Tralies troef Fichardtpark

Hoërskool Sentraal het Dinsdag hul buurskool in die Rosestad, Fichardtpark, met sewe paaltjies ore aangesit na ‘n venynige vertoning deur hul boulers.
Beleef weer al die aksie op SuperSport School – Registreer nou – Skakel na die wedstryd
Die Tralies kon die tuisspan vir 49 lopies in 11 beurte uitboul in die Motheo-krieketliga bepaling. Liam Pretorius en Reshé Wales was aan die voorpunt van die aanval met drie paaltjies elk, terwyl AJ Joubert en Johan van den Heever elkeen twee Fichie-paaltjies kon plattrek.
Benewens sy uitsonderlike prestasie met die bal in die hand, kon Pretorius ook vier vangskote benut om verdere druk op Fichardtpark te plaas.
Michael Cruywagen kon vinnig van Sentraal se aanvangspaar ontslae raak, maar Van den Heever se onoorwonne 28 lopies vanaf 18 balle het die Tralies in die 13de beurt van die T20-kragmeting oor die lyn gedryf.
Hy het die wedstryd met styl afgerond deur twee agtereenvolgende grenshoue te moker vir ‘n indrukwekkende sege vir die besoekers.
Saterdag pak Sentraal vir Hoërskool Sasolburg in Bloemfontein, terwyl Fichardtpark by Hoërskool Trio in Kroonstad ‘n draai maak.
In ‘n wedstryd met heelwat meer aksie wat die kolwers betref, het Jim Fouché se Adrian de Necker (101*) en Cobus Wilken (51*) se vennootskap ‘n reuse oorwinning oor RPC aan die Bloemfonteiners besorg.
Beknopte telkaarte:
Fichardtpark: 49 (Extras 14; Liam Pretorius 3/12, Reshé Wales 3/14, AJ Joubert 2/10, Johan van den Heever 2/10). Sentraal: 53/3 (Johan van den Heever 28*; Michael Cruywagen 2/1). Sentraal wen met sewe paaltjies.
Jim Fouché: 202/3 (Adrian de Necker 101*, Cobus Wilken 51*; Junior 1/14). RPC: 92/9 (Khanye 31; Lian Theron 3/6, Cobus Wilken 2/12, Marco de Lange 2/27). Jim Fouché wen met 110 lopies.