Sandveld-liga lewer spogrugby op

Die Sandveld-liga het Saterdag afgeskop, met die eerste ronde bepalings wat reeds opwindende plattelandse rugby opgelewer het.
Hoërskool Hoopstad se spelbreker op buitesenter, Hennie Barnard, het vir Wessel Maree Hoërskool eindelose kopsere besorg in Odendaalsrus. Barnard het ‘n kritieke driekuns behaal, asook ‘n verdere vyf punte met die stewel bygedra, in sy span se sege van 35-20.
Die tuisspan het strawwe weerstand gebied, met hul besige klein skrumskakel, Lesego Monyaki, wat twee keer kon druk en binnesenter, Kabelo Olphant, wat ook vyf punte bygedra het, maar dit was nie genoeg om die span van Hoopstad te troef nie.
Vuyo Nzunga, Hoërskool Bothaville se dinamiese heelagter, het 20 punte in hul wegholsege van 40-3 oor Hoërskool Hennenman aangeteken. Nzunga en haker, Paul Verwey, het elk twee drieë gedruk, terwyl eersgenoemde boonop met vyf doelskoppe geslaag het.
Hoërskool Wilgerivier het hul veldtog ook met ‘n stewige vertoning afgeskop deur Hoërskool Riebeeckstad met 51-14 onder stof te loop. Marnus Swart het ‘n driekuns behaal en HG Muller het ook twee keer gedruk.
Hoërskool Bultfontein het 29 punte sonder antwoord teen HTS Welkom aangeteken, met drieë deur Eddie Buys, AC Greyling, O’Ryan Oershon en Dylan Marais.
Die liga hervat weer op die 20ste April met die tweede ronde bepalings.
Puntemakers:
Hoërskool Hoopstad 35 – Drieë: Hennie Barnard (3), FP Graeme, AP Meyer, Busi Mfebe. Doelskop: Barnard. Strafdoel: Barnard. Wessel Maree Hoërskool 20 – Drieë: Lesego Monyaki (2), Kabelo Oliphant. Doelskop: Junior Moroke. Strafdoel: Nthute Tsotsotso.
Hoërskool Wilgerivier 51 – Drieë: Marnus Swart (3), HG Muller (2), Lihan Roets, Drihan Engelbrecht, Eduardu Muller, Thato Tsotetsi. Doelskoppe: Wian Muller (3). Hoërskool Riebeeckstad 14 – Drieë: Pule Sello, Lushaba Nhalanhla. Doelskoppe: Lerato Mangonjane.
Hoërskool Bothaville 40 – Drieë: Paul Verwey (2), Vuyo Nzunga (2), Francois Rossouw, Chris Engelbrecht. Doelskoppe: Nzunga (5). Hoërskool Henneman 3 – Strafdoel: Travis van Wyk.
Hoërskool Bultfontein 29 – Drieë: Eddie Buys, AC Greyling, O’Ryan Oershon, Dylan Marais, Deon du Toit. Doelskoppe: Nathan Booyse, Gideon Joubert. HTS Welkom 0.
Ander tellings:
B-liga: St Anne’s Technical 20, Theunissen 0; Salomon 31, Winburg 26; Sandveld 17, Welkom High 12.
o. 16 – Bultfontein 17, HTS Welkom 12; Bothaville 64, Henneman 0; Wilgerivier 42, Riebeeckstad 0; Hoopstad 40, Wessel Maree 12.
o. 15 – Bultfontein 21, HTS Welkom 0; Bothaville 38, Henneman 5; Wilgerivier 39, Riebeeckstad 5; Hoopstad 17, Wessel Maree 10.