SuperSport Schools News

SWD behou onoorwonne rekord oor Vrystaat sedert 1972, Bulle gaffel die Goue Leeus

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2022-07-05

KAAPSTAD. – Die Suidwestelike Distrikte het vir die eerste opskudding van die Cravenweek vir hoërskole op die hoofveld van Rondebosch Boys’ High hier gesorg.

Die Volstruisboere het vir die Vrystaat met 29-19 in hul kragmeting op die tweede dag van die toernooi geklop. Die Vrystaters het teen rustyd met 14-11 voorgeloop danksy twee drieë deur die kantman Lukas Meyer.

SWD is egter ook geregtig om dit nie as ‘n opskudding te sien nie. Die laaste keer wat die Vrystaters daarin kon slaag op die Volstruisboere op die Cravenweek te troef was in 1972. Vrystaat was op daardie dag met 18-12 baas.

Die twee spanne se laaste ontmoeting was in 2008 tydens die hoofwedstryd van die Cravenweek in Pretoria toe die voormalige Ierse agtsteman, CJ Stander, vir SWD tot ‘n oorwinning van 31-25 aangevoer het.

In die Vrystaat se span van 1972 was twee Springbokke, Edrich Krantz en Theuns Stoffberg, in aksie.

SWD het in die tweede helfte van vandag se stryd met ‘n doelgerigtheid die veld betree. Die span se losskakel, Antonio Bruiners, het ‘n skitterende dag op kantoor beleef. Hy was die vonk wat die vuur vir sy span aangeteek het.

Die Volstruisboere se agterhoede met die skrumskakel, Jamil Pretorius, vleuel Keith Syster en die binnesenter, Kobus Janse van Rensburg aan die spits het die Vrystaters behoorlik in die tweede helfte laat bontstaan. Janse van Rensburg het boonop met sy skopskoen sy span in die prentjie in die eerste helfte gehou.

Die agtsteman, Camden-Jay Schoeman, het ook ‘n skitterende vertoning gelewer. Sy werksverrigting was hoog en hy het behoorlik in die vastelos gewoel. Die flank Ramon Uys, slot Patrick Kitete asook die loskopstut, Ruan Swart, kan ook vandag breëbors na hul vertonings rondloop.

Die Blou Bulle het die Goue Leeus in ‘n armdruk-kompetisie met 38-19 afgestof. Die Ligbloues het danksy die effektiwiteit van sy rolmaalbeweging die Leeus tot oorgawe gedwing.

Die Blou Bulle se haker, Hanro Venter, het ‘n driekuns aan drieë behaal vanaf rolmaalbewegings. Dit terwyl die plaasvervanger-haker, De Wet Lottering, self vanaf ‘n rolmaalbeweging oorgeval het.

Die argitekte van die sege was egter die Bulle se skakelpaar, Steven Nel en Stehan Heymans, wat spel met hul besluitneming en skopskoene dikteer het. Heymans, wat ook die Ligbloues aanvoer, is na die tyd as Speler van die Wedstryd aangewys.

Nel het gewys dat hy van albei voete af kan skop asook ‘n speler is wat weet hoe om onder druk kalm te bly. In die agttal van die Bulle kan die flank Ewan van Heerden ondanks sy geelkaart ook tevrede met sy vertoning voel.

Vir die Goue Leeus het sy kaptein en flank, Xander Schoeman, goed by die afbreekpunte gevaar en sy span van voor gelei. Die losskakel, Tyler Sefoor, was ‘n planmaker agterlangs en het ‘n hele paar keer sy span op die voorvoet gekry.

Die Leeus se vleuel Joel Leotlela het elke keer wat hy in besit geplaas is gevaarlik gelyk en is vir sy vertoning met twee drieë beloon.

Die kragmeting is egter doodgeblaas deur die skeidsregter, Shemeah Ndlovu, wat veroorsaak het dat nie een van die twee spanne werklik aan die gang in die tweede helfte kon kom nie.

Puntemakers: 

Suidwestelike Distrikte 29 (11) – Drieë: Keith Syster, Camden-Jay Ruiters, Therlow Prins. Doelskop: JT Strydom. Strafdoele: Kobus Janse van Rensburg (2), Strydom (2). Vrystaat 19 (14) – Drieë: Lukas Meyer (2), Jermairon Ruiters. Doelskoppe: Bradley Giddy (2).

Blou Bulle 38 (24) – Drieë: Hanro Venter (3), Jayde Austin, De Wet Lottering. Doelskoppe: Stehan Heymans (5). Strafdoel: Heymans. Goue Leeus 19 (12) – Drieë: Joel Leotlela (2), Sifiso Magwaza. Doelskoppe: Tyler Sefoor (2).

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.