SuperSport Schools Plus

Stuart, Baron blink uit vir Bere, Rusties verras Rhinos

By Franco Oberholzer , in Rugby | Featured Rugby | News , at 2025-05-25 Tags: , , , , , , ,

FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

Hoërskool Garsfontein se “skrumpet-brigade” het die Bere se aanslag Saterdagmiddag in Pretoria gelei om ‘n derde agtereenvolgende sege in die Beker-afdeling van vanjaar se SDC Noordvaal Cup te behaal.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Die twee ratse vleuels, Junaide Stuart en Drewyn Baron, het elk twee keer deurgedartel om agter Die Hoërskool Menlopark se doellyn te gaan kuier in die verdedigende kampioen se oortuigende sege van 40-27 in die Parkies se agterplaas. Dié blitsige duo was deurgaans giftig op die aanval, van bykans enige hoek op die veld, en het op die dag kop en skouers bo die res uitgestaan.

Die Parkies was nietemin vir ‘n groot gedeelte van die stryd binne trefafstand van die Bere en het selfs met die omdraaislag geklou aan ‘n voorsprong van 15-14. Daarna het dit ‘n effense wipplankstryd afgegee, met die voortou wat ‘n paar keer hande verwissel het. Dit was totdat Stuart en Baron na hoogste versnelling oorgeskakel het.

Voorlangs het die pakke mekaar met mening aangevat. Die tuisspan se kantman, Tiaan Boshoff, was nie net ‘n tier met sy lakwerk nie, maar het ook dikwels met sy barslopies vir Parkies op die voorvoet geplaas en is met ‘n vyfpunter beloon vir sy kranige spel.

Hoërskool Rustenburg het ietwat verras deur vir Hoërskool Nelspruit met 38-32 te troef. Die Rhinos se nederlaag het weer benadruk hoe belangrik tuisveldvoordeel is in ‘n reeds strawwe afdeling waar wegoorwinnings so skaars soos hoendertande is.

Die Rusties se Ayden Willemse is as Speler van die Wedstryd aangewys. Willemse wat vandeesweek op heelagter ingeskuif het, was oor die algemeen uitstekend met sy aanvalsvernuf, wat die tuisspan in ‘n oogwink die voortou help neem het, en was self vir een van die Rusties se vyf drieë verantwoordelik. Boonop was sy korrelwerk pale toe ook van hoogstaande gehalte en het hy geslaag met ál vyf doelskoppe en ‘n strafdoel vir ‘n persoonlike bydrae van 18 punte.

Die besoekers vanuit Mbombela kan egter nooit afgeskryf word nie. Selfs met ‘n agterstand van 15-35 wat hulle in die gesig gestaar het, het hulle ‘n terugvegpoging van stapel gestuur wat uiteindelik die asems in Rustenburg laat ophou het. Kaptein, Vaughn van Zyl, en slot, André Smit, het uitgetroon in die loopgraafoorlogvoering voorlangs en is elk ‘n drie beloon.

Puntemakers: 

Garsfontein 40 (14) – Drieë: Junaide Stuart (2), Drewyn Baron (2), Junade Pasensie, Levi Jordaan. Doelskoppe: Joshua Gouws (5). Menlopark 27 (15) – Drieë: Tiaan Boshoff, Gustav Schäffner, Mattheus Prinsloo, Reinhardt Herbst. Doelskoppe: Willie Pieterse (2).

Hoërskool Rustenburg 38 (28) – Drieë: Ayden Willemse, Bradley Snyers, Adriano George, Xavier Steenkamp, Xander Strickling. Doelskoppe: Willemse (5). Strafdoel: Willemse. Hoërskool Nelspruit 32 (15) – Drieë: Jordan Pretorius, André Smit, Vaughn van Zyl, Kamo Monkwe, Tinyiko Silubane, Jason Cogill. Doelskop: Liam Pringle.

Ander spanne: 

o.16: Menlopark 22, Garsfontein 19; Rustenburg 29, Nelspruit 3.

o.15: Garsfontein 47, Menlopark 20; Rustenburg 22, Nelspruit 14.

o.14: Garsfontein 61, Menlopark 7; Rustenburg 24, Nelspruit 8.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.