Ruwe diamante word van Maandag af in Kimberley geslyp
Die sesde Wildeklawer-toernooi vir o.13-spanne skop Maandag op Boeta Dippenaar-park in Kimberley af. Nie minder as 16 van die land se voorste o.13-spanne sal sake onder mekaar oor die volgende drie dae uitspook nie.
Al die wedstryde van die toernooi sal regstreeks op DigiTV.co.za uitgesaai word. Gaan skep u gratis profiel om na al die wedstryde te kyk.
Die gasheer, Laerskool Newton, sal in die voorlaaste wedstryd van die eerste dag teen die Laerskool Outeniqua te staan kom. Outeniqua het vroeër vanjaar vir George-Suid in die hoofwedstryd van die jaarlikse Marlow o.13-week met 54-5 kaf gedraf.
Outeniqua het in sy ander twee wedstryde vir Klein Boishaai (14-7) en Lochnerhof van die Strand (15-7) verslaan. Newton kan dus ‘n strawwe stryd verwag. Die span van die Diamantstad word deur die ervare Thinus Carstens gebrei. Carstens rig al langer as 20 jaar Newton se trots af.
In die hoofmaal op die eerste dag sal Laerskool Garsfontein van Pretoria en Grey-kollege Primêr teen mekaar sake uitspook. Grey word onder andere deur een van die Vrystaat se voorste skeidsregters, Pieter van Vuuren, gebrei.
Worcester Primêr behoort ook weer onder die voorste spanne in aksie op die toernooi te tel. Die span word deur André Cilliers afgerig. Cilliers het al onder andere HTS Drostdy se eerste span ook gebrei en is die broer van die voormalige Springbok-losskakel en bekende skopguru, Vlok Cilliers.
Die span van Worcester kom teen Op die Voorpos van Upington in sy eerste wedstryd te staan.
Sunridge Primary tel jaarliks onder die voorste skolespanne van die Oos-Kaap en sal in sy eerste wedstryd teen Jordania van Bethlehem te staan kom.
Die bepalings van Dinsdag se wedstryde sal eers na afloop van die eerste dag se wedstryde aangekondig word.
Die bepalings (29 April 2019):
[powr-comments id=”c6331368_1556478038683″]




