SuperSport Schools Plus

Secunda dop Nellies om met puik spanvertoning

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-09-15 Tags: , , ,

‘n Afgeronde spanpoging, aanvanklik deur Hoërskool Secunda se kolwers en daarna twee van sy boulers, het verseker dat hy met 98 lopies oor Hoërskool Nelspruit in Secunda kon seëvier.

Lees en herleef al die Mpumalanga Premier Liga-aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Jayden Sholtz, meer bekend vir sy werk met die bal, het Secunda se kolfaanslag gelei. As die tuisspan se agtste kolwer het hy die langsteel ingelê om vier sesse en twee viere te moker vir sy span se hoogste telling van 54 lopies.

Luan Swart was kort op sy hakke met 45 aanskoulike lopies, terwyl Nathan Erasmus vir 39 lopies verantwoordelik was. Verdere bydraes deur Juanru Brazelle (29) en Umar Badat (27) het die tuisspan uiteindelik tot ‘n netjiese totaal van 269 gehelp.

Jason Knoetze (4/54) se harde werk in sy toegelate 10 beurte het goeie vrugte afgewerp, terwyl Gerdu van Eeden (2/52) en Safwaan Muller (2/55) ook beïndruk het met die bal.

Die deurslaggewendste boulskofte was egter deur Secunda se voorslagboulers afgevuur. Aanvangsbouler, CJ Bakker, en Luan Swart, die enigste van hul span se boulers om ál 10 toegelate beurte te boul, het die uitklophou toegedien. Swart en Bakker het elk drie paaltjies ingepalm, terwyl Swart slegs 35 lopies in sy 10 beurte afgestaan het. Bakker se 10 het hom ook maar slegs 51 lopies gekos.

Die ekstras het die tuisspan ietwat gekelder en was ook die Nellies se voorste lopiemaker met 48 gratis lopies wat van die gasheer ontvang is. Buiten dit het aanvangskolwer, Duan Smal, hard gewerk vir sy 38 lopies en 66 aflewerings trotseer. Juan Maritz was sy span se tweede beste kolwer met 33 onoorwonne lopies, maar dit het oplaas veel tekort geskiet om die tuisspan te troef.

Beknopte telkaart

Hoërskool Secunda 269 (Jayden Scholtz 54, Luan Swart 45, Nathan Erasmus 39, Jamru Brazelle 29, Umar Badat 27, Ekstras 23; Jason Knoetze 4/54, Gerdu van Eeden 2/54, Safwaan Muller 2/55); Hoërskool Nelspruit 171 (Ekstras 48, Duan Smal 38, Juan Maritz 33*, Dian Boucher 28; Luan Swart 3/35, CJ Bakker 3/51). Hoërskool Secunda wen met 98 lopies. 

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.