Skoonpa Hans gee Peter pakslae, terwyl Graeme College vir Selborne verras
Twee van die groot honde, Paarl Gimnasium en die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria, het in dié week hul skolerugby-seisoene met seges afgeskop.
Affies wat volgende gasheer vir die Noord/Suid-toernooi is, het Woensdag vir Helpmekaar-kollege met 21-14 geklop. Gimmies moes veel harder sweet as verwag om vir Stellenberg met 12-6 te verslaan.
Gimmies se vertoning was met rukke en stote soos dit te verwagte so vroeg in die seisoen sal wees, maar die span se twee afrigters, Pieter Rossouw en Helmut Lehmann, sal egter baie tevrede met hul pak voorspelers se vertoning wees.
Dit was veral die slot Keanu Coetsee se rankwerk in die lynstaan wat vir Stellenberg probleme besorg het. Gimmies se agttal het voorlangs die oorhand gehad en die inklimspel van die haker, Luca Bakkes, en die flank Deon Crous was aan die voorpunt.
Bakkes is die seun van die gewese Griekwa-kaptein, Luther Bakkes.
Agterlangs kan die losskakel, Liam Koen, tevrede met sy vertoning voel. Sy balverspreiding asook lang lynskoppe gaan nog ‘n reuse bate dié seisoen vir Gimmies wees. Koen is die seun van die voormalige Bok-losskakel, Louis Koen.
Stellenberg se flank Wessel Joubert was sy span se beste speler op die dag.
Op Wynberg Boys’ High se rugbyfees was daar ‘n interresante kragmeting tussen HTS Drostdy van Worcester en die Hoërskool Durbanville. Die Donkies word deur Hans Coetzee afgerig, wat verlede jaar nog Durbanville gebrei het.
Durbies se hoofafrigter, Peter Schutte, is Coetzee se skoonseun wat einde verlede jaar vanaf Ben Vorster in Tzaneen na die Kaap verhuis het. Coetzee sal vandag se familiebraai so ietwat meer geniet as Schutte na HTS Drostdy die kragmeting met 26-0 gewen het.
In die NWU Prestige-reeks het die Heidelberg Volkskool sy plek in die kwarteindronde van die reeks met ‘n sege van 26-22 oor Zwartkop bespreek. Die wenspan se skrumskalel, AJ Engelbrecht, het twee keer ‘n draai agter die Zwarries se doellyn gaan maak.
In die ander groepe in die reeks is daar met nog een ronde groepwedstryde oor meer as twee spanne oor wat nog tot die uitkloprondes kan deurdring. Die Hoërskool Rustenburg is na sy oorwinning van 26-20 oor Noordheuwel wel in ‘n gunstige posisie om bo-aan Groep A te eindig.
Oos-Moot het sy kanse lewendig gehou om tot die uitkloprondes deur te dring deur ‘n bonuspuntsege van 34-20 oor Marais Viljoen te behaal. Die wenspan se heelagter, Tiaan Bornman, was uistekend onder die hoë bal op ‘n nat veld in die kragmeting.
FOTO: Emmie Joubert
AL DIE UITSLAE
GRAEME COLLEGE RUGBYDAG
Graeme College 7, Selborne College 7; Kingswood College 14, Queen’s College 3; Framesby 24, St. Andrew’s College 22; Grey PE 31, Brandwag (Uitenhage) 27; Marlow Landbou 21, Dale College 12; Muir College 24, Cambridge 7; Hudson Park 21, Nico Malan 14; Pearson 64, Mary Waters 5.
KWAZULU-NATAL/VRYSTAAT
Hilton College 54, Northwood 5; Glenwood 17, Michaelhouse 10; Westville Boys’ High 43, Clifton 17; Maritzburg College 45, St. Charles College 7; Fichardtpark 36, Aliwal-Noord 14.
NOORDVAAL
Affies 21, Helpmekaar 14; Jeppe High School 16, Pretoria Boys’ High 10; Curro Roodeplaat 5, Tygervalley 0.
WES-KAAP
Paarl Gimnasium 12, Stellenberg 6; Wynberg Boys’ High 45, St. Stithians College 7; Bishops 33, Duineveld 0; Rondebosch Boys’ High 52, St. Benedict’s College 0; HTS Drostdy 26, Durbanville 0; SACS 35, Soweto 0; Hoërskool Bellville 45, Langa 0; Charlie Hofmeyr 25, DF Malan 15; Robertson 20, Langenhoven Gimnasium 15; Vishoek 26, Jan van Riebeeck 17.
DANIE ROSSOUW RUGBYWEEK
Rob Ferreira 17, Wonderboom 14; Midstream College 23, Frans du Toit 19; Driehoek 19, Uplands College 12; HTS Witbank 22, HTS John Vorster 20; Delmas 61, Bergvlam 0.
NWU PRESTIGE-REEKS
Oos-Moot 24, Marais Viljoen 20; Lichtenburg 27, Potchefstroom Volkskool 27; Heidelberg Volkskool 26, Zwartkop 22; Potchefstroom Gimnasium 28, Oosterlig 26; Die Anker 31, Jeugland 7.
[powr-comments id=”cb1c3db5_1647759901439″]




