige oorwinning van 21-14 oor Voortrekker van Bethlehem behaal.
Wat die sege nog meer merwaardig maak is dat die Trekkers vroeër vanjaar in die liga vir Trio met 20-0 kaf gedraf het. Dit is ook die eerste seisoen sedert Trio sy ontstaan as skool.
Trio het sy ontstaan te danke aan die samesmelting van die Hoërskool Kroonstad (Blouskool) en die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool) in 2021.
Die span van Kroonstad se 130 kilogram Cravenweek-vaskopstut, Kaleb Kriek, was weer aan die voorpunt van sy span se aanslag.
In Bloemfontein het Jim Fouché danksy ‘n rotsvaste vertoning op verdediging vir Sentraal as kampioen van die Vrystaatse A-liga onttroon.
JF het die Tralies met 19-14 getroef om die bordjies in die eindstryd te verhang. Die Bloktruie van Sentraal het vroeër vanjaar JF se harte in die doodsnikke van hul FNB Classic Clash met ‘n sege van 29-26 gebreek.
Vir JF het sy skrumskakel, Jadon Roodt, asook die heelagter, GJ Vos, spel goed dikteer.
Tydens die Groot Interjol in Upington het Duineveld met 26-13 teen die Hoërskool Upington koning gekraai.
Hoewel Noordheuwel die knie met 29-33 teen Monument gebuig het in die laaste ronde van die Noordvaaltrofee se Beker-kompetisie was sy twee bonuspunte genoeg om hom tot in die derde posisie op die puntelys te laat eindig.
Die Nories sal nou in die halfeindronde teen Garsfontein te staan kom, terwyl Monnas gasheer in die ander halfeindstryd vir EG Jansen van Boksburg sal pak.
Monnas se slotpaar, HJ de Beer (kaptein) en Uli van der Westhuizen, het puik vertonings in die sege oor Nories opgedis.
In die Plaat-afdeling het Kempton Park by die agterdeur tot die halfeindronde ingeglip deur die Hoërskool Rustenburg met 32-17 te troef. Kempies sal nou na Mbombela reis om die Hoërskool Nelspruit te pak.
Rusties het sy tuisveldvoordeel vir die halfeindronde weens die nederlaag prys gegee. Hulle sal nou na Middelburg moet reis vir ‘n afspraak met die Hoërskool Middelburg.
Paul Roos Gimnasium en Boland Landbou het met 12-elk gelykop gespeel. Die span van Stellenbosch sal sy spelpeil moet lig indien hy in sy laaste wedstryd van die seisoen teen Grey-kollege ‘n sege wil behaal.
Hierdie artikel het oorspronklik op 14 Augustus 2022 in Rapport verskyn.
Al die uitslae:
NOORDVAAL
Afdeling 1
Beker: Monument 33, Noordheuwel 29; Marais Viljoen 38, HTS Middelburg 36.
Plaat: Hoërskool Middelburg 42, Zwartkop 31; Montana 44, Ben Vorster 34; Kempton Park 32, Hoërskool Rustenburg 17; Hoërskool Nelspruit 29, Transvalia 17.
Skild: Heidelberg Volkskool 24, Eldoraigne 23; Oos-Moot 29, Jeugland 10; Hugenote (Springs) 45, Ligbron 40.
Bowl: Hoërskool Pietersburg 61, Centurion 15; Secunda 31, Hoërskool Alberton 0; Wesvalia 24, Dr. Malan 12; Die Anker 22, Potchefstroom Volkskool 20.
Afdeling 2
Halfeindstryde – Merensky 36, Ellisras 7; Midstream College 23, Frikkie Meyer 18.
Afdeling 3
Halfeindstryde – Die Wilgers 24, Wolmaransstad 20; Vryburg 43, CR Swart 31.
Afdeling 4
Halfeindstryde – Carletonville 43, Eric Louw 14.
Afdeling 5
Halfeindstryde – 5A: Magalies 24, Roodepoort 14; Morgenzon Landbou 22, Hendrina 19. 5B: Koster 29, Schweizer-Reneke 5; Ferdinand Postma 32, Marist Brothers Linmeyer 7.
VRYSTAAT/GRIEKWAS
Jim Fouché 19, Sentraal 14; Hoërskool Trio 21, Voortrekker 14; Bothaville 21, Ficksburg 10; Duineveld 26, Hoërskool Upington 13; Diamantveld 73, Kalahari (Kuruman) 0; Curro Kathu 10, Wildeklawer 10; Warrenton 44, Saul Damon 5.
OOS-KAAP/KWAZULU-NATAL
Glenwood 26, Maritzburg College 22; Die Brandwag (Uitenhage) 18, Nico Malan 12; Grey High School 32, Selborne College 26; Queen’s College 97, Cambridge 10; Hudson Park 20, Dale College 17.
WES-KAAP
Paul Roos Gimnasium 12, Boland Landbou 12; Outeniqua 72, Framesby 5; Hoërskool Bellville 15, Hottentots-Holland 0; Rondebosch Boys’ High 24, SACS 12; Wynberg Boys’ High 44, Bishops 12; Stellenberg 43, Strand 11; Edgemead 22, The Settlers 7; Durbanville 22, Tygerberg 3.




