Tralies en JF deel louere in Classic Clash
Die eerste rugbyspan van die Hoërskool Sentraal het Saterdag in sy FNB Classic Clash teen Jim Fouche veggees gewys om uiteindelik die louere met 22-elk te deel. Tralies moes op ‘n stadium met 12 spelers op die veld klaarkom na die skeidsregter, Tiaan Steyn, met nog ongeveer 20 minute oor die kragmeting na ‘n geveg Tralies se losskakel, Jacques Mulder, en die agtsteman, Roche Roelofse, met ‘n geelkaart en ‘n rooikaart van die veld gestuur.
Dit was Roelofse se tweede geelkaart van die wedstryd na hy ook vir ongeoorloofde spel in die tweede helfte ‘n kaart gekry het, wat beteken het dat dit in ‘n rooikaart verander het. JF se losskakel, Henco Venter, is ook tien minute koelkas toe gestuur. Sentraal se senter Dirk Cilliers was toe reeds in die strafkas na ‘n gevaarlike duikslag miinute voor die geveg. Tralies het dus vir ‘n geruime tyd met slegs 12 spelers teen JF se 14 gespeel.
Tralies se slot, Bubbles van der Walt, het met speeltyd reeds verstreke vir sy drie oorgeval om die telling gelyk te trek. Hy was soos nog die hele seisoen ook sy span se grootste staatmaker in die wedstryd.
Vir JF was sy slot Ernst Nebe en agtsteman, Andrew Voster, voorlangs ysters gewees. In die agterhoede het die buitesenter, Francois Maree, skitter spel gelewer.
Die Hoërskool Fichardtpark se vaskopstut, Wandré Nortjé, het amper met sy driekuns aan drieë teen Louis Botha sake behoorlik deurmekaar in die Vrystaatse A-liga gekrap.
Louis Botha het die wedstryd met 38-33 gewen na Fichies met die omdraaislag ’n voorsprong van 20-19 geniet het. Fichies se losskakel, Jevan Botes, het boonop ook ’n goeie dag met die skopskoen beleef. Hy het met al sy stelskoppe geslaag om al drie Nortjé se drieë te verdoel asook vier strafdoele tussen deur die pale te jaag.
Sentraal sal nou weer vitr JF Saterdag in die halfeindstryd pak, terwyl Louis Botha en Fichies mekaar ook weer in die uitspeelronde sal ontmoet.
Grey-kollege het op sy tuisveld in die Rosestad gewys dat daar niks met sy diepte skort nie.
Grey het ondanks ’n lang krukkelys van spelers wat nie vir die wedstryd oorweeg kon word nie asook die skorsing van die flank, Juan Venter, steeds redelik gemaklik met Selborne College van Oos-Londen (48-17) afgereken.
Die span se buitsenter, Janco van Heyningen, het ’n skitterende tweede helfte beleef en met sy vaart twee van sy span se drieë afgerond. Die agtsteman, Dian Schoonees, het ook twee keer ’n draai agter die doellyn gaan maak. Hy het vir sy eerste drie ongeveer 50 meter genael na hy die bal onderskep het.
President Steyn se vleuel Johnny Khomisi en die buitesenter, Niel Smith, het elk ’n driekuns aan drieë in hul span se sege van 73-23 oor Hoërskool Bloemfontein behaal. Die wedstryd is tien minute in die tweede helfte gestop. Die Steyners se afrigter, Jannie Becket, sal nie tevrede met sy span se verdediging in die wedstryd wees nie.
Op Reddersburg het die Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter vir Sand du Plessis met 28-24 uitoorlê. Die span het hiermee gewys dat hy vanjaar een van die aanspraakmakers op die Vrystaatse B-liga titel is.
St. Andrew en Brandfort is steeds die voorste spanne in dié liga. Saints het op sy tuisveld in die reën met 14-19 teen St. Alban’s College van Pretoria vasgeval. Die span van die Jakarandastad word deesdae deur die voormalige Cheetah-losskakel, Kennedy Tsimba gebrei.
Brandfort het Zastron met 29-7 getroef.
Puntemakers:
Grey-kollege 48 (31): Drieë: Janco van Heyningen (2), Dian Schoonees (2), PR Serfontein, David Kriel, Marnus Boshoff, Henk Cilliers. Doelskoppe: Rikus Pretorius (3), Christopher Schreuder. Selborne College 17 (10).
Sentraal 22 (8): Drieë: Marko Rademeyer, Francois Pieterse, Bubbles van der Walt. Doelskoppe: Jacques Mulder (2). Strafdoel: Mulder. Jim Fouché 22 (10): Drieë: Andrew Vorster, Reino Coetzee, Francois Maree. Doelskoppe: Henco Venter (2). Strafdoel: Venter.
Louis Botha 38 (19): Drieë: Rallston Dreyer (2), Kyle Kermis (2), Mfezeko Moyo, Khanya Gela. Doelskop: Kermis. Strafdoele: Kermis (2). Fichardtpark 33 (20): Drieë: Wandré Nortjé (3). Doelskoppe: Jevan Botes (3). Strafdoele: Botes (4).
President Steyn 73 (31): Drieë: Johnny Khomisi (3), Niel Smith (3), Ryno Nyce, Gailin Neels, Jeandré Atkinson, Raymond Kruger, Luandré Nel. Doelskoppe: Neels (8), Smith. Hoërskool Bloemfontein 23 (11).
Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter 28: Drieë: Boeta Godbeer, Quinton Erasmus, Breyton Arends, Daniël Cilliers. Doelskoppe: Juandré Rautenbach (4). Sand du Plessis 24: Drieë: Timothy Jones, Katleho Moletsane, William Bloem. Doelskoppe: Bloem (3). Strafdoel: Bloem.
- Grey College favourites once again to be crowned Champion of Champions - 2025-09-19
- RUGBY | Grey College – 2025 - 2025-09-18
- Witwarm Wilgies sal Prieska se Gadeija moet hokslaan - 2025-08-30