SuperSport Schools Plus

SuperSport-eindstryd kan bepaal wie Boishaai se breier word

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2018-07-15 Tags:

Paarl BoishaaiDie eindstryd van vanjaar se SuperSport-uitdaagreeks kan as die tweede fase van die proses om die Hoër Jongenskool Paarl se nuwe hoofafrigter te vind beskou word.

Albei die hoofafrigters vir Sondag se eindstryd tussen die Pumas en Griekwas se seniorspanne in Oudtshoorn is op die kortlys om Sean Erasmus as breier van Boishaai op te volg. Brent Janse van Rensburg (Pumas) en Peter Engeldow (Griekwas) is twee van vier sterk kandidate wat op Boishaai se kortlys is. Die ander twee kandidate op die kortlys is André Tredoux en Hein Kriek.  

Erasmus skuif na die skolerugbyseisoen na Johannesburg waar hy in die Goue Leeus se strukture sy kundigheid sal deel. Hy het sedert 2014 Boishaai se eerstes gebrei en die skool se eerstespan was van 2015 tot 2017 die land se voorste rugbyspan. Die Hoër Jongenskool Paarl se eerstespan het in 2015 die eerste keer sedert 1982 ‘n seisoen onoorwonne afgesluit.

Tredoux was deel van Dawie Theron se afrigtingspan by die Docomo Red Hurricanes in Japan, maar het reeds aan die begin van die skoleseisoen in Suid-Afrika die pos as Erasmus se hulpafrigter beklee. Tredoux het Elmo Wolfaardt vervang wat aan die einde van verlede jaar as die hoof van rugby by Klein Boishaai aangestel is.

Kriek is tans die hulpafrigter van die Tsjeggiese Republiek se nasionale span met Dok Phil Pretorius wat die hoofafrigter is. Kriek ken die Boland goed en het Paul Roos Gimnasium vroeër gebrei voordat hy na Nelspruit verhuis het om die Pumas te help afrig.

Janse van Rensburg se Pumas betree die eindstryd met hul onoorwonne status steeds in plek. Griekwas het slegs een wedstryd tydens die reeks teen die Vrystaat Cheetahs (31-32) met ‘n enkele punt verloor. Janse van Rensburg was voorheen ook by skolerugby betrokke en het onder andere by Grey High School in Port Elizabeth afgerig. 

Boishaai se nuwe direkteur van rugby sal boonop ook die leemte van die skool se werwer, Johnny van Niekerk, moet vul. Tredoux het voorheen die Pukke en ook die Vrystaat Cheetahs se werwing behartig voordat hy sy loopbaan as afrigter in Japan uitgebrei het.  

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.