SuperSport Schools Plus

SuperSport Schools se Kovsie Smash 2025 Span van die Toernooi

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-01-15 Tags: , , , , , , , , ,

Foto: Absolute Photos – Dirkie Groenewald.

Vanjaar se Kovsie Smash-kampioen, die Hoërskool Wesvalia van Klerksdorp, spog met twee verteenwoordigers in SuperSport Schools Plus se Span van die Toernooi.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools(www.supersportschools.com)

Soos met enige gekombineerde span wat gekies word, sal daar altyd ‘n aantal ongelukkige spelers wees wat nié die span gehaal het nie. Dié span sal nêrens speel nie en is slegs gekies deur SuperSport Schools Plus om erkenning te gee aan van die uitstaande spelers op die toernooi.

Wesvalia se twee verteenwoordigers is die broers, Eduard en Marneau Dreyer. Eduard was as aanvangskolwer soos gewoonlik ‘n staatmakers vir die span van Klerksdorp.

Hy was met 301 lopies, teen ‘n gemiddeld van 50.2 lopies per beurt, die voorste lopiemaker in Bloemfontein. Hy was verlede jaar met 282 lopies ook die voorste lopiemaker toe Wesvalia ook die kroon gedra het.

Marneau Dreyer was in die eindstryd teen Kalahari van Kuruman een van die grootste uitblinkers. Hy het die toernooi met die hoogste kolfgemiddeld van 69.5 lopies afgesluit, met ‘n totaal van 139 lopies wat van sy kolf gevloei het.

Hy het boonop met sy draaiboulwerk ook nie te vrot gevaar nie, om slegs 3.43 lopies per boulbeurt af te staan.

In SuperSport Schools Plus se span sal Jeandré Barnard (Transvalia) met Eduard Dreyer die kolfwerk open. Barnard was met 203 lopies die kolwer wat die tweede meeste lopies na Dreyer aangeteken het. Sy Transvalia-spanmaat, Ashton Cachia, sal as paaltjiewagter diens doen, terwyl Kriegler Botha, wat die toernooi as voorste paaltjievraat met 19 slagoffers afgesluit het, ook ingesluit is.

Die naaswenners, Kalahari, se SW van Heerden, het keer op keer tot sy span se redding gekom met ‘n astronomiese treftempo van 223.5. Dit het sy plek in die span bespreek. Hoërskool Pietersburg se Celliers van der Merwe se veelsydige vertonings het vir hom ook ‘n plek in die span losgeslaan. Hy was veral ‘n staatmaker met die nuwe bal en het 12 paaltjies laat kantel.

SuperSport Schools se span: 

Eduard Dreyer (Wesvalia), Jeandré Barnard (Transvalia), Rinaldo Bornman (Merensky), Ruann Esterhuizen (Hoërskool Upington), Marneau Dreyer (Wesvalia), SW van Heerden (Kalahari), Ashton Cachia (Transvalia), Kriegler Botha (Transvalia), Celliers van der Merwe (Hoërskool Pietersburg), Janco de Lange (Overvaal), Joshua Visagie (Duineveld).

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.