Saints breek Hartswater se harte weer in Irawa-liga

St Andrews van Bloemfontein het vir die tweede jaar in ‘n ry die Griekwa mediumskole-liga kampioene, Hartswater, se Kovsiestreekkompetisie veldtog kortgeknip in ‘n riller van ‘n halfeindstryd in die Irawa-liga in Kimberley.
‘n Enkele punt het bepaal wie se seisoen verby is, en wie in die eindstryd ‘n kans sal kry om die Irawa titel te verower.
St Andrews was na 70 minute 37-36 voor en speel dan volgende naweek teen die gunsteling-span, Wilgerivier.
Kyk die wedstryde weer op SuperSport Schools – Registreer nou
Dit was die Vrystaters se kaptein en onderkaptein wat die verantwoordelikheid geneem het.
Matthew Simon, die vaskopstut en onderkaptein kon drie keur oor die doellyn bars, en sy kaptein en heelagter, Connor Nell, het 17 punte met ‘n drie, drie doelskoppe en twee strafdoelle bygedra.
Sy haker, Ioanni Giannakopoulos, het ook ‘n drie agter sy naam gekry.
Hartswater se onderkaptein, die losskakel, Jerome Davids, het ‘n barshou vir sy span gespeel en self 21 punte aangeteken met twee drieë, vier doelskoppe en ‘n strafdoel, maar die eindstryd is nog ‘n jaar vir die span van die Noord-Kaap.
Op.n stadium in die tweede helfte het Hartswater ‘n 29-20 voorsprong geniet, maar Simon kon die agterstand verminder deur om oor te duik vir sy tweede drie na sy groot voorry-makker, die loskopstut, Brett Barnes, die bal sterk gedra het.
‘n Derde drie vir St Andrews se staatmaker stut na ‘n goeie rolmaalbeweging gee toe vir sy span die voorsprong.
Davids se tweede drie het vir Hartswater vir ‘n oomblik weer die oorhand besorg, maar St Andrews se kaptein het in die hoekie oorgeduik na ‘n uitstekende langaangee deur sy ster-stut, Simon, vir wat uiteindelik die wendrie was.
Met 10 minute oor in die wedstryd moes die seuns van die Rosestad hul skraal voorsprong verdedig, en Hartswater het ‘n paar geleenthede deur hul vingers laat glip wat hulle op die ou end ten duurste gekos het.
Verlede jaar het Hartswater ook in die halfeindronde in St Andrews vasgeloop, en nadat die Bloemfonteiners teen halftyd nog met 31-14 agter was kon hulle terugveg om vir Hartswater met 38-31 uit te skakel.
Saints ontmoet volgende naweek vir Wilgerivier om te sien of die Irawa-titel ‘n staanplek in Bloemfontein of Frankfort sal kry.
Wilgerivier lyk nog heel seisoen soos ‘n goed geoliede masjien, en hulle kon 64 punte sonder antwoord teen Brandfort aanteken in hul halfeindstryd in Welkom.
Wilgerivier het verlede naweek reeds die Griffon-titel verower teen Bothaville met ‘n 29-14 sege.
St Andrews sal op hul beste moet wees om die besoekers in te perk, maar hulle wys al heel seisoen tekens van hul potensiaal en vind dalk nou op die perfekte tyd hul ritme.
Puntemakers:
St Andrews (Bloemfontein) 37 (20) – Drieë: Matthew Simon (3), Connor Nel, Ioanni Giannakopoulos. Doelskoppe: Nell (3). Strafdoelle: Nell (2). Hartswater 36 (22) – Drieë: Jerome Davids (2), Mi-Chaelle Moeng, Jonga Moholola, Takunda Chindenga. Doelskoppe: Davids (4). Strafdoel: Davids.
Wilgerivier 64 (31) – Drieë: Thlompo Motsapi (2), HG Muller (2), Tom van der Watt, Tiaan Hattingh, Ernst Richter, Marnus Swart, Jonty Graaff. Gerhardu Lourens. Doelskoppe: Tiaan Hattingh (7). Brandfort 0.
Ander tellings:
o.15 – Bultfontein 19, Hoërskool Bloemfontein 3; De Aar 29, St Andrews 10.