SuperSport Schools Plus

Stevens se wendrie laat Robbies behoorlik “Fees” vier

By Willem Louw , in Rugby | News , at 2024-03-17 Tags: , , , , ,

FOTO: Deon van Deventer

Vleuel, Ruwan Stevens, het Hoërskool Robertson se derde en laaste onverdoelde drie gedruk om sy span op die nippertjie met 15-12 te laat seëvier teen ‘n begeesterde Hoërskool Vredendal in die hoofwedstryd van die jaarlikse Robbie-fees in die vallei van wyn en rose.

Beleef al die aksie weer op SuperSport Schools – Registreer nou Skakel na die fees

Die gasheerspan het die kragmeting op haas die perfekte wyse afgeskop, toe Bernardo Diedericks, na skaars vyf minute, deur die besoekers se verdedigingslyn kon sny om die Robbies op die bord te kry. Diedericks is verlede jaar reeds in die SA o. 17-Sewesspan opgeneem wat ‘n derdeplek op die Statebond-jeugspele in Trinidad en Tobago kon behaal.

Die manne van Vrendendal het egter ander planne vir die wedstryd gehad, en het bykans geen verdere geleenthede vir die tuisspan gebied nie.

Dit het meer as 20 minute geneem voor die volgende punte aangeteken is, toe Robertson se losskakel, Jaydan van Niekerk, vinnig gedink het om sy eie steekskoppie op te volg en die bal toe te duik.

Oomblikke later het die besoekers se agsteman, Dillen Theron, egter presies dieselfde gedoen vir Vredendal, om die rustydagterstand na 5-10 te laat krimp

Die tweede helfte het dieselfde mate van armdruk tussen die twee trotse plattelandse spanne afgegee.

Vredendal het vir ‘n lang periode met 12-10 voorgeloop in die tweede skof, nadat Calvin du Toit ‘n puik drie deur sy slot Mivuyo Yakobi kon verdoel, maar met skaars sewe minute se speeltyd oor het Stevens oorgeduik vir die wendrie, na ‘n vlymskerp breekslag deur Van Niekerk.

Die toeskouers moes tot die eindfluitjie asem ophou, met albei spanne wat nog ‘n paar opwindende geleenthede gekry het, maar klipharde verdediging, aan altwee kante, het enige verder punte verhoed.

Vredendal se voorspelers het die veld vol gespeel, terwyl Robertson se snellers, soos Van Niekerk, Diedericks en heelagter, Tyron April, gewys het dat hulle nog vir baie spanne probleme gaan veroorsaak hierdie seisoen.

Hoërskool Montagu het hul stem dik gemaak teen Jakes Gerwel Tegnies met ‘n wegholsege van 52-12.

Montagu-flank, Chadwin Lottering, het twee van sy span se agt drieë aangeteken, terwyl losskakel, Renaldo Koker, in die kol was met ses doelskoppe en ook gedruk het vir ‘n bydrae van 17 punte.

In die voorlaaste wedstryd het Langenhoven Gimnasium, van Oudtshoorn, vir Overberg, van Caledon, met sewe punte geklop.

Hoërskool Robertson 15 (10) – Drieë: Bernardo Diedericks, Jaydan van Niekerk, Ruwan Stevens. Hoërskool Vredendal 12 (5) – Drieë: Dillen Theron, Mivuyo Yakobi. Doelskop: Calvin du Toit.

Hoërskool Montagu 52 (21) – Drieë: Chadwin Lottering (2), Keenan Plaatjies, Nazier Ahmed, Morné-John Roos, Peter-Wayne Soldaat, Renaldo Koker, Curwin Matthys. Doelskoppe: Koker (6). Jakes Gerwel Tegnies 12 (5).

Ander tellings:

o. 19 – Langenhoven Gim 24, Overberg 17; Robertson II 39, Vredendal II 0.

o. 16 – Robertson A 29, Vredendal A 10.

o. 15 – Vredendal A 21, Robertson A 20; Robertson B 7, Ashton Secondary B 0.

Willem Louw
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.