SuperSport Schools Plus

Schweizer-Reneke kan Kosterskool se drome verydel

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-08-23

Kosterskool sal vandag hard moet werk as hy sy titel as kampioen van die Beeldtrofee vir Klein-skole wil behou.

Koster speel vandag in Schweizer-Reneke in die eindstryd teen die Hoërskool Schweizer-Reneke.

Dié twee spanne het mekaar ook in die Luiperds-eindstryd die stryd aangesê. Schweizer-Reneke het dié taai kragmeting toe met 15-10 gewen.

Die gasheer het verlede week die eerste keer in tien weke gespeel toe hy in die halfeindstryd teen die Hoërskool Heilbron te staan gekom het.

Schweizer-Reneke het Heilbron met 24-21 geklop om sy plek in die eindstryd te bespreek, maar kan dalk steeds ’n bietjie verroes wees.

Koster – wat verlede jaar se eindstryd teen Komatipoort-akademie gewen het – was in vanjaar se halfeindronde heeltemal te sterk vir Morgenzon Landbou.

Die span se linkervleuel, Da­niel Kloppers, en die buitesenter, Dolf Burger, is twee agterspelers wat verlede jaar ook in die Beeldtrofee-eindstryd in aksie was.

Buiten dié duo sal die heelagter, Morné Aarts, en die vleuel AJ Lidderd ook belangrike rolle vir die besoekers vertolk.

In die agttal was die agtsteman, Neville Holmes, die slot Ian Verster en die haker, Gi­deon Fourie, ook lede van die seëvierende span van 2013.

Schweizer-Reneke het twee spelers in sy geledere wat die Luiperds op vanjaar se 51ste Cravenweek vir hoërskole in Middelburg (Mpumalanga) verteenwoordig het. Hulle is die agtsteman, Roodt van Zyl, en die skrumskakel, Jano Smith.

Van Zyl, agtsteman van Schweizer-Reneke, het haker vir die Luiperds gespeel.

Die span het ook in sy heelagter, Freddie Botha, ’n speler wat ’n gevaarlike skopskoen het.

Koster het vanjaar vir Chris­tiana met 36-15 verslaan. Schweizer-Reneke kon die einste span net met 15-12 klop.

Schweizer Reneke het slegs met 23-27 teen die Hoërskool Vryburg tydens die Puk 16-reeks verloor. Vryburg speel vandag in die eindstryd in die afdeling vir Medium-skole teen Hans Strijdom van Mookgophong (Naboomspruit). Vryburg was die Puk 16-reeks se kampioenspan.

Die spanne is: 

Kosterskool: 15 Morné Aarts, 14 AJ Lidderd, 13 Dolf Burger, 12 Claude Fouché, 11 Daniel Kloppers, 10 Christo Herholdt, 9 AJ Hoffman, 8 Neville Holmes, 7 Eugene Retief, 6 Sybrand Liebenberg, 5 Christiaan Ackerman, 4 Ian Verster, 3 Jason Struwig, 2 Gideon Fourie, 1 Pieter Pretorius. Plaasvervangers: 16 Fanie Fourie, 17 Jaco Pieterse, 18 Zane Venter, 19 Frikkie van Zyl, 20 Johann Jacobs, 21 Basil Swanepoel, 22 Zep van Wyk.

Schweizer-Reneke: 15 Freddie Botha, 14 Boikarabelo Mosime, 13 Pieter Taljaard, 12 Michiel van de Venter, 11 JG Terblanche, 10 Hanro Smit, 9 Jano Smith, 8 Roodt van Zyl, 7 Tshiamo Ntasi, 6 Johann Ekkerd, 5 Athuan Gerber, 4 Wian Ga­giano, 3 Benjamin Maass, 2 Thabang Mogamise, 1 Emmanuel Madihlaba. Plaasvervangers: 16 Rikus Jordaan, 17 Branden van Zyl, 18 Rudi Kotze, 19 Resego Gaborone, 20 Frikkie Visser, 21 Armand Naudé.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.