Taljaard, Middies té goed vir Volkies
 Shaun Taljaard se aanvallende beurt het vir Hoërskool Middelburg terug op die wenpad geplaas in hul kragmeting met Hoër Volkskool Heidelberg. Die voorslagkolwer het 94 lopies van slegs 71 aflewerings gemoker.
Shaun Taljaard se aanvallende beurt het vir Hoërskool Middelburg terug op die wenpad geplaas in hul kragmeting met Hoër Volkskool Heidelberg. Die voorslagkolwer het 94 lopies van slegs 71 aflewerings gemoker.
Sy beurt het vier viere en nege sesse ingesluit om die Volkies onder enorme druk te plaas. Sy kollega en aanvangskolwer, Zubair Desai (53, 102b), het ook beïndruk. Desai het ondernemend gekolf vir sy eerste vyftigtal van die reeks.
Die twee het ook goed kombineer om ‘n waardevolle vennootskap van 124 lopies aan mekaar te slaan.
In die bouldepartement het Sibusiso Maduna van voor gelei. Maduna kon met baie goeie boulsyfers van drie paaltjies vir slegs 12 lopies spog.
Aan die ander kant het Eduan Strydom (3/17) hom goed bygstaan met ‘n verdere drie paaltjies, terwyl Hendre Nel (2/18) weer die bestendigheid vanself was met die bal.
Vir die Volkies het niemand beter vertoon as Vaughn Stynvaart nie. Stynvaart is tot dusver indrukwekkend wat sy boulwerk betref, en het nogmaals ‘n puik indivuduele boulvertoning afgerond met syfers van vyf paaltjies vir 41 lopies. Gerrit Henken (2/9) het hom mooi bygestaan.
Matthew Wentzel het sy goeie spelpeil met die kolf voortgesit. Die Volkies se aanvangskolwer het met ‘n geduldige beurt van 43 lopies uitgestaan. Hy kon ongelukkig geen ondersteuning vind nie en dus was sy beurt tevergeefs. Die Volkies kon slegs 120 lopies aanteken voordat Maduna die laaste paaltjie laat kantel het.
Hoërskool Merensky kon hul eerste oorwinning smaak in die Afdeling, na ‘n puik vertoning teen HTS Middelburg, in Middelburg.
Die Plasies se jong Topher Elphinstone het die Middelburgers behoorlik laat bontstaan. Die naatbouler kon aan die einde van sy boulskof met syfers van drie paaltjies vir 22 lopies spog. Hy is ywerig bygestaan deur Xander Schoeman (3/32), wat hard vir sy drie paaltjies gewerk het.
Armand Kotze was HTS Middelburg se beste kolwer. Hy moes hard spook om sy span uit die moeilikheid te kry en kon daarin slaag om 33 lopies tot sy span se totaal by te dra. WJ Enslin het die nodige ondersteuning gebied met 24 lopies laat in die span se beurt.
Die span van Middelburg se telling van 143 was egter nie genoeg nie. Rinaldo Bornman het weer beïndruk met die kolf. Die Plasies se staatmaker se onoorwonne 46 lopies was die Tzaneeners se beste telling op die dag. Luka Heinlein (37) het homself goed van sy taak gekwyt, terwyl die gevaarlike JP Botha ‘n verdere 22 lopies bygedra het om die Plasies oor die wenstreep te help.
Ethan Dreyer was die suksesvolste bouler vir die Middelburgers. Dreyer het twee paaltjies vir 46 lopies laat kantel, maar dit was tevergeefs teen ‘n gemotiveerde Plasie-kolflys.
Hoërskool Dinamika is steeds die enigste onoorwonne span nadat hulle vir Uplands College met drie paaltjies kon klop. Devandre Clarke het ‘n goed afgeronde boulvertoning deur die span van Alberton gelei, en was voor in die koor met boulsyfers van drie paaltjies vir 47 lopies. Jayden Smith (2/9) en Nathan Visagie (2/16) het goeie ondersteuning gebied.
Upland College se Jack Robson was die span van Mpumalanga se uitblinker met die kolf. Robson het heelwat ervaring tentoongestel met sy beurt van 51 lopies. Danny Snyman (27) en Bruce Nel (23) was egter die enigste ander Uplands-kolwers wat waardevolle bydraes kon maak.
Mohammed Valli (32) en Nathan Visagie (30) het in Dinamika se kofbeurt goed kopgehou, nadat Kai Naylor (3/43) en Luke Johnston (2/19) die span van Gauteng in die moeilikheid gehad het. Die twee se bydraes was net-net genoeg om Dinamika oor die wenstreep te help.
Beknopte telkaarte:
Hoërskool Middelburg: 242 (Shuan Taljaard 94, Zubair Desai 53; Vaughn Steynvaart 5/41, Gerrit Henken 2/9). Hoër Volkskool Heidelberg: 120 (Matthew Wentzel 43; Sibusiso Maduna 3/12, Eduan Strydom 3/17, Hendre Nel 2/18). Hoërskool Middelburg wen met 122 lopies.
HTS Middelburg: 143 (Armand Kotze 33, WJ Enslin 24; Topher Elphinstone 3/22, Xander Schoeman 3/32). Hoërskool Merensky: 144/5 (Rinaldo Bornman 46*, Luka Heinlein 37, JP Botha 22; Ethan Dreyer 2/46). Merensky wen met vyf paaltjies.
Uplands College: 163 (Jack Robson 51, Danny Snyman 27, Bruce Nel 23; Devandre Clarke 3/47, Jayden Smith 2/9, Nathan Visagie 2/16). Hoërskool Dinamika: 168/7 (Mohammed Valli 32, Nathan Visagie 30; Kai Naylor 3/43, Luke Johnston 2/19). Dinamika wen met drie paaltjies.
 
 
 
 




 
  
  
  
  
  
  
  
  
 