Soet en suur vir Bulle tydens Noordvaal Bondedag
SASOLBURG. – Die Blou Bulle se o.18-rugbyspan sal gemengde gevoelens hê oor hulle hul laaste kragmeting voor die jaarlikse Cravenweek Saterdag op die Noordvaal Bondedag in die DP de Villiers-stadion hier.
Die Ligbloues het danksy ‘n skitterende eerste helfte die Sharks met 45-33 verslaan, maar die span het in die proses ook waarskynlik sy kaptein vir die Cravenweek verloor.
Die span se kaptein en agtsteman, Dieter Schubert, moes die veld weens ‘n skouerbesering verlaat en sal moelik betyds herstel om op 3 Julie die span op die gesogte toernooi in George op die veld te lei.
Die Blou Bulle het teen rustyd reeds ‘n gemaklik voorsprong van 35-14 geniet, maar in die tweede helfte so ietwat uitgesak. Die span se afrigters Jaco Koch, Ofentse Moeng en Ruan Jacobs sal ook dalk nog kopkrap oor hoe hul opdrafspanne in hul eerste twee kragmetings moontlik daarna kan uitsien.
Die span van Pretoria het in die eerste veral met hul vermoë op die aanval beïndruk. Die regtervleuel, Jason Hugo, het twee keer gaan afrond en moes albei kere nog ‘n paar verdedigers met sy krag, vaart en vernuf uitoorlê.
Die Ligbloues se losskakel, Nicallen Gabrielsen, het ook sy skopskoene aangehad. Hy het al ses sy span se drieë verdoel asook ‘n strafdoel van 50 meter nonchalant oorgeklits.
Die Sharks se plaasvervanger-vleuel, Maurice Willemse, het ‘n driekuns aan drieë in die tweede helfte behaal. Hy het elke keer gevaarlik gelyk wanneer hy in besit geplaas is.
Die Sharks en die Blou Bulle gaan albei buiteperde op vanjaar se toernooi in George wees om ‘n plek in die hoofwedstryd los te speel.
Die Goue Leeus sal ‘n hele paar onbeantwoorde vrae hê na die Bondedag. Die span het nouwel die Valke met 47-32 in die hoofwedstryd van die dag getroef, maar moes veel harder vir die sege sweet as wat die telling aandui.
Een ding waaroor die Leeus egter nie slapelose nagte sal hê nie, is dat hul losskakel, JT Kapank, sonder twyfel verdien om rugby op ‘n hoër vlak te speel.
Die Valke het met die omdraaislag ‘n voorsprong van 17-14 geniet en ook kort na rustyd die voorsprong van 20-14 gerek. Die tuisspan se losskakel, Duan du Toit, beskik self oor ‘n geleërde skopskoen.
Hy het die telbord aan die rol met drie doelskoppe en twee strafdoele gehou. Die Valke se lynstaanspel het hulle ongelukkig in die tweede helfte in die steek gelaat.
Dit het ook nie gehelp dat die Leeus se hoofafrigter, Tjaart van der Walt, sy grofgeskut op die veld in die tweede helfte gestuur het nie. Dit was veral die verskyning van Kapank wat die gang van die wedstryd in die besoekers se guns geswaai het.
Kapank het spel dikteer en met sy skopvoet seker gemaak dat sy span op die voorvoet bly.
Die Luiperds het die Limpopo Blou Bulle met 23-22 tydens die Bondedag geklop. Die span van Noordwes gaan vanjaar dalk vir ‘n verrassing of twee tydens die Cravenweek sorg.
Dit was veral die span se buitesenter, Lebogang Wageng, wat deurgans vrae aan Limpopo se verdediging gevra het. Die span se heelagter, Lorenzo Snyers, asook die vleuels, Teboho Sekonyela en David Ndala, het ook ‘n hele paar gevaarlike lopies geloots.
Die wenspan se losskakel, Leonard Bevan, beskik ook oor ‘n geleërde skopskoen en behoort ook een van die span se staatmakers in George te wees.
Die Limpopo Blou Bulle sal nie te ontevrede met die nederlaag wees nie. Die span het ‘n hele paar proefnemings tydens die laaste kleedrepetisie voor die Cravenweek gedoen.
Die span se flank Waldi Haasbroek speel die veld vol.
Die jaarlikse Grant Khomo-week (vir o.16-spanne) skop Maandag in die Agter-Paarl op Boland Landbou se velde af.
Die toernooi sou aanvanklik deur Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch aangebied gewees het, maar die hoë reënval in die Eikestad het die organiseerders genoodsaak om die toernooi te skuif.
Die gasheer, Westelike Provinsie, sal in die hoofwedstryd van die eerste dag teen Boland te staan kom.
Die Vrystaat was verlede jaar die nie-amptelike kampioen toe hy die Sharks met 39-18 in die hoofwedstryd in Kimberley verslaan het.
Die o.13 Cravenweek vind ook vanaf Maandag op Maritzburg College se velde in Pietermaritzburg plaas.
Verlede jaar se nie-amptelike kampioen, die Goue Leeus, sal op die eerste dag van vanjaar se toernooi in die hoofwedstryd teen die Valke kragte meet.
In die Riemland oftewel meer spesifiek in Reitz word daar buiten bibberweer ook vuurwarm rugby voorspel.
Die jaarlikse VKB-week vir stedelike spanne skop Maandag hier op Piet Geyer-park af. Die toernooi wat ‘n uitvloeisel van die plattelandse week wat in 1998 op die dorp begin is.
Die Blou Bulle is die verdedigende kampioen na hulle vir die Westelike Provinsie se noordelike voorstede (WPNS) verlede jaar in die eindstryd met 32-3 kaf gedraf het.
Al die wedstryde van die Grant Khomo-week, o.13 Cravenweek asook die VKB-week sal regstreeks op SuperSport Schools (www.supersportschools.com) gebeeldsend word.
Puntemakers:
Goue Leeus 47 (14) – Drieë: Tirhani Masondo, Kelvin van Wyk, Ceano Everson, Christiaan Steyn, JT Kapank, Ulrich van der Merwe, Pedri de Wet. Doelskoppe: Daylon Mayners (4), Kapank (3). Valke 32 (17) – Drieë: R-Jay Pietersen, Duan du Toit, Nathan Matthee, Piet Shilubane. Doelskoppe: Du Toit (3). Strafdoele: Du Toit (2).
Blou Bulle 45 (35) – Drieë: Jason Hugo (2), Brooklyn Newman, FC van Rooyen, Dieter Schubert, Dimitre Erasmus. Doelskoppe: Nicallen Gabrielsen (6). Strafdoel: Gabrielsen. Sharks 33 (14) – Drieë: Maurice Willemse (3), Campbell Ridl, Elbie Mouton. Doelskoppe: Chris Horak (4).
Luiperds 23 (10) – Drieë: Adriaan Liebenberg, Strafdrie. Doelskop: Leonard Bevan. Strafdoele: Bevan (3). Limpopo Blou Bulle 22 (7) – Drieë: Mahlatse Semosa (2), Waldi Haasbroek. Doelskoppe: Wian Terblanche (2). Strafdoel: Terblanche.




