Transvalia beëindig kwarteeu van pyn teen Garsies
Die vreugdevure het gisteraand hoog in Vanderbijlpark gebrand met Transvalia wat met ‘n sege van 48-31 oor Garsfontein ‘n tree nader aan ‘n plek in die eindstryd van die Tuks-reeks gegee.
Dit was Transvalia se eerste sege oor Garsies sedert 1993. Die kragmeting tussen Monument en Garsfontein kan nou bepaal wie van Monnas of Transvalia tot die eindstryd van die reeks deurdring.
Die hoë reënval oor die sentrale streek asook die noordelike dele van die land het veroorsaak dat ‘n groot aantal wedstryde uitgestel is. Monument sou teen Kempton Park gespeel het, maar sal nou eers op ‘n latere stadium die bepaling nakom.
Transvalia se skakelpaar, Dewald Strydom en Zian de Jager, was aan die spits van hul span se sege. Strydom beskik oor ‘n uitstekende aangee, terwyl De Jager ‘n geleerde skopskoen het. Die buitesenter, Franco Pienaar, was ook uitstaande, veral as daar in ag geneem word dat die SA Skole-buitesenter, Diego Appollis, sy direkte teenstander was.
Vir Garsies het sy skrumskakel, Jurich Claassens, agtsteman Junior Snyman, en die vaskopstut, Gerhard van der Merwe, hul bes probeer.
Menlopark het Eldoraigne met 74-5 kaf gedraf. Die wenspan het oor te veel skietgoed vir Eldos beskik, maar die tuisspan het ook te veel foute van sy eie begaan.
Menlo se losskakel, Heinrich Boshoff, het spel dikteer en was ook vir 22 van sy span se punte verantwoordelik. Die voorryman Jaco Britz het vroeg vir Eldoraigne op die agtervoet gehad na hy twee kraglopies afgerond het.
Eldoraigne se vleuel Lo-An Marx verdien vermelding vir sy moedige vertoning.
HTS Middelburg se Rooi Bulle moes die louere met 12-elk teen die Hoërskool Pietersburg deel.
Op Goldstones in Pietermaritzburg het Rynhardt Jonker van Glenwood gepronk in sy span oorwinning van 37-12 oor Maritzburg College. Jonker, die seun van die gewese skeidsregter Marius Jonker, was ‘n ware generaal vir sy span agterlangs.
Rynhardt het met sy balverspreiding asook besluitneming die tuisspan se verdediging die heeltyd op die agtervoet gehad. Hy het ook goeie diens van sy skakelmaat, Jaden Hendrikse, ontvang. Hendrikse het verlede jaar die SA Skole-span verteenwoordig.
Sy nasionale skole-spanmaat van verlede jaar Conan le Fleur (senter) was op die aanval sowel as die verdediging uitstaande vir Glenwood.
Voorlangs het die agtsteman, George Luzolo, en flank Lindokuhle Luthuli geen probleme ondervind om die voordeellyn oor te steek nie. Vir Maritzburg College verdien sy skrumskakel, Philalane Simamane, vermelding.
In die NWU-Pukke Prestige-reeks het Potchefstroom Gimnasium met ‘n sege van 27-21 oor Montana seker gemaak dat hy bo-aan sy groep in die kompetisie eindig.
Lichtenburg het Marais Viljoen met 37-31 geklop, terwyl Potchefstroom Volkskool vir Noordheuwel met 39-22 die loef afgesteek het.
In die Wesgrow Sentrale-reeks het Noord-Kaap ‘n oortuigende oorwinning van 49-27 oor Witteberg van Bethlehem behaal. Goudveld het ook oor te veel skietgoed vir Sentraal in die reeks beskik. Gouties was met 45-14 baas.
Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad moes in die hoofwedstryd van sy jaarlikse sportdag hard werk om Riebeeckstad met 26-15 die loef af te steek. Riebies het met die omdraaislag ‘n voorsprong van 15-7 geniet.
Graeme College het in die hoofwedstryd van sy jaarlikse sportdag sy rieme behoorlik met 5-34 teen Grey High van Port Elizabeth vasgeloop. Selborne College het vir Marlow Landbou met 27-18 geklop, terwyl Brandwag van Uitenhage met 45-22 oor Queen’s College op die dag in Grahamstad baas was.
Die land se voorste skolespan die afgelope drie jaar, die Hoër Jongenskool Paarl, het sy seisoen teen die Hoërskool Grens op Porterville se jaarlikse sportdag met ‘n gemaklike sege van 64-8 afgekop. Boishaai se agtsteman, Evan Roos, het vier keer Grens se doellyn oorgesteek.
AL DIE UITSLAE:
TUKS-REEKS
Transvalia 48, Garsfontein 31; Menlopark 74, Eldoraigne 5; HTS Middelburg 12, Hoërskool Pietersburg 12; Garsfontein 18, Kempton Park 8.
NWU-PUKKE PRESTIGE-REEKS
Potchefstroom Gimnasium 27, Montana 21; Potchefstroom Volkskool 39, Noordheuwel 22; Zwartkop 56, Driehoek 13; Lichtenburg 37, Marais Viljoen 31; Jeugland 26, Hugenote (Springs) 21; Ermelo 23, Midstream College 14.
NOORDVAAL
Jeppe High School for Boys 33, St Alban’s College 27; Florida 57, Dr. Malan 8; Ben Vorster 84, Ellisras 7; Die Wilgers 37, Bergsig 26; Curro Nelspruit 19, Penryn College 10; Lydenburg 67, Merensky 14; Curro Heuwelkruin 48, HTS Tom Naudé 20; Birchleigh 48, Goudrif 24.
GRAEME COLLEGE RUGBYDAG
Grey High School 34, Graeme College 5; Selborne College 27, Marlow Landbou 18; Brandwag (Uitenhage) 45, Queen’s College 22; Dale College 14, Nico Malan 13; St Andrew’s College 22, Hudson Park 14; Framesby 22, Kingswood College 13; Pearson 34, Muir College 19; Union High 17, Cambridge 14.
KWAZULU-NATAL
Glenwood 37, Maritzburg College 12.
VRYSTAAT/GRIEKWAS
AHS Kroonstad 26, Riebeeckstad 15; Goudveld-Hoërskool 45, Sentraal 14; Noord-Kaap 49, Witteberg 27; Hoërskool Kroonstad 5, Kalahari (Kuruman) 5; Welkom Gimnasium 43, Louis Botha 21; Pionier 41, Wilgerivier 39; Wessel Maree 15, Schweizer-Reneke 12; Sand du Plessis 40, HTS Sasolburg 21.
WES-KAAP
Hoër Jongenskool Paarl 64, Hoërskool Grens 8; Bishops 24, Hopefield 7; Oakdale Landbou 46, Liceo Mendoza (ARG) 12; Durbanville 26, Milnerton 13; DF Malan 37, Swartland 3; Paarl Gimnasium 38, Durbanville 0; HTS Drostdy 40, Hoërskool Bellville 18; Hermanus 24, Hugenote (Wellington) 17.




