SuperSport Schools Plus

Seletswane kan in Barry Richards-hulle se voetspore volg

By Hannes Nienaber , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2024-12-16 Tags: ,

KAAPSTAD. – Die nasionale o.19-speler Richard Seletswane staan op die brink van geskiedenis in vanjaar se Khaya Majola o.19-krieketweek van Maandag hier.

Seletswane spog al met drie SA Skole-pette in sy kas. Hy kan vanjaar die eerste speler sedert 1968 word om vier keer die nasionale skolespan te haal. Seletswane, ‘n leerder van St Stithians in Johannesburg, het reeds vanjaar die opkomende Suid-Afrikaanse span op senior vlak verteenwoordig.

Slegs vyf anders spelers het al sedert die eerste toernooi in 1940 daarin geslaag om vier of meer kere die SA Skole-span te verteenwoordig. Vier spelers – Dassie Biggs (OP, 1963, 1963 Engeland, 1964, 1965), Smokey Featherstone (Transvaal, 1966, 1967, 1967 Engeland, 1968), Barry Richards (Natal, 1962, 1963, 1963 Engeland, 1964) en Neil Rosendorff (Vrystaat, 1962, 1963, 1963 Engeland, 1964).

Hylton Ackerman is bo-aan die lys na hy die SA Skole-span ses keer verteenwoordig het. Hy was in 1962, 1963, 1963 na Engeland, 1964, 1965 en 1966 vir die nasionale skolespan in aksie.

Sedert eenwording kon geen speler nog daarin slaag om vier keer die SA Skole-span te haal nie. Benewens Seletswane, spog nog net vier ander spelers met drie SA Skole-pette in hul kas.

Hulle is Zwelibanzi Homani (Oos-Provinsie, 1999-01), Tulani Ngxoweni (Grens, 1994-96), Jacques Rudolph (Noord-Transvaal, 1997-99) en Wayne Parnell (Oos-Provinsie, 2005-07).

Drie van Seletswane se spanmaats van 2023 – Benni Hansen (Wes-Provinsie), Jorich van Schalkwyk (Titane) en Parth Patel (Oos) – is ook terug om te kyk of hulle ‘n tweede kleure kan kry.

Die jaarlikse Khaya Majola-week sal vir die eerste keer sedert 2018 terugkeer na Kaapstad. Dit sal die vierde keer sedert 1994 wees dat die Moederstad hierdie gesogte krieketweek aanbied.

Kaapstad het ook die toernooi in 2002 en 2011 aangebied.

Die Khaya Majola-week bly ‘n belangrike springplank vir krieketspelers in Suid-Afrika. In 2018 het die week Proteas-spelers soos Tristan Stubbs (Oos-Provinsie), Gerald Coetzee (Vrystaat) en Marco Jansen (Noordwes) opgelewer.

Hansen was verlede jaar die kaptein van die nasionale skole-span en kan die eerste speler sedert eenwording word om die span twee keer te lei. Patel het verlede jaar die beste boulvertoning in die toernooi se geskiedenis gelewer toe hy sewe paaltjies vir slegs 15 lopies teen Noord-Kaap geneem het.

Die vorige rekord was in besit van Du Pavillon, wat sewe paaltjies vir net 18 lopies teen Noordwes in 2012 geneem het.

Vier lede van die Suid-Afrikaanse o.19-span, wat vroeër vanjaar die semi-finale van die ICC o.19 Wêreldbeker bereik het, sal ook in Kaapstad in aksie wees. Hulle is Seletswane, Sipho Potsane (Gauteng), Nqobani Mokoena (KwaZulu-Natal) en Steve Stolk (Titane).

Hansen, Esa Gangat (Oos-Provinsie) en Raeeq Daniels (Wes-Provinsie) het ook al op o.19-vlak gespeel. Drie sleutelspelers van die nasionale o.19-span, Kwena Maphaka (Sentraal-Gauteng), Lhuand-ré Pretorius (Titane) en Riley Norton (Boland), was kwalifiseerbaar vir vanjaar se toernooi, maar was nie beskikbaar vir keuring nie.

Maphaka sal deel wees van die senior Protea-span vir die belangrike toetsreeks teen Pakistan, terwyl Pretorius nie deur die Titane se senior span vrygestel is nie. Norton, wat beide die SA Skole-rugby- en krieketspanne in 2023 gemaak het, het besluit om op rugby as loopbaan te fokus.

Die bepalings van die eerste dag:

Gauteng t. Vrystaat (Bishops); Westelike Provinsie t. Tuskers (Rondebosch Boys’ High); Dolphins t. Oostelike Provinsie (Wynberg Boys’ High); Titans t. Boland (SACS); Noordwes t. Uitnodigingspan (UCT); Oos-Kaap Inyathi t. Noord-Kaap (Curro Durbanville); Mpumalanga t. Limpopo (Pinelands); Oostelikes t. Garden Route Badgers (Hoërskool Durbanville).

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.