Siekte teister Nories op vooraand van halfeind teen Helpies


Hoërskool Noordheuwel gaan gebuk onder siektes wat sy voorbereiding vir Saterdag se halfeindstryd teen Helpmekaar Kollege in Johannesburg erg in die wiele ry.
Beleef al die SDC Noordvaal Beker-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Nories wat na ‘n puik seisoen vir die eerste keer sedert hul toetrede tot die SDC Noordvaal Cup (voorheen Virsekerbeker) se Beker-afdeling, in 2019, gekwalifiseer het vir die halfeindronde, hou asem op om te sien hoe die span Saterdag teen die Helpies daar gaan uitsien.
‘n Onlangse uitbreek van griep op die “Heuwel” het veroorsaak dat daar vraagtekens oor vyf van die Nories se staatmakers hang. Die positiewe is dat hulle hul twee groot kanonne, Clinton Agu (haker) en Jeandré Uithaler (heelagter), terugverwelkom.
Albei was betrokke by die onderskeie SA o.18-spanne wat teen Engeland, Frankryk, Ierland en Georgië kragte gemeet het. Agu moes egter ook die dotker besoek nadat hy sy meniskus teen die Engelse beseer het.
Die Nories het vanjaar egter by verskeie geleenthede reeds ongelooflike karakter getoon en dié span, die enigste wat vir Hoërskool Garsfontein in vanjaar se Beker-afdeling kon klop (28-22), sal beslis oorgehaal wees en alles in die stryd werp vir die halfeind.
Dit is vanjaar ook die eerste keer sedert 2023 dat Helpmekaar die halfeind haal, nadat hy verlede jaar naelskraaps uitgemis het. Helpies het toe met 20-29 teen die einste Garsfontein vasgeval, met die Garsies wat later as kampioen gekroon is.
Die Helpies het vroeër vanjaar reeds met die Nories afgereken. Dit was verrassende wegholsege met die span van Johannesburg wat tuis met 36-0 baas was. Hulle sal hierdie week nietemin op hul hoede wees vir die Blues.
Of die lang blaaskans wat Helpies geniet het ‘n goeie ding is of hul momentum versteur het, sal die tyd leer. Hulle het ‘n enkele verandering aangebring aan die pak wat Saterdag uitdraf, met Zaiden Krige wat met Eugene de Lange en Llewelyn Vermaak die lostrio vorm.
Krige het in die Helpies se laaste twee rondomtalie-kragmetings op regtervleuel diens verrig, maar Saterdag beman Kean Butler, gewoontlik Shaye Lourens se plaasvervanger op skrumskakel, die regterkant van die veld teen ‘n blitsige Aiden Bester.
Die spanne:
Helpmekaar Kollege t, Noordheuwel om 12:30 in Johannesburg
Helpmekaar Kollege: 15 Ty Ax, 14 Kean Butler, 13 Clinton Cloete, 12 Ethan Lourens, 11 Michael Herbst, 10 Wian Storm, 9 Shaye Lourens, 8 Llewelyn Vermaak, 7 Eugene de Lange, 6 Zaiden Krige, 5 Jandré Botha, 4 Diandro Botha, 3 Dylan Enlgenbrecht, 2 Gustav Grotius, 1 Liam Devenier.
Noordheuwel (moontlik): 15 Jeandré Uithaler, 14 Jaydan Steyn, 13 Brandon Pieters, 12 Kieran Reid, 11 Aidan Bester, 10 Pablo Moeketsane, 9 Gillie Diedericks, 8 Armand van Eck, 7 Juandré de Villiers, 6 Andrew Lambert, 5 Jared Coetzer, 4 Kean Lourens, 3 Steph Botha, 2 Clinton Agu, 1 Skuttie Bezuidenhout.
Afskoptye van Junior spanne in Johannesburg:
o.16: 11:00 – Monument t. Noordheuwel.
o.15: 09:55 – Helpmekaar Kollege t. Noordheuwel.
o.14: 08:45 – Monument t. Noordheuwel.