St Andrews kry tweede kans vir glorie teen Wilgerivier in Irawa-eindstryd

Hoërskool Wilgerivier van Frankfort en St Andrews van Bloemfontein ontmoet Saterdag by Shimlapark in Bloemfontein om sake uit te spook vir die Kovsiestreekkompetisie se Irawaliga-titel.
Volg al die aksie regstreeks op SuperSport Schools – Registreer nou
Verlede jaar kon St Andrews ook tot die eindstryd deurdring, maar Bothaville het uiteindelik as oorwinnaars terug gekeer na ‘n omvattende 31-8 sege.
Wilgerivier het hierdie jaar Bothaville se seisoen in die Griffon-eindstryd kortgeknip met ‘n 29-14 sege.
Die span uit Frankfort is die gunsteling om die jaar se titel te vat nadat hulle 64 punte sonder antwoord teen Staatspresident Swart van Brandfort kon aanteken in die halfeindronde.
Hul skakelpaar, die Muller-neefs, Wian (losskakel) en HG (skrumskakel), staan elke naweek uit vir hoe goed hulle kombineer om die pas te stel.
Die regtervleuel, Thlompo Motsapi, is ook ‘n gevaarpunt en sy heelagter Jonty Graaff is ‘n staatmaker op verdediging.
St Andrews het ‘n moeilike seisoen agter die rug, maar hulle is in die halfeindrondte deur ‘n merkwaardige vertoning deur hul kaptein en onderkaptein, Connor Nel (heelagter) en Matthew Simon (stut) aangevuur tot hul sterkste vertoning van die seisoen.
Hulle kon vir die tweede agtereenvolgende jaar vir Hartswater in die halfeindstryd uitskakel nadat hulle teen halftyd nog agter was.
Simon het drie keur oor die doellyn gebars en Nel kon 17 punte bydra met ‘n drie en die doelskoppe om hul span te lei na ‘n 37-36 sege in ‘n riller van ‘n wedstryd.
As Saints die energie het om so ‘n vertoning te herhaal mag hulle dalk vir die besoekers moeilikheid veroorsaak, maar Wilgerivier loop soos ‘n goed geoliede masjien op die oomblik.
St Andrews se twee slotte, Marco de Sousa en Lesedi Sipoyo, is vinnig oor die bal by kontakpunte, en hulle kan ‘n groot rol speel in Saterdag se wedstryd as hulle daarin slaag om die besoekers se ritme te breuk.
Die spanne is:
Wilgerivier t. St Andrews om 13:25:
Wilgerivier: 15 Jonty Graaff, 14 Thlompo Motsapi, 13 Marnus Swart, 12 Tiaan Hattingh, 11 Ernst Richter, 10 Wian Muller, 9 HG Muller, 8 Jean-Pierre Prinsloo, 7 Ruan Mayer, 6 JD van den Berg, 5 Tom van der Watt, 4 Juan de Klerk, 3 NW de Beer, 2 Louis de Villiers, 1 Gerhart Venter.
St Andrews: 15 Connor Nel, 14 Retshedisitswe Mokoena, 13 Mlungisi Lepesa, 12 Elia Mokuoane, 11 Koena Ntssamai, 10 CM Geel, 9 Schalk Liebenberg, 8 Yavantle Peni, 7 Mandela Sipoyo, 6 Matthew Fletcher, 5 Marco de Sousa, 4 Lesedi Sipoyo, 3 Matthew Simon, 2 Ioanni Giannakopoulos, 1 Brett Barnes.
Die dag se bepalings:
08:30 (o.16 Colts) – St Andrews t. Brandfort.
 09:40 (o.15 Irawa) – De Aar t. Bultfontein.
 10:50 (o.15 Shimla) – Voortrekker t. Fichardtpark.
 12:00 (o.19 Colts) – Postmasburg t. Hoopstad.
 13:25 (o.19 Irawa) – St Andrews t. Wilgerivier.
 14:50 (o.19 Shimla) – Welkom Gimnasium t. Hoërskool Upington.
 
 
 
 




 
  
  
  
  
  
  
  
  
 