Rusties wil voortbou op momentum teen Klofies


Hoërskool Rustenburg, ná sy onlangse sege oor Hoërskool Nelspruit, word tans as ‘n besliste bedreiging beskou in die SDC Noordvaal Cup se Beker-afdeling.
Volg al die Beker aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Rusties, onder die wakende oog van die voormalige Cheetahs- en Stormers-losskakel, Naas Olivier, en sy afrigtingspan, het ontwikkel in ‘n afgeronde eenheid wat indrukwekkende momentum opbou. ‘n Wegsege Saterdag oor Hoërskool Waterkloof kan behoorlik die kat in die Beker-duiwehok loslaat.
Die Klofies het egter self ‘n momentum-inspuiting ontvang met hul sege van 27-19 oor Die Hoërskool Menlopark twee weke gelede, terwyl die loslootjie daarna ook welkom was.
Die blaaskans was ongelukkig nie lank genoeg vir Zack Jordaan om te herstel nie. Die Klofies se skrumskakel, wat deur die loop van die seisoen in ‘n gedugte skakelpaar ontwikkel het met kaptein, Ronan Bastiaanse, loop Saterdag se stryd mis weens ‘n kniebesering wat steeds pla.
Volgens breier, Cobus van Dyk, is dit nie ernstig nie, maar slegs voorkomend om vir Jordaan tyd te bied om volkome te herstel. Jacobus van den Berg neem sy plek op skrumskakel in, terwyl slot, Leander van der Westhuizen, afskuif bank toe met Phillip Mans wat sy kans in die beginspan kry.
Rustenburg het self twee veranderinge aangebring. Dirk Huisamen is hierdie week weer op agsteman in aksie met Thian Labuschagne wat in die nr 7-trui diens doen, terwyl Xander Stickling vir Jan-Paul Nel op loskopstut vervang.
Tjaart van der Walt keer terug na Hoërskool Monument met ‘n vuurwarm Helpmekaar Kollege, wat mik vir ‘n vierde agtereenvolgende oorwinning in vanjaar se kompetisie. Die Helpies is tans eerste op die Beker-puntelys en dit is duidelik hoekom.
Hulle verwelkom woelwater-kantman, Zian Smit, terug na ‘n besering. Hy sal egter van die bank af speel met die Helpies se lostrio, en vernaam oopkantflank, Zaiden Krige, wat uithalerspel lewer op die oomblik.
Die Wit Bulle van Krugersdorp sal nietemin oorgehaal wees om te vergoed vir hul eerste nederlaag in 24 jaar teen Hoërskool Noordheuwel verlede naweek. Monnas het reeds vanjaar gewys wat in hulle steek, soos met die wegholsege oor Jeppe High School for Boys vroeër vanjaar.
Die spanne:
Hoërskool Waterkloof t. Hoërskool Rustenburg om 13:30 in Pretoria:
Waterkloof: 15 Tiaan Posthumus, 14 Gustav Mienie, 13 Meyer Pretorius, 12 Dylan Botha, Jaiden Badenhorst, 10 Ronan Bastiaanse, 9 Jacobus van den Berg, 8 Marko Kok, 7 Dawid Prinsloo, 6 Divan Botha, 5 Heinrich Naude, 4 Phillip Mans, 3 Jedri Swart, 2 Ruan Jacobs, 1 Alexander Elliott.
Rustenburg: 15 Ayden Willemse, 14 Bradley Snyers, 13 Jon-Ré Jefthas, 12 Hendré Robinson, 11 Waide Davey, 10 Ricardo Enos, 9 Adriano George, 8 Dirk Huisamen, 7 Thian Labuschagne, 6 MJ Otto, 5 Evan van Heerden, 4 Tristan Myburgh, 3 Jayden Minnie, 2 Xavier Steenkamp, 1 Xander Stickling.
Monument t. Helpmekaar Kollege om 12:30 in Krugersdorp:
Monument (moontlik): 15 Ewan van der Walt, 14 Jason Joubert, 13 Viandré van Loggerenberg, 12 Juandré Ehlers, 11 Ruan Genis, 10 Cameron Kourie, 9 Evan Berhardi, 8 Ryno van der Westhuizen, 7 Regard Ernst, 6 Siya Ncube, 5 Dean Hartman, 4 Vincent Roberts, 3 Janco Pretorius, 2 Reghardt Ernst, 1 Danie Smith.
Helpmekaar Kollege: 15 Ty Ax, 14 Xander van Niekerk, 13 Clinton Cloete, 12 Ethan Lourens, 11 Francois Tonkin, 10 Wian Storm, 9 Shaye Lourens, 8 Lewelyn Vermaak, 7 Zaiden Krige, 6 Sydney Nicholson, 5 Eugen de Lange, 4 Diandro Botha, 3 Dylan Engelbrecht, 2 Keanan Combrink, 1 Liam Devenier.