SuperSport Schools Plus

Stevens en Ben Viljoen net-net te goed vir Hans Strijdom

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-03-18 Tags: , , , , , , ,

Foto: Jean-Marie Heyns

Mignon Stevens en Hoërskool Ben Viljoen was net-net goed genoeg om hul tradisionele vyande, Hoërskool Hans Strijdom, met ‘n telling van 34-27 in Groblersdal te troef.

Stevens, wat op heelagter vir Ben Viljoen diens doen, het vir die soveelste keer in vanjaar se kort seisoen rugby uit die boonste rakke opgedis. Saam met Anvernio Adonis, was Stevens klaarblyklik die verskil tussen die twee spanne. Albei het welverdiende tweekunste behaal en saam ook ‘n reuse aandeel in Nathan Boucher se pragdrie gehad.

Die besoekers was nietemin voorlangs in beheer van sake. Slot, Koedoe Harmse, was met sy uithalerspel in die vaste los deurgaans ‘n doring in Ben Viljoen se flees, en het hulle ook laat bontstaan met sy kragtige dryfspel.

Geen wonder dat Harmse drie keer oor die opposisie se doellyn kon bars nie.

Hy het nuttige ondersteuning van vurige agtsteman, Kian du Plessis, ontvang. Du Plessis was nes Harmse ‘n prominente figuur op die aanval, en het homself ook met ‘n paar enorme duikslae aan die tuisspan se aanvallers voorgestel.

Hierdie spanne sê mekaar gedurende die vakansie, op 6 April, weer die stryd aan, met die Hansies wat dan tuisveldvoordeel in Naboomspruit sal geniet.

Hoërskool Wolmaransstad het met ‘n sege van 33-14 oor Hoërskool Fochville voortgebeur. Dit kom nadat die Wollies verlede naweek ‘n hardverdiende sege van 28-24 teen Hoërskool Vryburg, in Vryburg, kon behaal het.

Lucraine Wyngaardt het die Wollies se rekening met ‘n reuse skepskop, vanuit sy eie halfgebied, oopgemaak. Daarna het hulle behoorlik die krane oopgedraai en in alle fasette van spel die botoon gevoer. Wollies se losskakel en puntemasjien, Christopher Dennis, was oudergewoonde die akkuraatheid vanself en het 16 punte met die stewel bygedra.

Agsteman, Thlalefo Thobedi, was verwoed met die bal in hand en is nie alleen met ‘n vyfpunter beloon nie, maar ook as Speler van die Wedstryd aangewys.

Dubbele driekunsgenot vir Keenan Joseph en Abduraman Amien het verseker dat Hoërskool Vryburg meer as genoeg kon opmaak vir hul nederlaag die vorige naweek. Die span van Vryburg het kringe om Hoërskool Schoonspruit gehardloop om met ‘n telling van 69-5 weg te hol. Joseph en Amien se gesamentlike bydrae van 30 punte, tesame met Jayden Starke se bykans vlekkelose skopwerk, was eenvoudig nét te veel vir Schoonspruit om te hanteer.

Puntemakers: 

Hoërskool Ben Viljoen 34 (19) – Drieë: Mignon Stevens (2), Anvernio Adonis (2), Nathan Boucher.  Doelskoppe: MJ de Beer (2), Dylan Nieuwenhuys (2). Strafdoel: Nieuwenhuys. Hoërskool Hans Strijdom 27 (15) – Drieë: Koedoe Harmse (3), Kian du Plessis. Doelskoppe: Hendrika van der Kolf (2). Strafdoel: Van der Kolf.

Hoërskool Wolmaransstad 33  – Drieë: AJ Vermeulen, Johan Erasmus, Thlalefo Thobedi. Doelskoppe: Christopher Dennis (2). Strafdoele: Dennis (4). Skepskop: Lucraine Wyngaardt. Hoërskool Fochville 14  – Drieë: Junior Naude (2). Doelskoppe: Naude.

Hoërskool Vryburg 69  – Drieë: Keenan Joseph (3), Abduraman Amien (3). Jordan Rathebe, Karabelo Mbolekwa, Cobus van der Berg, Olerato Bonokwane, Daniel Nortjie. Doelskoppe: Jayden Starke (7). Hoërskool Schoonspruit 5.

Hoërskool Riebeeckrand 27. Leeuwenhof Akademie 12. 

Ander spanne:

o. 16: Ben Viljoen 20, Hans Strijdom 7; Womaransstad 47, Fochville 17;  Vryburg 21, Schoonspruit 0.

o. 15: Ben Viljoen 24, Hans Strijdom 12; Womaransstad 19, Fochville 5; Vryburg 28, Schoonspruit 10.

o. 14: Ben Viljoen 82, Hans Strijdom 0; Wolmaransstad 57, Fochville 0;  Vryburg t. Schoonspruit – nie plaasgevind nie.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.