SuperSport Schools News

Trio maak geskiedenis in Griffon-liga, terwyl die Trekkers na een soen sy keis met Witteberg verbreek

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-08-07

KALEB KRIEK (met bal), vaskopstut van Trio word hier gestuit in sy span se halfeindstryd teen Welkom Gimnasium. FOTO: Marnus Prinsloo

Die Hoërskool Trio van Kroonstad het vir ‘n opskudding in die halfeindronde van die Griffon-liga in die HT Pelatona-stadion in Welkom gesorg.

Trio het daarin geslaag om die verdedigende kampioen, Welkom Gimnasium, met 26-22 die loef af te steek. Dit was slegs Gimmies se tweede nederlaag sedert 2017 (sewe seisoene) in die Griffon-liga.

Gimmies het met nog 15 minute se speeltyd oor ‘n gerieflike voorsprong van 22-7 geniet voordat Trio se agttal besluit het basta met dit, dit is tyd vir ‘n opskudding.

Dit was veral Trio se Cravenweek-vaskopstut, Kaleb Kriek, wat met sy stormramlopies probleme vir Gimmies besorg het. Die slot Piet van Rensburg, flank Conraad Hattingh en haker, Austen Jardim, het ook met hul fisieke spel ‘n reuse rol in die terugvegpoging gespeel.

Wat Trio se opgang tot in die Griffon-eindstryd merkwaardig maak is die feit dat dit die skool se eerste seisoen op die rugbyveld is. Die skool het sy ontstaan danksy die samesmelting van die Hoërskool Kroonstad (Blouskool) en die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool).

Die span word deur die voormalige Italiaanse kaptein Quintin Geldenhuys, gebrei.

Welkom Gimnasium se vorige nederlaag in die liga was teen AHS Kroonstad in die halfeindronde van die 2017-liga. Gimmies het wel ook in 2019 in die eindstryd van die liga gelykop teen Goudveld-Hoërskool gespeel het, Gimmies is egter as kanpioen gekroon omdat hy destyds meer drieë in die eindstryd gedruk het.

Voortrekker van Bethlehem het in Welkom in sy halfeindstryd sy aartsvyand, Witteberg, met 32-20 verslaan. Die Trekkers het met die sege die twee spanne se keis na hul kus in die eindstryd van die Wesgrow-reeks (17-elk) verlede week beëindig.

Die Trekkers se agtsteman, Fano Lindo, was aan die spits van sy span se oorwinning. Hy het Witteberg heelwat probleme besorg. Hy is voorlangs goed deur die vaskopstut, Ruan Warden, asook die haker, DH Stevenson, bygestaan.

Agterlangs het die heelagter, Ruben Kruger, weer ‘n indrukwekkende vertoning opgedis.

Die feit dat al drie die Trekkers se junior-spanne ook tot die eindstryd deurgedring het, sal die skool van Bethlehem nog meer rede gee om fees te vier.

Puntemakers: 

Hoërskool Trio 26 (7) – Drieë: BJ Pelser, Kaleb Kriek, Marnus Cronjé, Austen Jardim. Doelskoppe: Piet van Rensburg (3). Welkom Gimnasium 22 (22) – Drieë: Jayleigh Arendse, Naylan Goeda, Onnalena Oliphant. Doelskoppe: Renaldo Kiewiet (2). Strafdoel: Kiewiet.

Voortrekker 32 (13) – Drieë: Fano Linde (2), Ruben Kruger, Ruan Warden, DH Stevenson. Doelskoppe: Kruger (2). Strafdoel: Kruger. Witteberg 20 (7) – Drieë: Ashton Diedericks, Kobus Hefer, Bradley Saptou. Doelskop: Saptou. Strafdoel: Saptou.

Ander spanne: 

o.16: Voortrekker 18, Witteberg 7.

o.15: Voortrekker 28, Trio 7.

o.14: Voortrekker 30, Trio 0; Witteberg 18, Welkom Gimnasium 14.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.