Streeptruie spog nou met 15 Cravenweek seges op ‘n streep

KRUGERSDORP. – Die Westelike Provinsie beleef ‘n goue era by die Cravenweek vir hoërskole. Die unie is vir die vyfde agtereenvolgende toernooi as die nie-amptelike kampioen gekroon.
Die Streeptruie het Saterdag op die Ras van Rooyen-veld hier sy 15de agtereenvolgende sege op die toernooi behaal. Hy het die Vrystaat welverdiend met 37-24 in die hoofwedstryd geklop. Die telling vlei wel die wenspan, maar hy was gewis weer die voorste span op die Cravenweek.
Die wenspan se senterpaar, Markus Muller en Samuel Badenhorst, het blink vertonings in die hoofwedstryd opgedis. Voorlangs was die loskopstut, Oliver Reid, asook die agtsteman, Aden da Costa, uitmuntend.
Die Vrystaters se kaptein en haker, Liam van Wyk, asook die skrumskakel, Philip McLaren, het vir die verloorspan hul lywe op die spel geplaas.
Hul heelagter, Heinz Stockenström, het die toernooi as die voorste puntemaker met 45 punte afgesluit. Boonop is die Vrystaatse losskakel, Alzeadon Felix, vir sy vertonings aan die Wes-Rand as die Speler van die Toernooi aangewys.
Die Goue Leeus het amper sy toernooi met ‘n nagmerrie afgesluit, maar sy plaasvervanger-haker, Keenan Myners, het met ‘n drie na die sirene gesorg dat sy span met 45-40 oor die Suidwestelike Distrikte kon koning kraai.
Die Leeus se haker en kaptein, Siphosethu Mnebelele, is as voorspeler van die toernooi aangewys. Die tuisspan sal egter nie tevrede met hul vertoning in Krugersdorp wees nie.
Die Pumas het sy toernooi onoorwonne afgesluit deur die Westelike Provinsie XV-tal met 27-22 te verslaan.
Dié span sou so stukkie ekstra genot uit die sege geput het na die SA Skole-keurders nie ‘n enkele speler van die unie as goed genoeg vir een van die twee nasionale skolespanne geag het nie.
Voeg daarby die feit dat vyf spelers van die Streeptruie – Reuben Kruger (agtsteman), Tom Barnard (slot), Briint Davids (senter), Ikhona Maxegwana (stut) en Markus Muller (senter) almal goed genoeg geag was om die SA Skole A-span te haal.
Muller is wel na beserings opgetrek na die Westelike Provinsie se uitsoekspan.
Die Pumas bied volgende jaar die Cravenweek in Middelburg aan en die keurders moet dalk liefs hul eie verblyf bespreek.
Die Pumas was in 2022 ook onoorwonne toe het die keurders ook nie enige van die unie se spelers as goed genoeg vir hoër louere beskou nie.
Die twee slotte van die Pumas, Franko Rossouw en Zach Loock, was deurgans uitmuntend. Boonop het die span se kaptein en flank, Toy Engelbrecht, twee keer tydens die week die toekenning as Speler van die Wedstryd ontvang.
Boland het ook daarin geslaag om die toernooi onoorwonne af te sluit danksy ‘n sege van 35-27 oor Oostelike Provinsie op Monnas se B-veld.
Die Wynboere se losskakel, Luan Giliomee, het die naasmeeste punte in Krugersdorp met 40 punte aangeteken. Hy is vir sy skitterende spel met ‘n plek in die SA Skole A-span beloon.
Boland sal ook nie tevrede wees oor die feit dat hulle hul toernooi op die B-veld moes klaarmaak nie. Dok Craven sou gewis ook nie met dié besluit van die bepalingskomitee gestem het nie. Veral oor die aanskoulike voetbal wat deur die Wynboere gedurende die week opgedis was.
Griekwas se heelagter, Gregan Jansen, het sy toernooi met ‘n driekuns aan drieë teen die Valke afgesluit. Dit was egter nie genoeg om sy span van ‘n nederlaag van 24-30 te red nie.
Jansen het ‘n uitstaande toernooi vanuit die laaste vesting beleef.
Puntemakers:
Luiperds 43 (12): Drieë: Junior Kuhn, Pedrie Human (2), Francois Dumond, Jordan Radebe, David Ndala, KG Legodi. Doelskoppe: Chris Dennis (2), Lorenzo Snyers (2). Limpopo Blou Bulle 39 (17): Drieë: Chifu Banda, Aza Mabe, Divan Brown, Cleminyino Bowers, Hanno van Zyl (2). Doelskoppe: Byron Hendricks (3). Strafskop: Hendricks.
Pumas 27 (3): Drieë: Franko Rossouw, Vaughn Van Zyl, Ryan Erasmus, Kefilwe Phamotse. Doelskoppe: Matthew Abbey (2). Strafskop: Abbey. Westelike Provinsie XV 22 (17): Drieë: Jayden Joubert, Randall-John Davids, Ashwin Swarts, Danté Christians. Doelskop: David Simon.
Valke 30 (20): Drieë: Danré Pike (2), Ruwan Potgieter, Zade-Leigh Rippenaar, Tyron Hand. Doelskop: Kayle Venter. Strafskop: Venter. Griekwas 24 (17): Drieë: De Wet du Plooy, Gregan Jansen (3). Doelskoppe: Sylverster Hoffman (2).
Goue Leeus 45 (21): Drieë: Siphosethu Mnebelele, Lindsey Jansen (2), Tiaan le Roux, Khutadzo Rasivhaga, Keenan Myners, Thomas Beling. Doelskoppe: Vusi Moyo (5). Suidwestelike Distrikte 40 (20): Drieë: Kai Pratt, Erick Steyn, Luca Potgieter, Kurt Coetzee. Doelskoppe: Ellie Meyer (3), Coetzee. Strafskoppe: Meyer (2), Coetzee (2).
Sharks 26 (0): Drieë: Zekhethelo Siyaya (2), Khanyisa Stamper (2). Doelskoppe: Luke Davidson (3). Blou Bulle 19 (7): Drieë: Junaid Stuart, Janco Purchase, strafdrie. Doelskop: Ruben Pienaar.
Grens 16 (8): Drieë: Ryan Denston, Anjola Sogbanmu. Strafskoppe: Landile Gidi, Denston. Griffons 10 (5): Drieë: Ru-bran de Kock, Kamohelo Moses.
Boland 35 (18): Drieë: Kallie Boutsikaris, Bennedict George (2), Howard Ocks (2). Doelskoppe: Luan Giliomee (2). Strafskoppe: Giliomee (2). Oostelike Provinsie 27 (5): Drieë: Jon Hobson, Johan Van Zyl, Munangi Kamwendo (2), Damien Witbooi. Doelskop: Praise Matsila.
Westelike Provinsie 37 (18): Drieë: Adeeb Boraine, Samuel Badenhorst, Quintin Potgieter, Freek de Kock, Torren February. Doelskoppe: Yaqheen Ahmed (3). Strafskoppe: Ahmed (2). Vrystaat 24 (17): Drieë: Ethan Adams, Liam van Wyk, Siyabonga Kenny. Doelskoppe: Heinz Stockenström (3). Strafskop: Stockenström.
 
 


 
 




 
  
  
  
  
  
  
  
  
 