Slegs 16 plekke beskikbaar vir die Voortrekker Prestige-week van 2021
Die Bethlehem Voortrekker Prestige-Rugbyweek word voorlopig volgende jaar vir 26 tot 29 Maart in die Riemland beplan. Die week bied ‘n gulde geleentheid aan o.15- en o.16-rugbyspanne om hul ritme te vind na die atletiek- en krieket-seisoene en voordat die rugbyligas in alle erns afskop.
Voortrekker het ‘n trotse rugbytradisie wat oor die 100 jaar strek. Die skool het al Springbokke soos Bennie van Niekerk, Tom van Vollenhoven en Hendro Scholtz opgelewer. Die wêreldbeker-wenner Bongi Mbonambi het ook tot einde graad tien sy tyd agter die skoolbanke van die Trekkers deurgebring, voordat hy deur St Alban’s College na Pretoria toe gelok is.
Spanne wat die week bywoon sal nie net strawwe teenstand op die rugbyveld geniet nie, maar ook die geleentheid kry om kennis te maak met die nuutste tendense om te herstel kennis maak. Voortrekker se bestuurder van sy hoë-prestasie sentrum, Heinrich du Plessis, sal hier sy kennis deel. Du Plessis was voorheen by die Sharks se Curriebeker-span asook in die unie se juniorstrukture betrokke. Hy sal volgende jaar al drie jaar aan hoof van die Trekkers se hoë-prestasie sentrum staan.
Al die wedstryde tydens die week sal ook regstreeks via Voortrekker se eie TV-stasie, TrekkerTV, via die DigiTV.co.za platform gebeeldsend word. Gaan kyk gerus na verlede jaar se wedstryde van die week op die platform.
Kostes om aan die week deel te neem beloop R1 600 per speler vir ‘n span van 23 spelers. Indien ‘n skool ‘n o.15- en o.16-span na die week stuur beloop die koste R 1500/speler. Twee afrigters per span se koste word by die groot totaal ingereken.
Daar is slegs plek vir 16 spanne om aan die week deel te neem. Organiseerders moet dus vinnig spring om teleurstelling te vermy. Indien u meer inligting wil bekom of u spanne inskryf kontak gerug vir Dries Pretorius via e-pos op adjunk@voortrekker.co.za of gee hom ‘n lui by 083 649 4005.
[powr-comments id=”8d2a9e2f_1598293545339″]




