Theisinger kry tweede kans by Duitsland
Vyf operasies op dieselfde knie sou meeste rugbyspelers hul tokse finaal laat wegbêre het. Adriaan Theisinger het eers ná dié handvol operasies sy droom verwesenlik om internasionale rugby te speel.
Theisinger het reeds twee keer vir Duitsland uitgedraf.
“Ek het altyd daarvan gedroom om internasionale rugby te speel. Ek het nooit gedink my kans sal eers kom ná ek feitlik ophou speel het en my op my sakebelange toegespits het nie,” het Theisinger gesê.
Destyds in 2008 met die 45ste Cravenweek vir hoërskole in Pretoria, sou niemand die voorspelling gewaag het dat die drie voorste agtstemanne op die toernooi eendag internasionale rugby vir drie verskillende lande sou speel nie.
Agt jaar later en CJ Stander (Suidwestelike Distrikte), Siya Kolisi (Oostelike Provinsie) en Adriaan Theisinger (Vrystaat) het reeds hul staal vir onderskeidelik Ierland, die Springbokke en Duitsland getoon.
Theisinger en Stander, daardie jaar ook die SA Skole-kaptein, het hul onderskeie unies aangevoer toe hulle mekaar in die hoofwedstryd die stryd aangesê het.
Die Volstruisboere was op daardie dag met 31-25 baas en Theisinger is met ’n kniebesering af.
“ ’n Ou dink maar baie daaraan hoe jou loopbaan sou gewees het as dinge anders verloop het. Die beserings het dit maar moeilik gemaak.”
Die agtsteman se herinneringe van die Cravenweek is nie net sleg nie. Hy was ’n lid van die Vrystaatse span wat in 2007 die Westelike Provinsie met ’n rekordtelling van 52-3 in Stellenbosch in die hoofwedstryd verneder het.
“Daardie span was ongelooflik.”
Duitsland se nasionale span het ’n sterk Suid-Afrikaanse geur. Die afrigter, Kobus Potgieter, en sy hulpafrigter, Pieter Jordaan, staan sedert 2013 aan stuur van sake van die Duitse span.
Ander Suid-Afrikaners wat gereeld vir die Duitsers uitdraf, is die senter Paul Bosch (Stormers en WP), flank Jaco Otto (Madibaz), vleuel Hendrik van der Merwe, slot Michael Poppmeier en die losskakel, Raynor Parkinson.
Theisinger kwalifiseer om vir Duitsland te speel omdat sy pa, Dean, daar gebore is.
“Een van my twee vriende wat reeds vir hulle gespeel het, Hendrik, het my eendag gebel en gevra of ek nie sou belangstel om vir Duitsland te speel nie. Ek is aanvanklik net oor om saam te oefen en het toe speelkans gekry.”
Volgens Theisinger was die ervaring om in sy tweede toets in Keulen teen Spanje voor ’n skare van 45 000 toeskouers te speel ’n ongelooflike ervaring. “Veral omdat rugby nie een van die groot sportsoorte in Duitsland is nie.”
Van der Merwe is ook soos Theisinger ’n oudleerling van Grey-kollege in Bloemfontein. Otto het saam met Theisinger vir die Sharks-akademie gespeel.
Adriaan was, interessant genoeg, ook in die laaste span van ’n skool van die Rosestad wat nie die knie teen Grey gebuig het nie.
Hy was in 2006 in Jim Fouché se eerstespan wat met 5-5 gelykop teen Grey gespeel het. Die vorige keer wat JF daarin kon slaag om nie teen Grey te verloor nie, was in 1968 toe hy met 14-5 in die destydse Vrystaat-stadion baas was.
Jim Fouché, na wie die skool vernoem is, is ook dié jaar as tweede Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika ingehuldig.
Adriaan se broer, Bernd, het die Vrystaat as losskakel op 2005 se Cravenweek in die Rosestad verteenwoordig. Hy het ook senior provinsiale rugby vir die Luiperds, Griffons en Vrystaat gespeel.
Adriaan het ook vir die Vrystaat in 2011 gespeel, maar het die afgelope drie jaar sy rugbyloopbaan op die agtergrond geskuif.
Hy sal waarskynlik ’n rol speel in Duitsland se aanslag om vir 2016 se Wêreldbeker in Japan te kwalifiseer.
“Ek probeer maar elke dag in die gimnasium oefen en hulle het ook vir my ’n fiksheidsprogram gegee wat ek moet volg,” het Theisinger gesê.
- Athletics Rankings 2026 | Girls u19 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Girls u17 - 2026-02-05
- Athletics Rankings 2026 | Boys u17 - 2026-02-05




