SuperSport Schools Plus

Swanepoel karnuffel Hartbeespoort in Puk-reeks

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2018-03-04

NewsGRiaandeKlerkIndien die eerste Saterdag van die 2018 skolerugby-seisoen aan ‘n enkele speler behoort het, sou dit die Hoërskool Florida se heelagter, Tino Swanepoel, se dag gewees het.

Swanepoel, wat verlede jaar ‘n lid van die seëvierende Leeus se Cravenweek-span was, het die Hoërskool Hartbeespoort aan flarde in die NWU-Pukke se Sport-reeks gehardloop.

Hy het vyf van sy span se 13 drieë in sy sege van 81-5 oor Harties gedruk. Dit was dalk nie teen die sterkste teenstand nie, maar die korste afstand wat Swanepoel vir sy vyf drieë afgelê het, was ‘n ongelooflike lopie van 60 meter!

Hy het ook agt van sy span se drieë verdoel om ‘n persoonlike bydrae van 41 punte tot sy span se totaal by te dra.

Diamantveld het op sy tuisveld in Kimberley ‘n vroeë waarskuwing aan die ander spanne in die nuwe Wesgrow Sentrale Skolereeks gestuur. Diamonds het Sentraal in ‘n vriendskaplike wedstryd met 42-7 afgestof. Albei spanne neem aan die reeks deel.

Diamantveld se binnesenter, Handré Bruwer, het met sy skopskoen 17 punte met sewe doelskoppe en ‘n strafdoel aangeteken. Buiten Bruwer het die flanke, Selle Maketlo en Armin de Villiers, uitstekend vertoon.

Die Hoërskool Fichardtpark het op sy jaarlikse sportdag in Bloemfontein vir die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad in die hoofwedstryd in ‘n titaniese stryd met 25-23 getroef. Rooiskool het ‘n voorsprong van 13-0 geniet met slegs ses minute se spel oor in die eerste helfte. Fichies het egter terug geveg en rustyd ‘n voorsprong van 13-10 geniet.

Die gasheer se agtsteman, Herman Steenkamp, asook die slot en kaptein, Jaco Snyman, was uitstaande.

Die ander span van Kimberley wat aan die nuwe skolereeks sal deelneem, die Hoërskool Noord-Kaap, het ook op Fichardtpark se sportdag in die Rosestad gewys dat hy ook ‘n aanspraakmaker op die titel sal wees.

Northerns het Louis Botha met 30-10 die loef afgesteek. Die span van die Diamantstad het teen rustyd ‘n skrale voorsprong van 13-10 geniet.

Die wenspan se slot Leo Koortzen was op sy stukke en het ‘n driekuns aan drieë behaal. Agterlangs het die buitesenter, Elzandro Fredericks, ook ‘n uitstaande vertoning opgedis.

Welkom Gimnasium het self vinnig uit die blokke vir die 2018-seisoen gespring. Gimmies het op Fichies se sportdag die Wolramme van Marlow Landbou met 41-7 afgeslag.

Die seisoen is nog in sy babaskoene, maar die Hoërskool Alberton se binnesenter, Jonathan Potgieter, het reeds ses drieë vir die seisoen agter sy naam.

Potgieter het gister in sy span se eerste wedstryd in vanjaar se NWU-Pukke Sport-reeks drie keer agter die doellyn in sy span se gemaklike sege van 51-7 oor Hoërskool Brits. Potgieter het ook verlede week in ‘n vriendskaplike wedstryd teen Oosterlig ‘n driekuns behaal.

Secunda het ook ‘n indrukwekkende sege van 48-7 oor Linden in dié reeks behaal. Standerton se naelskraapse sege van 15-14 oor Riebeeckrand is ook noemenswaardig.

In die Pukke se 16-reeks het die verdedigende kampioen, Pionier van Vryheid, sy aanslag op vanjaar se titel met ‘n sege van 17-3 oor Volskrust bespreek. Leeuwenhof het sy spiere met ‘n wegholsege van 72-14 oor Overvaal gebult.

Waterkloof van Pretoria moes heelwat meer sweet as verwag om Montana met 29-17 in ‘n vriendskaplike wedstryd te troef. Eldoraigne was met 44-36 oor die Hoërskool Middelburg in ‘n opwindende kragmeting baas.

Al die uitslae: 

FICHARDTPARK SPORTDAG

Fichardtpark 25, AHS Kroonstad 23; Noord-Kaap 30, Louis Botha 10; Welkom Gimnasium 41, Marlow Landbou 7; Hoërskool Upington 19, Jim Fouche 10; Landboudal 25, St Andrew 12; Aliwal-Noord 14, Sand du Plessis 8; Riebeeckstad 53, President Steyn 3; De Aar 50, Hoërskool Bloemfontein 0; Brandfort 33, HTS Welkom 21.

NWU-PUKKE 16-REEKS

Pretoria-Noord 24, Stoffberg 5; Delmas 34, Oosterland 21; Leeuwenhof 72, Overvaal 14; Pionier 17, Volksrust 3; Ferrum 20, Piet Retief 12; Schoonspruit 29, Vryburg 29; Fochville 22, Wolmaransstad 17.

NWU-PUKKE SPORT-REEKS

Florida 81, Hartbeespoort 5; Standerton 15, Riebeeckrand 14; Hoërskool Alberton 51, Hoërskool Brits 7;
Bastion 37, Dr. Malan 15; Secunda 48, Linden 7; Hans Moore 38, Hoogenhout 24.

NWU-PUKKE REEKS

Ben Vorster 30, Frikkie Meyer 27.

SUPER-REEKS

Brandwag (Benoni) 41, Dinamika 5; Die Wilgers 19, General Hertzog 17.

VRIENDSKAPLIK

Waterkloof 29, Montana 17; Eldoraigne 44, Hoërskool Middelburg 36; Wonderboom 37, Oosterlig 7; Diamantveld 42, Sentraal 7; Die Anker 20, Hugenote (Springs) 13; Randburg 43, Bekker 39; Hoërskool Rustenburg 25,HTS Middelburg 24; Frans du Toit 24, Lowveld High 23; Morgenzon Landbou 32, Uplands College 3; Bergsig Akademie 37, Ellisras 22; Lichtenburg 52, Wesvalia 17; Jeugland 22, Driehoek 20; Paulus Joubert 31, Trelew (Argentinië) 5.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.