Stellenbosch gasheer van 2015 se Cravenweek
Die Coca-Cola Cravenweek vir hoërskole sal volgende jaar vir die vyfde keer in Stellenbosch aangebied word. Dié toernooi sou aanvanklik vir die eerste keer sedert 1990 na Durban teruggekeer het, maar die feit dat Paul Roos Gimnasium volgende jaar sy 150ste bestaansjaar vieringe hou het ‘n groot invloed gehad dat die toernooi na die Kaap skuif. 
KwaZulu-Natal se skolerugby-vereniging het hulle aansoek om die toernooi aan te bied terug getrek, na dit reeds aan hulle toegeken is. Die Westelike Provinsie het ook aansoek gedoen, maar die aansoek het glo nie die regte kanale gevolg nie en is so laat deur die Suid-Afrikaanse Skolerugby-vereniging (SASRV) ontvang.
Dit sal die vyfde keer wees sedert die eerste toernooi in 1964 dat die Cravenweek in die Eikestad aangebied sal word. Die Vrystaat het die Westelike Provinsie op die laaste toernooi in Stellenbosch met 52-3 in die hoofwedstryd verniel. In daardie Vrystaatse span was die Ebersohn-tweeling (Robert en Sias) aan die spits met toekomstige eersterangse spelers Coenie Oosthuizen, Pieter Labuschagné en Boom Prinsloo in sy geledere.
Die Streeptruie se span het spelers soos Nick Koster (kaptein), Johann Sadie, Jurgen Visser en Rossouw de Klerk ingesluit. Ander bekende spelers wat daardie jaar in die Eikestad in aksie was is Francois Brummer, Marnus Schoeman, Andries Ferreira, Gerhard van den Heever (almal Blou Bulle), Sampie Mastriet, Clayton Blommetjies, Rynhardt Elstadt (almal Boland), Lionel Cronjé (Grens), David Bulbring, Phillip van der Walt, JJ Engelbrecht (almal Oostelike Provinsie), Rudy Paige, Julian Redelinghuys (albei Leeus), Schalk van der Merwe, Joubert Engelbrecht (albei Griekwas), Cecil Afrika, Peet Marais, Jandré Marais, RJ Liebenberg, Alistair Vermaak, Branco du Preez, Hoffman Maritz (almal Griffons), Martin Bezuidenhout (Luiperds), Trevor Nyakane (Limpopo Blou Bulle), Marnitz Boshoff, Jaco Kriel, Howard Mnisi (albei Pumas), Pat Lambie, Guy en Ross Cronjé, Brynard Stander, en Dale Chadwick (almal KwaZulu-Natal) en CJ Stander (SWD).
Stellenbosch sal volgende jaar slegs die tweede gasheer word om vir die vyfde keer die gesogte toernooi aan te bied. Oos-Londen wat die eerste twee jaar in 1964 en 1965 die gasheer was, het ook in 1979, 1991 en 2009 die Cravenweek aangebied. Die Eikestad was voorheen in 1973, 1980, 1996 en 2007 die gasheer.
Paul Roos Gimnasium het volgende ‘n volgepakte jaar wat op hom wag. Die skool sal ook Suid-Afrika op die jaarlikse Sannix-toernooi in Japan verteenwoordig. Die Hoër Jongenskool Paarl het vanjaar in die eindstryd teen Hamilton Boys’ High van Nieu-Seeland met 15-11 die knie in die eindstryd gebuig.
Die span van Stellenbosch het al voorheen dié toernooi bygewoon. Dié skool was die eerste Suid-Afrikaanse span wat die toernooi in Japan bygewoon het toe dit in 2000 vir die eerste keer aangebied is.

 



