SA leer die res ‘n Rugbyles in Stellenbosch
Die fout in Suid-Afrikaanse rugby moet maar in die sisteme na skool gesoek gaan word.
Die Suid-Afrikaanse skolespanne was te sterk vir hul eweknieë vanuit Nieu-Seeland tydens die tweede jaarlikse Wêreld-skolefees in die Markotter-stadion hier.
In die 20 wedstryde gedurende dié fees het die Suid-Afrikaanse spanne die wedstryde teen die Res-van-die-Wêreld met ‘n gemiddeld van 44-19 gewen.
Die enigste span van die Res-van-die-Wêreld wat ‘n sege kon behaal was die Wêreldskole XV-tal. Die span het uit ‘n saamgestelde span wat vanuit Suid-Afrika plus drie Italianers bestaan.
Die span is deur SA Rugby saamgestel en het feitlik bestaan uit spelers wat moontlik vanjaar die SA Skole-span kan haal wie se skole nie ‘n uitnodiging gekry het nie.
Indien dié span se twee seges uit die prentjie gelaat word het die Suid-Afrikaanse spanne die wedstryde teen ‘n gemiddeld van 44-14 gewen.
In die hoofwedstryd van die week het Suid-Afrika se naasbeste span van 2018, Paul Roos Gimnasium, teen sy eweknie van Nieu-Seeland, Napier Boys’ High, met 62-7 as oorwinnaars van die veld gestap.
Napier Boys’ High het verlede jaar in die Nieu-Seelandse eindstryd teen St Peter’s College van Auckland met 28-31 die knie gebuig. Die goeie nuus is dat Paul Roos en St Peters se paaie waarskynlik later vanjaar tydens die Sanix-toernooi in Japan met mekaar gaan kruis.
Daar is ook duidelik ‘n streep in die sand getrek en Suid-Afrika se voorste skolespan vir 2019 behoort in die kragmetings tussen Paul Roos, Grey-kollege en Paarl Gimnasium beslis te word.
Paul Roos se vleuel Luke Burger het ‘n uitstekende dag op kantoor beleef en drie keer agter die doellyn gaan draai. Die loskopstut, Robbie Rodgers, senter Ruben Labuschagne en die losskakel, Kade Wolhuter, is almal spelers om van kennis te neem.
Grey-kollege het nie veel probleme ondervind om Southland Boys’ High met 54-0 af te ransel nie. Die Nieu-Seelanders het geleer uit sy nederlaag op die tweede dag teen Paul Roos (93-5) en besluit om te poog om die wedstryd stadiger te maak.
Grey se flank George Cronjé en slot Danwich Beukes is name wat in die toekoms nog baie van gehoor sal word. Agterlangs is die senter Lesley Botha ‘n klipharde speler wat nie sommer platgetrek word nie, terwyl hy ‘n paar manne hard na hul asems laat snak met plettervatte.
Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het amper die enigste Suid-Afrikaanse span geword om teen een van die oorsese besoekers die knie te buig.
Affies se heelagter, Dieter Crafford, het die skrumskakel, Michael van Aswegen, se drie met speeltyd reeds verstreke verdoel om die telling op 31-elk gelykop teen Christchurch Boys’ High te trek.
Boland Landbou het ook oor te veel skietgoed vir die Amerikaanse Skole XV-tal beskik. Die span van die Agter-Paarl het met 71-3 in die kragmeting geseëvier.
Boland Landbou se flank Jacques Mostert kan indien hy op sy vertoning in die wedstryd voortbou ‘n sterk aanspraakmaker wees om later vanjaar die SA Skole-span te haal.
Hilton College se linkervleuel, Joshua Cox, was met ‘n driekuns aan drieë die held in sy span se oorwinning van 34-15 oor die Italiaanse XV-tal.
Oos-Moot van Pretoria het sy titel as kampioen van die grootste rugbyweek in die wêreld, die Hansie-week in Mookgophong (Naboomspruit), behou deur in die doodsnikke vir die Hoërskool Klerksdorp met 15-14 te troef.
Sy skrumskakel, Keegan Kuhn, het met speeltyd reeds verstreke oorgeduik om aan sy span die naelskraapste van seges te besorg.
AL DIE UITSLAE:
WÊRELDSKOLEFEES
(Stellenbosch)
Saterdag: Paul Roos Gimnasium 62, Napier Boys’ High 7; Affies 31, Christchurch Boys’ High 7; Grey-kollege 54, Southland Boys’ High 0; Hilton College 34, Italiaanse XV-tal 15; Boland Landbou 71, Amerikaanse XV-tal 3.
Vrydag: Paarl Gimnasium 34, Hartpury College 12; Wêreld Skole XV-tal 25, SACS 20; Monument 48, John McGlashan 10; Glenwood 33, AP Dragons 10; WP Uitnodigingspan 33, Zambezi Steelers 30.
MAURITZ HANSEN-WEEK
(Mookgophong)
Oos-Moot 15, Hoërskool Klerksdorp 14; Witteberg 40, Lydenburg 24; Driehoek 16, HTS John Vorster 7; Hans Strijdom 41, Morgenzon Landbou 0; Hugenote (Springs) 19, Northcliff 19; Curro Nelspruit 39, Curro Hazeldean 7; HTS Tom Naudé 35, Erasmus (Bronkhorstspruit) 3.
VRIENDSKAPLIK
Welkom Gimnasium 44, Transvalia 22; St Stithians College 34, St Benedict’s College 31.
[powr-comments id=”ca45f193_1553965426457″]
- Grey College favourites once again to be crowned Champion of Champions - 2025-09-19
- RUGBY | Grey College – 2025 - 2025-09-18
- Witwarm Wilgies sal Prieska se Gadeija moet hokslaan - 2025-08-30