Tralies sal die Bester-senters in eindstryd moet tem om trofee te kan lig
Vir die eerste keer sedert 2016 sal die Vrystaatse A-liga se trofee nuwe staanplek kry. Die eersterugbyspanne van die Sentraal en Jim Fouché sal mekaar Saterdag om 14:00 op Shimlpark in Bloemfontein om die titel pak.
Al die eindstryde op Shimlapark word regstreeks op via Tralie TV op DigiTV.co.za uitgesaai.
Louis Botha het die afgelope drie jaar die kroon gedra, maar is op klinkende wyse in die halfeindronde deur JF met 56-19 uitgeskakel. Sentraal het in 2015 sy eerste titel verower toe hy Jim Fouché met 31-28 verslaan het.
JF was laas in 2012 die Vrystaat-kampioen na hy die einste Sentraal in die eindstryd met 29-16 getroef het. Die Tralies sal as die gunsteling op die veld draf, maar selfs die span se twee afrigters, Riaan van Straten en Jannie Bornman, sal erken dat daar nie veel tussen die twee spanne te kies is nie.
Sentraal het die FNB Classic Clashes tussen die twee spanne met 50-22 gewen. Die telling vlei egter die Bloktruie ietwat. Jim Fouché se spelpeil na die skoolvakansie wys boonop ‘n reuse opwaartse kurwe. Die Groen Masjien het vir Diamantveld (32-19) en Louis Botha behoorlik afgestof.
Sentraal se spelpeil wys ook ‘n opwaartse kurwe wat die belofte van ‘n titaniese stryd vir Saterdag stel. Die Tralies het vir Goudveld-Hoërskool met 34-24 in sy laaste wedstryd van die Wesgrow-reeks getroef, terwyl hy ook in die halfeindronde oor te veel skietgoed vir Landboudal (34-11) beskik het.
Die Vrystaatse kampioen sal ook vir die halfeindronde van die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga kwalifiseer. Hy sal in sy halfeindstryd op sy tuisveld teen die naaswenner van die Griffon-liga sake uitspook. Goudveld en Welkom Gimnasium pak mekaar Saterdag in die Griffon-eindstryd.
Die Tralies sal JF se gevaarlikse senterpaar en broers, Zane en Zachery Bester, moet hokslaan indien hulle wil seëvier. Van Straten ken die twee spelers se vermoë goed want hy was hulle afrigter tydens die Akademie-week vroeër vanjaar. JF se skakelpaar, Revaldo Maurice en Ryan George, is ook giftig op die aanval indien hulle genoeg spasie kry.
Sentraal se agtsteman, Janko Kachelhoffer, asook die slot Frans-Noë Erasmus sal daarvoor verantwoordelik wees om met hul kraglopies die Bloktruie op die voorvoet te kry. Tralies se haastige linkervleuel, Ntsebe Lechesa, sal nie in die eindstryd in aksie wees na hy sy knie teen Lanties beseer het.
Die Bloktruie se losskakel, Francois van Rooyen, kan met sy skopskoen vir sy skoolspan goud in die eindstryd werd wees.
St Andrews kom in die Vrystaatse B-liga se eindstryd teen Zastron te staan. Saints was in die ligawedstryd tussen die tween spanne vroeër vanjaar met 31-21 baas. Die eindstryd beloof dus om ‘n taai affêre te wees.
FOTO: Johan Fourie/Foto2Like
Die spanne is:
Sentraal vs Jim Fouché op Shimlapark om 14:00:
Hoërskool Sentraal: 15 Giovanne Venter, 14 Tony Augus, 13 Riekard van Niekerk, 12 Francois du Plessis, 11 Heyn du Preez, 10 Francois van Rooyen, 9 Kobus du Plessis (kaptein), 8 Janko Kachelhoffer, 7 Erhard Posthumus, 6 Dian Venter, 5 Frans-Noë Erasmus, 4 Pietman Oosthuizen, 3 Deon Duvenhage, 2 Johan Bothma, 1 Kotie Herhold.
Hoërskool Jim Fouché: 15 Elrich Jacobs, 14 Duncan Watkins, 13 Zane Bester, 12 Zachery Bester, 11 Behan Vermaak, 10 Revaldo Maurice, 9 Ryan George, 8 Rudie Lambrecht, 7 Giovanni Reyners, 6 Michael Bekker, 5 Pieter Koekemoer, 4 Wessel Mulder, 3 Thato Lecoko, 2 Damian Calitz, 1 Mamello Moshoaliba.
St Andrew vs Zastron op Shimlapark om 12:40:
St Andrew: 15 Naleli Sekhibane, 14 OT Ledibang, 13 Hloni Makopo, 12 JD Bruwer, 11 Tlotliso Tsabalala, 10 Tristan Wylie, 9 Nathan van der Nest, 8 Dimpho Letloenyane, 7 Chad Slack, 6 Mosa Moseane, 5 JP Gieryn, 4 Duncan Edwards, 3 Denyl van Turha, 2 Marc van der Nest, 1 Leseli Sehlabo (kaptein).
Zastron: Nog nie bekend.
![]() | 14:00 | o.19A | Sentraal vs Jim Fouché |
| 12:40 | o.19A | St Andrews vs Zastron | |
| 11:20 | o.19B | Sentraal vs Fichardtpark | |
| 10:10 | o.16A | Jim Fouché vs Landboudal | |
| 09:00 | o.15A | Sentraal vs Jim Fouché | |
| 08:00 | o.14A | Jim Fouché vs Fichardtpark |
[powr-comments id=”79f5f0ea_1564741774784″]





