SuperSport Schools Plus

Trekkers bobaas in Bethlehem se FNB Classic Clash

By Willem Louw , in Rugby | News , at 2023-05-17

FOTO: Willie Kruger Fotografie

Voortrekker kraai weer koning teen Witteberg na die buurskole se FNB Classic Clash die naweek.

Die wedstryd is beskikbaar op SuperSport SchoolsRegistreer nou

Vir die eerste tien minute was dit die tuisspan wat op die aanval was, en Witteberg se skrumskakel, Dries Stemmett, kon ‘n vroeë 6-punt voorsprong aan sy span besorg met sy ingeoefende skopskoen.

Dit was die Trekkers wat egter eerste oor die doellyn kon kom na ‘n uitstekende aangee deur hul skrumskakel, Alexander Maree, vir die heelagter, Thumi Khoza, toegelaat het om deur ‘n gaping te bars. Losskakel, Tiaan van Rooyen, kon die drie ook suskesvol verdoel om die voorsprong vir die besoekers te gee.

Volgehoude druk lei toe na ‘n hanteringfout deur die tuisspan en BVHS se uitblinkervleuel, Kamohelo Moses, versamel ‘n steekskoppie vorentoe vir ‘n pragdrie kort voor halftyd om die telling 14-6 in die guns van sy span te maak.

Die tweede het helfte begin nes die eerste een, met Witteberg wat vroeg aanval en nog ‘n strafdoel oorsit.

Dit is toe weereens Maree wat beheer van die spel neem vir Voortrekker. Hy was deurlopend wakker vir enige geleenthede en word toe beloon toe sy skoppie vorentoe nie versamel word nie en dit vir hom die geleentheid gee om die bal terug te kry en ‘n drie aan te teken.

Die Trekkers se groep voorrye besluit toe om ook ‘n hap van die koek te vat na al hul harde werk. Die groot loskopstut, Francois Maree, gee so  à la Lukhanyo Am die bal uit aan sy haker, Arnold Ras, en hy los die Witteberg verdediging in sy stof en gaan druk in die hoekie.

Witteberg kon van hul trots herwin deur om die laaste woord in te kry met ‘n drie deur hul agsteman en kaptein, Nico van Rensburg, maar dit was nie genoeg om die Trekkers te stuit nie.

As mens kyk na die wedstryd statistieke was daar nie veel wat die spanne geskei het nie.

Die een area waarin die Trekkers wel uitgestaan het is waneer dit by skrumtyd gekom het. Nie net het hulle bo uitgekom in al die skrums waarin hulle die bal ingevoer het nie, maar hulle het ook twee van Witteberg se vyf skrums verpletter om die balbesit terug te wen.

Witteberg was op hul beurt weer meer effektief in die losgemaal, hul losvoorspelers kon ses keer die bal steel, maar die tuisspan kon die balbesit nie in drieë oorsit nie, en moes staat maak op die skopskoen van Stemmet vir meeste van hul punte, terwyl Voortrekker op vier geleenthede agter die opponente se doellyn gaan kuier het.

Elf van die Voortrekker seuns is eers volgende jaar in matriek en hierdie vertoning het gewys hoeveel potensiaal in die groep is. Dit lyk baie belowend vir die res van die seisoen, en volgende jaar sal hulle mee gereken moet word.

Alexander Maree het uitgeblink in die wedstryd vir Voortrekker, en Moses en Khoza het die tuisspan ook gedurig besig gehou.

Vir Witteberg het Marco Grobler (flank) en hul Daniel Meintjies (slot) uitgestaan op verdediging, maar ondanks ‘n paar opwindende oomblikke het die tuisspan se aanval gesukkel om drieë te druk.

Daar was ook op die platteland mooi rugby op skou.

Wynand Engelbrecht (binnesenter) kon vier drieë druk vir Vrede toe hulle vir Reitz met 50 punte afgekaf het.

Itumeleng Moyatsi (buitesenter) kon ook ‘n driekuns aanteken vir Ladybrand. Hulle wen met 69-0 teen New Horizon College van Bethlehem.

Hoërskool Harrismith se losskakel, Thabang Radebe, het ook drie keer oor die doellyn gekom vir sy span en al tien hul drieë verdoel om 35 punte aan te teken in hul 70-0 slagting van Hoërskool Ntsu.

Hul linkervleuel, Sinethemba Xaba, en buitesenter, Sandie Dhlamini, kon ook twee drieë elk aanteken.

Puntemakers:

Voortrekker 24 (14) – Drieë: Kamohelo Moses, Thumi Khoza, Alexander Maree, Arnold Ras. Doelskoppe: Tiaan van Rooyen (2). Witteberg 16 (6) – Drie: Nico van Rensburg. Doelskop: Dries Stemmett. Strafdoele: Stemmett (3).

Ladybrand 69 – Drieë: Itumeleng Monyatsi (3), Callum Roy (2), Tebello Kabi (2), Ryan Lenthoka, Pofa Moholoho, Mpho Moeletsi, Franco van Heerden. Doelskoppe: Kabi (4), Lenthoka (3). New Horizon College (Bethlehem) 0.

Zastron 45 – Drieë: Mawethu Magidela (2), Samuel Sejanka, Lechabile Leballo, Jaycee Knoetse, Jean Botha, GD Bruwer. Doelskoppe: Rheineco Nel (2). Penalties: Nel (2). President Steyn 12 – Drieë: Dewan de Bruyn, Keanu Kretsman. Doelskop: Reymond Getje.

Vrede 50 – Drieë: Wynand Engelbrecht (4), Ewan Luus, Wikus Fourie, Thabang Motaung, Frikkie Kruger, Henco Crouse. Doelskoppe: Luus (5). Reitz 0.

Harrismith 70 – Drieë: Thabang Radebe (3), Sandie Dhlamini (2), Snethamba Xaba (2), Tshepang Radebe, Molete Motaung, Ofentse Sekgalo. Doelskoppe: Radebe (9). Ntsu High 7 – Onbekend.

Ander uitslae:

President Steyn 55, Brebner 5; Ficksburg 38, Marquard 0.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.