Thuto-tweekuns laat Trio triomfeer

Hoërskool Trio het Saterdag in Bethlehem hul eerste sege in vanjaar se Wesgrow-reeks behaal, deur vas te byt vir ‘n naelbytoorwinning van 20-17 oor Witteberg.
Beleef al die Wesgrow Sentrale Sportreeks-aksie op SuperSport Schools – Registreer nou – Skakel na die reeks
Die besoekers het vroeg reeds vir Witteberg op die doellyn vasgepen, vir losskakel, Byron Biennas, om hul rekening met ‘n strafdoel oop te maak.
Dit was egter die tuisspan wat eerste die doellyn kon oorsteek, toe hul blitsige vleuel, Sakkie Brits, oorgeduik het na ‘n vlymskerp breekslag deur losskakel, Sydwell Sethi.
Trio het byna onmiddelik teruggeslaan deur hul groot agsteman, Tapiwa Mundeta, om weer die voortou te neem, maar Sethi het verdere bresse in die span van Kroonstad se verdediging geslaan om self te druk vir Witteberg om teen rustyd met 12-10 voor te loop.
Die tweede skof het stadig begin, maar toe Trio se blitsige regtervleuel, Thuto Kekane, die kans kry om sy ore plat te trek was daar geen keer aan hom nie en het hy ‘n steekskoppie deur skrumskakel, Ethan Smith, toegeduik vir die eerste van sy twee drieë.
Witteberg het steeds geweier om te gaan lê, en Jacques van der Merwe het vir hulle nogmaals laat voorloop. Die dag sou egter aan die besoekers behoort, met Kekane en Smith wat skitterend gekombineer het vir die wendrie, en Kekane se tweede.
Die tuisspan het dapper probeer terugkom in die doodsnikke, maar Trio het vasgebyt vir ‘n kritiese oorwinning.
In Welkom het verlede jaar se algehele kampioen, Hoërskool Voortrekker, hul spiere gebult teen Goudveld met goeie uitslae deur die bank.
Die Gouties se eerstes het nietemin vir die besoekers kwaai laat sweet vir ‘n oorwinning van 19-13.
Drieë deur die Trekker-staatmakers, Kamohelo Moses, Arnold Ras en Cecil Parsons, was uiteindelik genoeg om die knoop deur te hak, maar die uitslag was tot die einde nog in die weegskaal.
Hendro Boardman, die span van Welkom se senter, het die eerste drie gedruk en losskakel, Ruben Crous, het kort voor halftyd ‘n strafdoel oorgejaag om aan hul span ‘n voorsprong van 8-5 te besorg met die omdraaislag.
Na die Trekkers se tweede drie het die tuisspan nog een keer gedruk deur skrumskakel, JM Rensburg, maar die Bethlehem-pak het die uitklophou gelewer met ses minute speeltyd oor, toe hul Cravenweek-stut, Cecil Parsons, oorgedryf het vir die wendrie.
Hierdie Voortrekker-span lyk oorgehaal om die o. 19 A-kampioenskap ook in te palm vanjaar, maar die Gouties het ongetwyfeld met hope eer uit die stryd getree. Die enigste span wat tot dusver in die Wesgrow-reeks vir die Trekkers kon troef, is Diamantveld van Kimberley.
Die Diamonds was Saterdag in Bloemfontein in aksie, waar hulle vir Jim Fouché met 38-15 verslaan het om hul onoorwonne status in vanjaar se reeks te behou.
Linkervleuel, Jonathan Harding, het twee van sy span se drieë aangeteken, terwyl Enrique Boshoff, Marno Greeff, Clinton Brits en Stiaan van Loggerenberg ook elk vyf punte bygedra het.
Duardt Bester het albei JF se drieë gedruk, nadat hy aanvanklik nie die beginspan gehaal het nie en as ‘n plaasvervanger vir ‘n besering opgekom het.
Intussen het Fichardtpark ook hul buurskool, Sentraal, met 27-7 kafgedraf.
Heelagter, Martin Kalp, het twee drieë gedruk en die Fichies kon die besoekers tot in die laaste oomblikke van die wedstryd verhoed om enige punte aan te teken.
Die Tralies se kaptein, Marnus Earle, het einde ten laaste hul rekening oopgemaak, maar teen daardie tyd het die Fichie-Leeus reeds die spogregte vir nog ‘n jaar verseker. Na ‘n moeilike begin aan hul seisoen, lyk dit asof die Fichies nou werklik hul 40ste bestaansjaar kan begin vier met die tipe sprankelrugby wat hulle verlede seisoen reeds opgedis het.
Puntemakers:
Hoërskool Trio 20 (10) – Drieë: Thuto Kekane (2), Tapiwa Mundeta. Doelskop: Byron Biennas. Strafdoel: Biennas. Witteberg 17 (12) – Drieë: Sakkie Brits, Sydwell Sethi, Jacques van der Merwe. Doelskop: Sethi.
Voortrekker 19 (5) – Drieë: Kamohelo Moses, Arnold Ras, Cecil Parsons. Doelskoppe: Christiaan van der Sandt (2). Goudveld 13 (5) – Drieë: Hendro Boardman, JM Rensburg. Doelskop: Ruben Crous. Strafdoel: Crous.
Diamantveld 38 (7) – Drieë: Jonathan Harding (2), Enrique Boshoff, Marno Greeff, Clinton Brits, Stiaan van Loggerenberg. Doelskoppe: Simon Liversage (2), Harding, Greeff. Jim Fouché 15 (3) – Drieë: Duardt Bester (2). Doelskop: Bendré Vermaak. Strafdoel: Vermaak.
Fichardtpark 27 (17) – Drieë: Martin Kalp (2), Jan-Nel du Plessis, Divan Maartens, Nathan Swanepoel. Doelskop: Devanté Claasen. Sentraal 7 (0) – Drie: Marnus Earle. Doelskop: Lee-Yagin Arendse.
Al die uitslae:
o. 19 – Witteberg II 37, Trio II 18; Witteberg III 31, Trio III 21; Voortrekker II 21, Goudveld II 3; Voortrekker III 22, Goudveld III 0; Voortrekker IV 10, Goudveld IV 0; Diamantveld II 37, Jim Fouché II 31; Diamantveld III 47, Jim Fouché III 5; Fichardtpark II 52, Sentraal II 17; Fichardtpark III 26, Sentraal III 5.
o. 16 – Witteberg A 27, Trio A 26; Witteberg B 24, Trio B 0; Voortrekker A 19, Goudveld A 7; Voortrekker B 13, Goudveld B 12; Diamantveld A 50, Jim Fouché A 17; Fichardtpark A 17, Sentraal A 5; Sentraal B 41, Fichardtpark B 5.
o. 15 – Trio A 55, Witteberg A 7; Trio B 52, Witteberg B 0; Voortrekker A 26, Goudveld A 5; Voortrekker B 56, Goudveld B 0; Jim Fouché A 22, Diamantveld A 19; Jim Fouché B 22, Diamantveld B 7; Sentraal A 24, Fichardtpark A 19; Sentraal B 55, Fichardtpark B 0.
o. 14 – Witteberg A 22, Trio A 22; Witteberg B 19, Trio B 0; Voortrekker A 55, Goudveld A 0; Voortrekker B 31, Goudveld B 12; Diamantveld A 41, Jim Fouché A 0; Diamantveld B 57, Jim Fouché B 3; Fichardtpark A 12, Sentraal A 12; Fichardtpark B 28, Sentraal B 21.