Steyners vier fees met sege oor Wessel Maree tydens jaarlikse sportdag
President Steyn het hul trots op hul tuisveld goed verdedig deur om ‘n hoogs gemotiveerde Wessel Maree met 17-0 in die hoofwedstryd van sy jaarlikse Hester van der Walt Sportsdag te wen.
Dit was ‘n klipharde wedstryd, met albei spanne wat gesukkel het om bresse in die ander se verdediging te slaan.
Dit was die Steyners se woelige twee voorrymanne, Tiaan Saaiman en Divan Bekker, wat die grondslag vir die sege gelê het. Die duo het al drie hul span se drieë in die hoofwedstryd afgerond.
Die vaskopstut, Saaiman, het met sy drie gesorg dat sy span ‘n voorsprong van 7-0 teen die omdraaislag geniet.
Die loskopstut, Bekker het in die tweede helfte nog twee drieë gedruk om die Steyners se suksesvolle sportdag met ‘n wen vir die tuisspan af te rond.
Hoërskool President Steyn kan met trots terug kyk op nog ‘n suksesvolle en opwindende sportdag. Daar was glo nie ‘n worsrolletjie of ‘n enkele bakkie kerrie en rys oor teen die tyd wat die hoofwedstryd afgeskop het nie.
Al die spanne is aan die begin van hul seisoen en het nog nie veel tyd saam spandeer nie, dus kan mens verstaan dat daar nog hanteerfoute, of soms bietjie verwarring in die lynstane was.
Jim Fouché het teen Hentie Cilliers met 15-10 geseëvier.
Henties het dit vir hulself moeilik gemaak deur om die bal in slegs een van hul lynstane te behou. Die span van Vinginia kon steeds danksy drieë deur Andisile Mentz (heelagter) en Gift Gubai (slot) ‘n voorsprong van 10-5 geniet.
CJ Raath (slot) en Ian Nel (haker) het elk ‘n drie gedruk vir JF, en Altus du Plessis (senter) kon nog vyf punte bydra met ‘n strafdoel en ‘n verdoelling.
Stefan Venter, JF se flank wat ook die bal by hul lynstane ingooi, het ook ‘n skitterende wedstryd gehad.
Reddersburg en Ladybrand het egter ‘n goeie toon vir die dag geset met die titaniese stryd tussen die twee spanne wat Reddersburg in die doodsnikke van die spel 25 -24 gewen het danksy ‘n brawe langafstand-strafskop deur hul binne-senter, Sterling Batties.
Al was die spelers se vaardighede en dissipline dalk nog nie op die vlak wat hul afrigters sal wil hê dit moet wees nie, was die wedstryd deurlopend opwindend.
Ladybrand het die eerste punte aangeteken danksy ‘n drie deur hul losskakel, Tebello Kabi.
Drie agtereenvolgende geel kaarte vir Ladybrand, en twee drieë deur Bin Laden Macholo (flank) en Sterling Batties (senter) het egter vir Reddersburg ‘n voorsprong van 10-5 teen rustyd gegee.
Ladybrand het in die tweede helfte nog drie maal punte aangeteken, met Franco van Heerden (agsteman), Anjo Michals (flank) en Itumeleng Monyatsi (senter) wat ‘n draai agter die doellyn gemaak het.
Dit was goed genoeg om vir Ladybrand tydelik die oorhand te gee, maar twee drieë deur Tumi Pholoane (vleuel), wie vroeër van die veld af was met ‘n geel kaart, het vir Reddersurg in die posisie gesit om in die laaste oomblikke van die wedstryd die oorwinning te beklink.
Brandfort het vir Riebeeckstad op die ou end goed gewen, met 43-27, ondanks Riebeeckstad se dapper poging om terug te veg in die tweede helfte.
Plaasvervanger Khayalethu Mtsakaza het twee keer vir Riebeeckstad gedruk, en hul vleuel Kananelo Moshoaliba kon ook besoek aflê agter Brandfort se doellyn.
JC Venter (slot) en Wehan Strydom (agsteman) het beide briljante wedstryde gespeel, en albei het twee maal ‘n draai agter die doellyn gemaak.
Henrè Smith, Brandfort se losskakel, het ook ‘n groot invloed oor die spel geniet. Hy het self 13 punte bygedra met sy pogings pale toe, maar bo en behalwe dit was hy ook deurlopend betrokke in Brandfort se aanvallende spel.
Puntemakers:
President Steyn 17 (7) – Drieë: Divan Bekker (2), Tiaan Saaiman. Doelskop: Reymond Vers. Wessel Maree 0.
Fichardtpark 17 (5) – Drieë: Jaco Jansen van Rensburg, Janco Mollentze, Devantè Claassen. Doelskop: Dailen Geldenhuys. Wesvalia 5 (0) – Drie: Deon Viljoen.
Jim Fouché 15 (5) – Drieë: CJ Raath, Ian Nel. Doelskop: Altus du Plessis. Strafdoel: Du Plessis. Hentie Cilliers 10 (10) – Drieë: Andisile Mentz, Gift Gubai.
Brandfort 43 (22) – Drieë: JC Venter (2), Wehan Strydom (2), Henré Smith, Franco de Klerk. Doelskoppe: Smith (5). Strafdoel: Smith. Riebeeckstad 27 (6) – Drieë: Khayalethu Mtsakaza (2) Kananelo Moshoaliba. Doelskoppe: Junior Mokoena (2), Kanelo Liphoko. Penalties: Amos Moleleki (2).
Bultfontein 15 (10) – Drieë: Janro Struwig (2), Eddie Buys. Sand du Plessis 0.
Reddersburg 25 (10) – Drieë: Bin Laden Macholo (2), Sterling Batties, Tumi Pholoane. Doelskoppe: Sterling Batties. Strafdoel: Sterling Batties. Ladybrand 24 (5) – Drieë: Franco van Heerden, Anjo Michals, Itumeleng Moyatsi. Doelskoppe: Calvin Molete, Ryan Lethokoa.
Marquard 6 – Strafdoele: Boitumelo Nkhatho (2). Sentraal III 10.