SuperSport Schools News

Trekkers en Trio in tweegeveg in Welkom om die Griffon-titel

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-08-12

FOTO: Willie Kruger

Gaan die Trekkers sy vierde titel inpalm of gaan Trio geskiedenis maak in die Griffon-liga se eindstryd?

Voortrekker van Bethlehem sê vir die Hoërskool Trio van Kroonstad die stryd in die eindstryd in die HT Pelatona-stadion in Welkom die stryd aan. Die Trekkers was laas in 2016 in ‘n eindstryd in aksie en het in 2014 laas die kroon van Noord-Vrystaat gedra.

Die Trekkers was in 2008, 2011 en 2014 die kampioen van die liga, terwyl dit Trio se eerste seisoen as span is. Trio het sy ontstaan te danke aan die samesmelting van die Hoërskool Kroonstad (Blouskool) en die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool) in 2021.

Voortrekker het die liga-wedstryd tussen die twee spanne vroeër vanjaar redelik gemaklik met 20-0 gewen, maar die span se afrigters, Dries Pretorius en Justin Taylor, sal geen ilusies hê oor dat Saterdag se eindstryd veel taaier sal wees nie.

Trio word deur Francois Stemmet en Quintin Geldenhuys afgerig. Laasgenoemde het Italië in 67 toetse tussen 2009 en 2016 verteenwoordig. Hy het ook die span ‘n paar keer aangevoer.

Trio se vaskopstut, Kaleb Kriek, was tydens vanjaar se Cravenweek in Kaapstad die swaerste speler in aksie op die toernooi. Kriek laat die skaal op 130kg kreun en hy is ‘n gevaarman met die bal in die hand. Kriek se voorrymaat, Anru Mulder, was ook vir die Perses op die gesogte week in aksie.

Trio het boonop in sy arsenaal ‘n “John Eales” in die slot Piet van Rensburg wat ook pale toe korrel vir die span. Agterlangs hou die senterpaar, Michiel Heyns en Charlton Basson, gevaar vir die Trekkers in.

Die span van Bethlehem se aanslag sal deur sy agtsteman, Fano Linde, gelei word. Linde se stormramlopies speel ‘n belangrike rol om sy span op die voorvoet te kry. Hy en die heelagter, Ruben Kruger, is die Trekkers se enigste Cravenweek-spelers.

Die kampioen van die liga sal ook deurdring tot die halfeindronde van die Kovsiestreekkompetisie se Shimla-liga. Die Vrystaat het vanjaar twee verteenwoordigers in die liga wat beteken dat Jim Fouché asook Sentraal reeds hul plekke in die halfeindronde bespreek het.

Die eindstryd om die Vrystaatse titel in Bloemfontein sal wel bepaal wie van die twee spanne onderskeidelik na Kimberley en Welkom sal reis.

Die spanne is: 

Voortrekker: 15 Ruben Kruger, 14 Hein Smit, 13 Tumi Khoza, 12 Dawie Maree, 11 Tiaan van Rooyen, 10 Jake Landman, 9 Johnny Willis, 8 Fano Linde, 7 Ruan Haward, 6 Louis Janse van Vuuren (kaptein), 5 Harry Kymdell, 4 Ludich Reinecke, 3 Ruan Warden, 2 DH Stevenson, 1 Sev Oosthuizen.

Hoërskool Trio: 15 Jaco Steyn, 14 Haaron Kabeya, 13 Charlton Basson, 12 Michiel Heyns, 11 Ignus de Wet, 10 BJ Pelser, 9 CJ Taljaard, 8 Ewald Tolmay, 7 Conrad Hattingh, 6 JD Kirstein, 5 Piet van Rensburg, 4 Henco Kriek, 3 Kaleb Kriek, 2 Austin Jardim, 1 Anru Mulder.

Afskop: 13:20
Skeidsregter: Tertius de Villiers.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.