Silubane, Roberts se tweekunste sink Klofies in Mbombela


Tinyiko Silubane was die Rhinos se spreekwoordelike ridder op ‘n wit perd in die span van Mbombela se eerste wedstryd in die Beker-afdeling van die SDC Noordvaal Cup Saterdag in Mbombela.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Silubane het twee keer die doellyn oorgesteek om vir Hoërskool Nelspruit ‘n oorwinning van 31-24 oor verlede jaar se naaswenner, Hoërskool Waterkloof, te beklink. Vir die tweede, het die Rhino’s se linkervleuel met speeltyd bykans verstreke in die hoekie oorgeduik vir die drie wat die Klofies se harte gebreek het.
Benewens sy tweekuns, het Silubane dikwels sy opponent aan die buitekant geklop om druk te plaas op die Klofies en was hy ongetwyfeld die speler van die wedstryd.
Die Nellies het voorlangs die septer geswaai, nadat hulle vroeg reeds die oorhand in die skrums verkry het. Haker, D’Angelo Roberts, het kookwaterspel gelewer en is ook met twee drieë, vanaf kragtige dryfmaalbewegings, beloon.
Die besoekers verdien nietemin ‘n klop op die skouer vir die manhaftige wyse waarop hulle vir die grootste gedeelte van die wedstryd verdedig het. Hulle het die druk van die Rhinos goed absorbeer, en self ook ‘n paar houe op die aanval geland.
Die tweedstryd tussen die agstemanne het nie teleurgestel nie, met Klofies se Marko Kok en die Rhinos se kaptein, Vaughn van Zyl, wat albei hul lywe op die spel geplaas het. Kok was ‘n breker by die afbreekpunte en het saam met flank, Dawid Prinsloo, die lewe moeilik gemaak vir die span van Mbombela.
Liam Pringle het weer sy skopskoen aangehad. Die Nellies se skrumskakel het met ál vier doelskoppe en ‘n strafdoel geslaag.
Puntemakers:
Hoërskool Nelspruit 31 (10) – Drieë: D’Angelo Roberts (2), Tinyiko Silubane (2). Doelskoppe: Liam Pringle (4). Strafdoel: Pringle. Waterkloof 24 (14) – Drieë: Dundré Tustin, Gustav Mienie, Ruan Jacobs. Doelskoppe: Ronan Bastiaanse (3). Strafdoel: Bastiaanse.
Ander spanne:
o.16: Waterkloof 15, Nelspruit 13.
o.15: Nelspruit 28, Waterkloof 8.
o.14: Waterkloof 17, Nelspruit 0.
 
 
 Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup
Click here for everything you need to know about the SDC Noordvaal Cup 
 




 
  
  
  
  
  
  
  
  
 