SuperSport Schools kies hul SA Skole-span voor die Cravenweek

GEORGE. – Dié Suid-Afrikaanse Skole-keurders gaan sonder twyfel vanjaar ‘n veel moeiliker taak hê om die koring van die kaf tydens die 58ste Cravenweek-toernooi op Outeniqua-park hier te skei.
Die gesogte toernooi maak vir slegs die twee keer ‘n verskyning in George. Die vorige keer was in 1999.
Ons het soos gewoonlik besluit om weer vooraf ons lyf keurders te hou en ‘n span voor die toernooi te kies. Ons het nie enige rasteikens, wat die keurders boei, gebruik vir die kies van ons span nie.
Dit was reeds vroeër vanjaar duidelik dat daar nie veel te kies is tussen die voorste spelers op skolevlak in Suid-Afrika nie. Verskeie spelers wat verlede jaar reeds uitgestaan het en vanjaar eers matriek is, het nie weer so uitgetroon bo hul eie jaargroep nie.
Die moeilikste keuses wat ons moes maak was op heelagter asook op flank. Talentwerwers kan vanjaar kies en keur in die posisies. Ons keuse op heelagter het na JT Strydom van SWD gegaan wat reeds verlede jaar die SA A-span gehaal het.
WP se JC Mars was sover vanjaar ook witwarm in die laaste vesting en word op ons plaasvervangersbank ingesluit. Ander heelagters wat sterk aanspraakmakers behoort te wees is Cheswill Jooste (Leeus), Jaco Williams (Sharks) en Amani Somana (Grens).
Voorlangs in die lostrio het ons besluit op Abri van der Westhuysen en Divan Fuller aan die kant van die skrum. Met die woelikge Jean-Henri Smit (Vrystaat) wat van die plaasvervangersbank kan kom.
Agtsteman was ‘n maklike keuse met Vrystaat en Grey-kollege se kaptein, JJ Theron, wat nie vanjaar sy gelyke in Suid-Afrika op skoolvlak gehad het nie. Theron behoor ook ‘n sterk aanspraakmaker te wees om die SA Skole-span aan te voer.
Die grootste verrassing in ons span is waarskynlik die insluiting van Grey-kollege se Ian van der Merwe op losskakel. Van der Merwe het vanjaar vir sy skoolspan gewys dat hy met sy skopskoen weet hoe om ‘n gevaarlike agttal op die voorvoet te hou. Hy beskik ook oor die vermoë om sy agterlyn aan die gang te sit.
Dit sal in George is hewige stryd tussen hom, JT Kapank (Goue Leeus), Kyle Smith (WP) en Chris Horak (Sharks) om die nommer-tien SA Skole-trui wees.
In die middelveld sal daar ver gesoek moet word vir beter senters. Dimitre Erasmus (Blou Bulle) en Pieter van der Merwe (Vrystaat) behoort mekaar ook goed aan te vul. Van der Merwe bring die kaboem, terwyl Erasmus oor die finesse beskik om enige span se verdediging aan flarde te hardloop.
Ons kon nie plek in ons uitsoekspan vir verlede jaar se SA Skole A-haker, Christian Everitt, vind nie. Die SA Skole-keurders behoort wel weer dalk vir hom ‘n plek in hul span te vind.
Asook die Goue Leeus se kaptein en slot, Uli van der Westhuizen, wat verlede jaar die SA A-span gehaal het, maar weens ‘n besering vanaf die kamp teruggestuur is.
SuperSport Schools se span is:
15 JT Strydom (Outeniqua, SWD), 14 Gino Cupido (Strand, WP), 13 Dimitre Erasmus (Garsfontein, Blou Bulle), 12 Pieter van der Merwe (Grey-kollege, Vrystaat), 11 Jameel de Jongh (HJS Paarl, WP), 10 Ian van der Merwe (Grey-kollege, Vrystaat), 9 Haashim Pead (Bishops, WP), 8 JJ Theron (Grey-kollege, Vrystaat – kaptein), 7 Abri van der Westhuysen (Garsfontein, Blou Bulle), 6 Divan Fuller (HJS Paarl, WP), 5 Jayden Potgieter (Outeniqua, SWD), 4 Danio Botha (Paarl Gimnasium, WP), 3 Herman Lubbe (Stellenberg, WP), 2 Ruan Welman (Helpmekaar, Goue Leeus), 1 Phiwayinkosi Kubheka (Maritzburg College, Sharks). Plaasvervangers: 16 Imaani Pemba (Grey High, OP), 17 Oliver Reid (Paul Roos, WP), 18 Jean Erasmus (Grey, Vrystaat), 19 Jacques Botha (Monument, Leeus), 20 Jean-Henri Smit (Grey-kollege, Vrystaat), 21 Ceano Everson (Monument, Goue Leeus), 22 JT Kapank (Noordheuwel, Goue Leeus), 23 JC Mars (HJS Paarl, WP).
Bepalings:
Dag 1
10:00 – Valke t. Boland; 11:30 – Vrystaat t. OP; 13:00 – Sharks t. WP XV-tal; 15:20 – WP t. SWD.
Dag 2
10:30 – Griekwas t. Luiperds; 12:00 – Griffons t. Limpopo Blou Bulle; 13:30 – Goue Leeus t. Pumas; 15:00 – Blou Bulle t. Grens.




