SuperSport Schools News

Secunda beoog om verdedigende kampioene, Oos-Moot, te ontroon

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2023-08-24

Die Hoërskool Secunda sal beoog om die verdedigende kampioen, Oos-Moot, in die einstryd van SDC Noordvaal Cup se Skild-afdeling, van sy troon af te stamp.

Secunda is verlede jaar as die kampioene van die Bowl-afdeling gekroon na hy Die Anker van Brakpan met een punt met ‘n telling van 19-18, in die eindstryd kon klop.

Dit is ook dus die span van Secunda se eerste jaar in die Skild-afdeling asook sy eerste keer in die afdeling se eindstryd.

Hy kon ook daarin slaag om tot dusver onoorwonne te bly.

Sewe van die spelers wat in verlede jaar se Bowl-eindstryd begin het, Jayden Shnuir (losskopstut), Hanre Hattigh (flank), Jean du Toit (losskakel), Tian Steyn (binnesenter), Tyron Moolman (buitesenter), Luan Lottering (vleuel), en Tiaan Delarey (heelagter), sal weer Saterdag hul opwagting maak.

Lottering was vanjaar uitsonderlik vanaf die skopkegel en het die vleuel selde gemis met sy korrelwerk pale toe. Saam met die vleuel was die duo in die middelveld, Tian Steyn en Tyron Moolman, uitstekend. Steyn, veral, was deurlopend ‘n gevaar op die aanval, terwyl Moolman uitstekend op verdediging was.

Voorlangs is dit die kaptein en flank, Hanré Hattingh, wat deur die seisoen uitgeblink het. Hattingh se werksetiek is sekerlik die ding wat die meeste uitstaan en is die flank genadeloos enige tekens van die los bal en op vedediging.

Oos-Moot sal die bordjies wil verhang na hy vroeer die seisoen 41-44 teen Secunda vasgeval het. Hy sal ook sy titel as kampioen van die Skild-afdeling wil verdedig. Die span van Pretoria is ook die suksesvolste span in die afdeling.

Hy is in 2018 vir die eerste keer as kampioen gekroon na hy vir Ben Vorster van Tzaneen met 29-20 in die eerste eindstryd van die afdeling geklop het. Verlede jaar het hy vir die Hoërskool Klerksdorp met 25-20 in die eindstryd verslaan.

Voorlangs is daar kommer vir die Oosies. Sy kookwater agtsteman, Gert-Hendrik Grobler, het nog nie ten volle herstel na sy skouer besering nie, maar sal Saterdag op sy tande kners om sy verskyning op die veld te maak.

Saam met Grobler sal dit die haker, Ryan Scott, en losskopstut en kaptein, Braam Bezuidenhout, wees wat amok onder die groot manne voor sal wil saai.

Agterlangs, word die asems opgehou oor die beskikbaarheid van sy besige binnesenter, Ruwan Allen. Allen het verlede naweek ‘n besering in die halfeinstryd teen Heiderlberg Volkskool opgedoen. Dit sal egter ‘n groot terugslag vir Oosies wees, aangesien hy ‘n groot gevaar op die aanval is.

Die Oosies se losskakel, Charl van der Sluis, sal na die skopstryd tussen hom en Lottering uitsien. Van der Sluis en Lottering is volgens baie se opinies die twee bestes in die kompitisie vanaf die skopkegel.

Die spanne:

Hoërskool Secunda teen Oos-Moot in Secunda om 12:45: 

Secunda: 15 Tiaan Delarey, 14 Ryan Erasumus, 13 Tyron Moolman, 12 Tian Steyn, 11 Luan Lottering, 10 Jean du Toit, 9 Jarno Haaroff, 8 Mike Pretorius, 7 Hanré Hattingh (kaptein), 6 Zander Scheepers, 5 Armand Kwooitz, 4 Sibusiso Mgubane, 3 Tumelo Mtshali, 2 Henrico Fourie, 1 Jayden Schnuir.

Oos-Moot (moontlik): 15 Jeandré de Bruyn, 14 Ewald Wolmarans, 13 Stian Oosthuizen, 12 Ruwan Allen, 11 Tapiwa Rwafa, 10 Charl van der Sluis, 9 Jacques Benade, 8 Gert-Hendrik Grobler, 7 Wade Williams, 6 Nathan Kleynhans, 5 Jaydon Botha, 4 Deon Badenhorst, 3 Christiaan Smith, 2 Ryan Scott, 1 Braam Bezuidenhout (kaptein).

Ander spanne:

11:20 – o.16 – Ligbron vs Jeugland
10:10 – o.15 – Ben Vorster vs Heidelberg
09:00 – o.14 – Ben Vorster vs Oos-Moot

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.