Trekkers en Gimmies skop Griffon-liga met klinkende seges af
Die eerste skote in die Griffons-liga vir 2022 het geklap en dit blyk of Welkom Gimnasium en Voortrekker van Bethlehem weer die spanne is om te klop.
Witteberg van Bethlehem wat tydens die vakansie ook as kampioen van die Mauritz Hansen-week in Naboomspruit gekroon is, het sy aanslag op vanjaar se titel met ‘n oorwinning van 43-28 oor die Hoërskool Trio van Kroonstad afgeskop.
Die Wittes se losskakel, Curtley Smith, was aan die voorpunt van sy span se oorwinning oor die nuweling in die liga. Dit was Trio se eerste wedstryd ooit in die Griffon-liga.
Die Trekkers het danksy ‘n reuse aanslag in die tweede helfte daarin geslaag om Goudveld-Hoërskool met 32-15 die loef af te steek. Die Gouties het rustyd op sy tuisveld in Welkom ‘n voorsprong van 15-10 geniet.
Dié kragmeting was ook ‘n Wesgrow-reeks wedstryd.
Goudveld se afrigter, Frans Crous, sal nie gelukkig wees oor sy span se vertoning in die tweede helfte nie. Gouties was vinnig uit die blokke en sy kaptein en haker, Ruan du Preez, asook die skrumskakel, Ruhann Henning, het binne die eerste twee minute ‘n draai agter die doellyn gaan maak.
Die span van Welkom sal dus wonder hoe het hulle dié een deur sy vingers laat glip het. Du Preez was voorlangs inklimspel gelewer en was veral met sy fisieke teenwoordigheid goud vir sy span werd. Agterlangs het die binnesenter, Cobus Myburgh, gereeld bresse in die middelveld geslaan en was ook rotsvas op verdediging.
Gouties se Ruben Badenhorst (flank), Marco Coetzee (vaskopstut) en Henning kan ook tevrede met hul vertoning voel.
Welkom Gimnasium het nee veel probleme ondervind om Hentie Cilliers met 37-0 kaf te draf nie. Die Gimmies het egter teen rustyd slegs ‘n skrale voorsprong van 13-0 geniet.
Die span van Welkom se afronding het gelol en hy het ‘n hele paar drieë op die veld agtergelaat. Sy kaptein en agtsteman, Wian Fourie, het met sy stormlopies ‘n hele paar meters veld gewen en ook by die afbreekpunte vir Henties probleme besorg.
Hy is goed ondersteun deur die slot Divan Danhauser wat in die vastelos gewoel het en ook in die lynstane skitterende werk verrig het. Agterlangs het die skrumskakel, Conlinn Treurnicht, met sy aanvallende spel die verdedigers besig gehou, terwyl sy diens van agter die oond ook van hoogstaande gehalte was.
Hy het self ook nie vir die fisieke aspek van die spel weggeskrum nie en ‘n paar keer omgekeerde besit by die afbreekpunte bewerkstellig. Die binnesenter, Julian Samuels, het ‘n paar keer verby die eerste linie van verdediging gevorder.
FOTO: Marnus Prinsloo
Puntemakers:
Voortrekker 32 (10) – Drieë: Hein Smith (2), Karabo Onkarabile, Alberto Argentino. Doelskoppe: Ruben Kruger (3). Strafdoele: Kruger (2). Goudveld-Hoërskool 15 (15) – Drieë: Ruan du Preez, Ruhann Henning. Doelskop: Quinton Davids. Strafdoel: Davids.
Welkom Gimnasium 37 (13) – Drieë: Hlalefang Mbobo (2), Jayleigh Arendse (2), Wian Fourie, Naven Goeda. Doelskoppe: Conlinn Treurnicht (2). Strafdoel: Treurnicht. Hentie Cilliers 0.
Witteberg 43 () – Drieë: Deeolen April (2), Curtley Smith, Wilbre Klaase, Dian Strydom, Nico van Rensburg. Doelskoppe: Bradley Saptou (4), Dries Stemmet. Trio 28 ().
Ander spanne:
o.16: Voortrekker 26, Goudveld 13.
o.15: Voortrekker 33, Goudveld 14.
o.14: Voortrekker 52, Goudveld 0.




