Slabbert en Muller vandag onder die vergrootglas
Daar is vandag twee individuele spelers se vertonings wat vandag op die Vrystaatse Bondedag by Grey-kollege deur die keurders fyn dopgehou sal word.
Albei is losvoorspelers en sal as die twee ongelukkigste spelers vanjaar in die sentrale streek tel indien hulle nie hulle onderskeie unies se spanne na die 51ste Cravenweek vir hoërskole in Middelburg (Mpumalanga) haal nie. Die twee spelers is Henry “Tumi” Slabbert (Vrystaat) en Gerrie Muller (Griffons).
Slabbert sal vandag ’n uitstaande vertoning vir die Vrystaatse Akademie-span teen sy eweknie van Griekwaland-Wes wil lewer. ’n Uitmuntende vertoning kan dalk net vir hom ’n plek in die span vir die Cravenweek-span besorg voor dié span gefinaliseer word.
Slabbert was vanjaar een van Grey-kollege se uitstaande voorspelers. Hy was verlede jaar in Zastron en het die Suid-Vrystaatse span op die VKB-week in Reitz verteenwoordig. Na afloop van dié week was hy in die span ingesluit wat verlede jaar na Frankryk getoer het.
Slabbert was voor hy Zastron toe is in 2012 in Grey, maar kon nie ’n gereelde plek in die skool se o.16A-span kry nie. Hy het net na sy skuif uit Grey vir Zastron se sewesspan gehelp op op Vrystaat se jaarlikse sewesdag vir Grey met 15-12 te troef.
Hy het vanjaar al tien keer vir Grey se eerstespan geen druk, wat die meeste deur enige speler in die span is.
Muller van die Hoërskool Wilgerivier beleef sover ’n uitstekende seisoen op die rugbyveld. Hy spog vanjaar met nege drieë in sy span se ses ligawedstryde in die Oos-Vrystaat. Hy is hiermee ook die voorste driedrukker in dié liga.
Muller het in 2012 die Griffons op die Grant Khomo-week verteenwoordig. Verlede jaar was hy lid van die Perses se Plattelandse-akademiespan. Hy is vandag ook in die span teen hulle eweknie van Griekwas te sien. Muller kan egter soos Slabbert nog met ’n uitstaande vertoning sy plek in die Cravenweek-span oopspeel.
Hy was in 2012 ook as die speler van die wedstryd in die Kovsiestreek-kompetisie se Irawa-liga (vir kleinskole) se eindstryd aangewys toe sy skoolspan as kampioen gekroon is. ’n Uitsonderlike prestasie as daar in ag geneem word dat hy nog slegs in graad tien was.
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16