SuperSport Schools Plus

Schmidt se 60 help Klofies tot vyfpaaltjie-sege oor Eldos

By Franco Oberholzer , in Cricket | Featured Cricket | News , at 2025-08-13 Tags: , , , ,

FRANCO SCHMIDT, voorslagkolwer van Hoërskool Waterkloof, vier sy 50-tal. FOTO: Frans Lombard/Actionpix.

Die verdedigende kampioen van die Titans se Platinum A-liga, Hoërskool Waterkloof, het Dinsdag die nuwe krieketseisoen en sy titelverdediging as topskool in Pretoria op ‘n wennoot afgeskop.

Herleef al die Titans A-liga aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com) 

Die Klofies het vanjaar se nuweling in dié liga, Hoërskool Eldoraigne, welkom geheet met ‘n kliniese oorwinning van vyf paaltjies, waarin Franco Schmidt uitgestaan het met ‘n puik sestigtal. Dit was ‘n herhaling van die eindstryd in die Finsbury-liga vroeër vanjaar, toe die Klofies ook koning gekraai het.

Die Eldos het die loot gewen en besluit om eerste te kolf, maar die Klofie-boulers het vroeg-vroeg hul stem dik gemaak.

Darius Maritz (2/33) het vir Kyle de Bruin in die sesde beurt reeds teruggestuur kleedkamer toe. De Bruin is eerskomende Saterdag in Tzaneen ook in aksie vir die eerste span in Eldos se laaste wedstryd in die Bowl-afdeling van die SDC Noordvaal Cup teen Merensky Landbou Akademie.

Rivan Booysen het ook uitgeblink met die bal vir die Klofies, met twee paaltjies vir net 23 lopies in sy 9.1 beurte.

De Bruin se aanvangsvennoot, Ryno Mulder, het die aanslag van die tuisspan dapper trotseer terwyl die paaltjies om hom gekantel het. Dit was eers toe Ruan Steyn by hom aangesluit, dat die herstelwerk kon begin. Steyn was die besoekers se beste kolwer met 37 lopies, van slegs 36 aflewerings, terwyl Mulder hard gewerk het vir sy 30.

Die duo se terugvegpoging het die Eldos aangehelp tot ‘n totaal van 157, wat oplaas nie genoeg was teen ‘n sterk Klofie-kolfaanslag nie. Die tuisspan se kolfbeurt het nietemin ietwat wankelrig begin met Wian du Plessis wat uitgehardloop en AJ de Villiers se houtwerk wat deur Rowan McClaren (1/21) in die eerste beurt versteur is.

Dit het egter nie vir Franco Schmidt en sy warm kolf van stryk gebring nie. Schmidt het van voor gelei met ‘n aanskoulike 60 lopies. Paaltjiewagter en voorslagkolwer, Rico van der Walt, het met 33 lopies saamgespan vir ‘n 79-lopie vennootskap met Schmidt.

Kaptein, Riley Miller, het die kersie op die koek geplaas met sy bydrae van 28 lopies om die teiken in die 27ste beurt verby te steek.

Beknopte telkaart: 

Eldoraigne 157 (Ruan Steyn 37, Ryno Mulder 30, Marinus Langerman 20; AJ de Villiers 2/18, Rivan Booysen 2/23, Darius Maritz 2/33). Waterkloof 158/5 (Franco Schmidt 60, Rico van der Walt 33, Riley Miller 28; Benyael Morkel 1/21). Waterkloof wen met vyf paaltjies. 

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.